Banting en uiteet

Maankind het my nou gedagtes aan die dink gesit met haar skrywe oor haar etery terwyl sy op toer was. Gaan lees gerus haar “Banting op Reis.” Soos sy ook sê: Kan dit wees dat daar nog soveel restaurant-eienaars is wat nog nie weet van die “nuwe eetgewoonte” wat soos ‘n veldbrand deur die land versprei nie? 😉 Ek is nogals jammer of teleurgesteld dat sy dit nie maklik gevind het om uit te eet nie.

‘n Vriendin wie kort gelede begin Banting het, vra my wat sy kan eet toe hulle die aand gaan uit-eet. My antwoord aan haar: “Uiteet is SOOO maklik vir Banting.” Restaurante maak mos nie kos vir verslankers nie! So jy kan jou glasie rooiwyn geniet (die boek sê droë wyn), en dan kan jy enige vleis of vis op die spyskaart bestel en vra dat hulle die skyfies/aartappels/rys los en dit vervang met slaai. Dalk is daar verafgeleë, klein dorpies wat probleme het om vars slaai voor te sit, maar die meeste eetplekke het darem sowaar ‘n stukkie kropslaai, tamatie en komkommer! Jy mag heerlik smul aan slakke in knoffelbotter of enige van die tabóé’s van voorheen. Jammer, maar jy mag nie van die nagereg eet nie!

Die groot geheim? MOENIE DIE WOORD BANTING GEBRUIK NIE! Want sekere restaurante sal wil geld maak daaruit.

Daar is ‘n eetplekkie op ons dorp waar ek graag ietsie eet. Eintlik is dit net ‘n Coffee Shop wat ligte kos bedien.  Sy het ‘n heerlike omelet met ‘n vulsel van jou keuse, of ‘n tuna- of hoenderslaai. Heeltemal geskik vir Banting. By ‘n ander eetplek op ons dorp wat lieflike boerekos vir middagetes verskaf, kan jy self skep. Daar is gewoonlik twee vleise en stysels wat jy net eenvoudig uitlos en groentes. Jy kan ook kies tussen ‘n groot verskeidenheid slaaie. Toe die Wimpy nog bestaan het op ons dorp, kon ek ‘n lekker “No Bread Breakfast” bestel.

Steakhouses is die minste probleme van almal! ‘n Spyskaart te kus en te keur vir ons Banting ouens. 🙂

Maar binnekort gaan ek op ‘n staptog waar alles voorsien word, ook die kos… Ek wonder darem of dit nie maar ‘n styselstaptog gaan wees nie!

Al probleem van uiteet is, is dat jy nie regtig beheer het met wat op en in die kos gegooi word nie. Maar my ervaring is dat uiteet eintlik baie maklik is, behalwe natuurlik die Pizzaplekke.

En WEGNEEMETES is ‘n groot probleem. Aan watter wegneemete kan jy dink wat nie stysel in het nie? Winkeleienaars, julle sal moet DINK! Hier’s ‘n lot mense wie nie meer stysel eet nie. (Salami, neute, ‘n stukkie gaar hoender…)

Lekker eet

Toortsie

Ns. Loer gerus by ons faceboekblad. Ek plaas daar oulike bloginskrywings wat ek raakloop.

10 thoughts on “Banting en uiteet

  1. Op die plekke waar ons by plattelandse restaurante geëet het, was slaai beslis ‘n probleem, en groente was soet pampoen! Niks anders was beskikbaar by twee plekke nie, Soetpatats wel. Of papgekookte gemengde gevriesde groente op ander plekke. Vleis was nie soseer die probleem nie, maar ek kon tog nie ‘n bord vol steak eet nie?

    Like

  2. Jy sê net geen nagereg nie, en ek skip Banting met ‘n groot sprong. As ek stysel moet uitsny gaan ek so maer soos ‘n riet word. Dus sê ek maar viva la stysel!!! 🙂

    Liked by 1 person

  3. Ek probeer ook die banting ding so op my eie manier. Die stysel is nie so moeilik nie maar ai, die suiker! Meeste van die kere is ek redelik soet (hehehe) maar raai wie het vanaand ‘n “Bubble” tjoklit geeeet? xx

    Liked by 1 person

    1. En daar is my kommentaar weg vir die 2e keer! Ek mag seker nie vir jou antwoord nie. 😦
      Ek het ook ‘n soettand. Dit help vir my om vir my ‘n Banting soetigheid te maak. Dan kry ek nie so lus vir die ander goed nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!