Oor vis

Wat ek nie altyd kleintyd besef het nie, is dat hierdie omgewing se mense, of eerder, manne, baie lief is vir visvang. Die rede hoekom dit by my verby gegaan het sonder dat ek dit besef, was dat my pa nie vis gevang het nie. Sy broer het verdrink toe ‘n brander hom van ‘n rots afgeslaan het, en hyself is ook een keer amper die seewater in met ‘n visvangery.

Ons het, soos baie boere hier rond, seegrond gehad, ‘n weidingsplaas wat aan die see gegrens het. In die laat 1970’s, vroeë 1980’s het die regering die meeste van hierdie seefrontplase opgekoop vir veiligheidsredes glo. Dié grond het die Overberg Toetsbaan, ‘n lugmagbasis en ‘n vergrote De Hoop Natuurreservaat.

Hierdie seegrond was wel vir ons ‘n bron van die heerlikste galjoene, want vissermanne wie deur my pa toegelaat was om te kon gaan visvang, het altyd gesorg dat ons ook vis kry.

Toe ek later jare as getroude hier kom woon het, het my pa weekliks vir my ‘n vars vis gebring. Dié visse is direk by vissermanne gekoop. Toe my pa dood is, het my vars vis opgedroog, behalwe as ons op Struisbaai se hawe ‘n vis sou koop. Toe is dit maar boksies vis. Nou ja.

‘n Ander moontlikheid was natuurlik snoek.  Iemand sal, as die snoeke goed loop in die Kaap, ‘n bakkievrag vol snoeke gaan koop en kom smous. Ons het dan sommer 60 gekoop sodat ons werksmense ook toegang het tot die vis. Maaarrr daar is ‘n gevaar aan. ‘n Mens kan pap snoeke kry op so ‘n manier, so ek is maar versigtig.

Nou die dag hoor ek op RSG dat iemand iets sê van vars vis koop by Checkers. Kan jy glo ek het dít nog nooit gekliek nie? Ook maar simpel! Daar lê die lekkerste, klein snoekies. Mmmm … Ek sit dit net so oop met rugkant na onder op ‘n bakplaat, met stukke botter en knoffelflokkies en suurlemoensap bo-oor gestrooi en bak dit in die oond. Onverbeterlik! Hoe lank daarna lek ek nog my lippe af. En ja, dis Bantingvriendelik.

Dankbaarvircheckerstoorts

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Banting, LCHF, Kosdinge. Bookmark the permalink.

29 Responses to Oor vis

  1. ButterNut sê:

    Ek koop sommer vars snoek by Woollies en sit dit dan in die oond (synde dat hier nou nie eintlik see hier naby is nie … 😉 )

    Liked by 1 person

  2. seegogga sê:

    Mmm snoektyd is mos nou hier. Ek sal gaan loer daar ny checkers…..

    Liked by 1 person

  3. scrapydotwo sê:

    Sal snoek moet verengels om te sien wat dit hier genoem word. Ons super winkels het almal vars vis afdelings. Dis omdat ons seker maar n eiland is en altyd naby die see is

    Liked by 1 person

  4. scrapydotwo sê:

    Toe vind ek n interssante stukkie uit n koerant van 2012. http://www.nzherald.co.nz/nz/news/article.cfm?c_id=1&objectid=10851371

    Like

    • Toortsie sê:

      O gits! Die “snoek” wat ek gekoop het het baie soos SNOEK geproe. Ek hoop dit was regtig snoek. 🙂

      Like

      • scrapydotwo sê:

        Oh no, wonder of daar so groot verskil is. Mits jy natuurlik Suid Afrkaans wil ondersteun!

        Like

        • Toortsie sê:

          Ek verkies SuidAfrikaans. Veral by vleis. Wou nou die dag beesstert koop toe sien ek dis ingevoer. Het dit net daar gelos.
          Dink nie ek voel so erg oor vis nie.
          Ingevoerde vleis is teen die beskerming van Suid-Afrikaanse boere. Swak kwaliteit oorskot vleis van ander lande word goedkoop hier gedump.

          Like

          • scrapydotwo sê:

            Stem saam oor vleis. Hier voer hul ook vleis in en dit is net nie reg teenoor boere hier. Ergste is dat op n stadium lewendige skape opgekoop is deur China. Dis gelukkig stopgesit sover wek weet. Dis erg genoeg dat diere lewendig na slagpale vervoer word laar staan nog verskeep word.(Dis regtig wreed )

            Liked by 1 person

  5. nowathome sê:

    Yummy sommer lus om nou ‘n stuk vis te gaan koop!

    Liked by 1 person

  6. Hier in Hermanus is ‘n viswinkel met lekker vars vis, geelbek, geelstert, stokvis ea. Soms is die visse baie groot, ons het nou die dag ‘n geelstert van 5,2 kg gekoop, en dan kos hy R250, 00! Maar ons wou gaste uit die Noorde beindruk met ons aangeleerde Kaapse vis slimmigheiden moes maar hoes!
    Soms koop ons wel by Checkers, en was nog nooit teleurgesteld nie.

    Like

  7. Korrelkop Kahuna sê:

    Van vis en vis koop weet ek nou nie juis veel nie, want vis is mos groente en ek eet nie graag groente behalwe as daar ‘n skeurbuik geval aan die uitbroei is nie. Wat ek wel goed onthou is die oggende saam met oupa Tienie voor in die Chev C10 as ons van Bonnievale af gery het na Die Dam toe…of van Die Dam af na een van die naburige plase toe waar die boer vir oupa toegelaat het om lyn nat te maak. Ek onthou hoe hy daai Chev so blou gerook het dat ‘n mens skaars deur die voorruit kon sien en hoe die kombinasie van ‘n 7 voet lyf en 15 voet vistok die sinker kon laat klein raak oor die horison as hy ingegooi het

    Liked by 4 people

  8. HesterLeyNel sê:

    Ons het ‘n “Fresh Fish Factory” hier waar ek gevrieste snoek koop ?! Ek sit dit saam met botter, uie en vars pietersiele in een van daai tinfoeliebakke en stoot hom so tussen die kole in terwyl die vleis gebraai word. My gesin mag nie vis eet nie (nie omdat dit groente is nie Korrelkop, maar omdat hulle allergies is vir jodium), so ek ek het ‘n hele gebraaide snoek vir myself waaraan ek na hartelus smul saam met aartappelslaai en knoffelbrood. Of saam met varsgebakte brood uit my oondjie, regte botter en korrelkonfyt wanneer ek ‘n ou botteltjie uit die Kaap kry.

    Like

  9. Sparkle sê:

    My pa braai die lekkerste snoek met suurlemoensap en appelkooskonfeit. Oe jinne! Hoe lus raak ek nou daarvoor. Ek onthou kleintyd het Pa somtyds in die aand gaan visvang langs die see. Dan het ons vuur gemaak en na die sterre gesit en kyk terwyl die branders voor ons gedruis het.
    Dis was magical. My suster was baie lief daarvoor om die vis wat my pa gevang het se tande te borsel. (Regte borsel en tandepasta inkluis!)

    Like

  10. Kameel sê:

    Dink dit is tyd om hier rond te skimp dat snoek op die kole darem nou lekker sal smaak.

    Liked by 1 person

  11. Ek hou darem ook ‘n lekker stukkie vis.

    Like

  12. Liza sê:

    Hi Toortsie, Ek en my man eet nou al ‘n 10 maande LCHF, nadat my man (so ‘n snerts jonger as sestig ) ewe skielik begin kla het dat hy vet voel.

    Binne ‘n japtrap was die oortollige ses kilogram weg, maar die grootste plesier en openbaring is dat hy nooit meer sooibrand kry nie. ten spyte van stres.

    Ons is beide weer op trou gewig (van 31 jaar gelede), maar dis nie werklik waaroor dit gaan nie. daar is ‘n nuwe eenvoud in hoe ons eet, kook van “scratch” af, maak ons eie roomys, en is eintlik minder behep met kos in die algemeen.

    Like

  13. Ek is mal oor dit ‘behandel’ met apppelkoos konfeit en peper, omring deur uie,en soms tamatie by met foelie aangetrek op die braai vuur (My ma was ‘n Kapenaar en sy het met die resep groot geword.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s