My taal, o my taal

Eendag, lank gelede, op ‘n nuwejaarsoggend, het ‘n trol wie ‘n sleg oujaar beleef het, my erg beledig oor my taal, oor ek opgewonde is oor mense wat in Afrikaans skryf op hul blogs, oor Suid-Afrikaners wat in die buiteland steeds my taal praat en dit selfs in die buiteland probeer bevorder. My taal bly steeds my taal, die taal waarvoor ek lief is, die taal waarin ek met my kinders en kleinkinders praat, waarin ek bid, waarin ek vry.

Ek is nie een wat eintlik aan protesoptogte en veldtogte, boikotaksies en petisies deelneem nie. Die ouens wat lief is vir sulke maniere van aksies, sal sê ek is ‘n draadsitter, wat ek beslis nie is nie. Ek weet presies waar ek staan, waarin ek glo, daar is net verskillende maniere van doen.

So lief soos ek vir my taal is, besef ek dat Afrikaans maar een van 11 tale in ons land is, en seker nie die taal wat deur die meeste mense gepraat word nie. Ons kan dus seker nie aandring dat Afrikaans spesiale behandeling moet geniet nie.

Op ‘n stadium het afrikaanse advertensies erg verminder en afgeskeep geword, maar dit voel tog of daaraan aandag gegee word. Ek was nog altyd gewoond dat daar darem op my kruideniersware Afrikaans ook verskyn, tot ek vanaand my koskas deurgekyk het en behoorlik ontnugter is! 😦 Stilletjies, sonder dat ek besef het, het die afrikaanse woorde by die agterdeur uitgesluip.

Ek het eers by myself gedink dat ‘n mens dalk die handelsmerke wat nog Afrikaans op het, moet ondersteun, maar helaas, dán gaan ons honger ly.

Ná baie gesoek, was Selati suiker darem daar met Afrikaans op. Waar bruismeel altyd aan die een kant Engels was en aan die ander kant van die pakkie Afrikaans, is dit nou weerskante Engels. All Gold tamatiesous praat nog Afrikaans. Rooibos tee se enigste afrikaanse woord, is “rooibos”. My bakkie neute het ook een afrikaanse woord op, en dit is die handelsmerk, “Padkos”. Die slaghuis se boks sê Excelsior plaasvars vleis. Mrs Balls het my nie teleurgestel nie, haar afrikaanse klante is nog belangrik vir haar. Marina Braaisout is nog Afrikaans en Cartwrights Kerriepoeier het selfs ‘n afrikaanse hoenderkerrieresep op! En dit, dames en here, is die somtotaal van Afrikaans in my koskas.

Dis sulke tye wat ek maar net meer en meer besef: Niemand anders gaan ons taal vir ons beskerm nie, net ons kan dit doen. Ons kan aggressief daarop aandring en dalk nog meer mense afsit, of, ons kan sorg dat die Afrikaans wat ons praat en skryf, van goeie gehalte is. Ons kan ook goeie afrikaanse musiek ondersteun en afrikaanse boeke, tydskrifte en koerante koop. En skryf op blogs! Solank ons Afrikaans praat en sing en skryf, sal dit nie sommer uitsterf nie.

Intussen, lyk dit my, kry ons Engels sommer saam met ons oggendkoffie in.

Lekker slaap! Toortsie

So ‘n nágedagte: Ek is só dankbaar WordPress se base weet dat Afrikaans vir ons belangrik is en dat ons ons blogging in Afrikaans mag doen. Dankie, WP, julle is bobaas! 🙂

32 thoughts on “My taal, o my taal

  1. Jy’s reg, ons moenie toelaat dat die Taal afsterf nie – hy praat lekker. Ek is nogal verbaas dat ons hier in Natal vreeslik baie mense raakloop wat Afrikaans praat. Ek bedoel nie die vakansiegangers nie – hulle is almal Gautengers in elk geval. Ek bedoel die winkeleienaars, die werkers en die ander afgetredenes wat hier woon. Ons praat soms ‘n mengelmoes, maar daar is ‘n goeie skoot Afrikaans by.

    Liked by 1 person

  2. Praat jy nou, Toortsie! Ek onthou hoe onthuts ek was toe Robertson se Speserye iewers in die jare negentig besluit het om hulle tweetalige etikette met eentalige Engelse etikette te vervang. Nou kan die jongmense nie meer op die botteltjies sien dat ‘nutmeg’ eintlik neutmuskaat is en ‘cinnamon’ kaneel nie, om van borrie en wonderpeper nie eens te praat nie… Ag, en die mooie woord ‘blatjang’ – ek gaan koop sommer ‘n klomp bottels ‘Mrs Ball’s’!

    Liked by 2 people

    1. Die dierbare, liewe, tannie Ball’s! 🙂 My skoonsus was so opgewonde toe sy Mrs Balls in ‘n winkel in Australië raakloop. Die winkelier het dit spesiaal vir die Suid-Afrikaners aangekoop. 🙂

      Liked by 1 person

  3. Ek is nie so bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie Die jongmense van vandag sing Afrikaans en is mal oor Afrikaanse musiek. Dit sing lekker en dans ook lekker. Onderdruk net die taal en dan sien jy hoe die boere terugskop! Dit is die taal wat die derde meeste in SA gepraat word en mense wat dink dat dit beter is om hulle kinders in Engels groot te maak, maak ‘n groot fout. Afrikaans word wereldwyd gepraat en is belangrik vir die verstaan van Hollands en Vlaams en Duits in die hartjie van Europa. Ons moet net sorg dat ons kinders Afrikaans grootword en trots op hulle taal is, dat hulle weet dat die mooiste beskrywende woorde in Afrikaans is, daarom dat Suid-Afrikaanse Engels ontwikkel het in so ‘n mate dat Oxford ‘n wooreboek van Suid-Afrikaanse Engels uitgegee het en daarom is daar ook so baie Afrikaanse woorde in Fanagalo ( Kyk na Tsotsi) is

    Like

    1. Ek is ook nie so bekommerd oor die toekoms van Afr nie, dit was maar net vir my amper ontstellend toe ek sien hoe als, ook in my huis, verengels, en ek het dit nie eers besef nie. Sjoe

      Like

      1. a i vir my ook erg. wat ook vir my erg is as mense van welbekende plaaslike organisasies( waar 95% van almal Afrikaans praat) toekennings in Engels kry omdat die hoofkantoor inTransvaal so besluit het.

        Liked by 1 person

  4. Ek het my naam verander van karinsegriffels na KleinKitti – nou’s ek bekommerd dat ek my volgelinge verloor het. Kan jy my laat weet asb? Nie seker hoe om dit te bepaal nie. 😦

    Like

      1. Ja ek het gedink ek MOET en dalk was dit n8e die regte ding nie maar dis gedoen gedaan gefinish. Mense wou ook al die tyd Karen ipv Karin met n I wat oom tot verdere verwarring lei. Kan verstaan. Maar nou is dit kleinkitti – met of sonder die e op die end – as jy dit kan lees soek maar asb.

        Like

      1. Dit was.n gestoei. Ek wou kleinkitti sonder n e hê. En dis so op die blogopskrif. Maar toe ek iarinsegriffels probeer verander toe sê dit net so – kleinkitti is verwyder en di wassie ekkie want ek was dan nog nie sy hier nie. So nou is dit kleinkittie met n E op die end in die webtuiste adres maar sonder die e op die opskrif. Ek weet ek maak myself bietjie gek maar kom reg en leer. Dalk sal die blog tog êrens koers en vatpkek kry. Ai ek wens nou ek kan net erens n kleinkitti (met of sonder die e) waai wat karinsegriffels se volgers mooi kan lok. Hoe? …. bromgrombrom vir my self …. sal uitfigure. Nou skyn die son en tegnologie wag tot vanaand. Ai ek hoop jou toorts kan help om die anxer hierheen te lei. Lekker dag.

        Liked by 1 person

  5. Dolend op het internet, hoppend van blog naar blog kom ik hier lezen en reageren.

    Met bewondering en respect lees ik deze taal.
    Begrijpen doe ik veel, herkennen doe ik ook.
    Toch is deze taal een eigen en andere taal.

    Met plezier lees ik hier.

    Zonnige groet,

    Like

          1. Dolend op het internet, hoppend van blog naar blog ben ik hier komen lezen en reageren.

            De volgorde van welk blog op welk moment ben ik zelf vergeten.

            Vriendelijke groet,

            Like

Gesels saam, asseblief!