Die VET in ‘n Hoë-Vet-Lae-Koolhidraat dieet

Mense se reaksie is nogals interessant wanneer gepraat word van die VET in die Banting dieet. Ek kry die indruk mense dink jy sit en eet sulke dik stukke harde, spierwit vet. Hulle GRIL behoorlik.

Ek moet sê, ons ís so gebreinspoel oor Lae vet en GEEN vet, dat net die gedagte aan vet ‘n nie-vet eter laat gril. Maar ek belowe jou, dis heel anders as wat jy jou voorstel. ‘n Brandmaer, jong meisie wat voel dis vir haar ‘n maklike, lekker manier van eet, sê nou die aand vir die grillendes: Julle eet in elk geval net so. En dis so waar! Ek laat my nie vertel dat ons vleiseters hier in die Rûens, wie lief is vir bredies, die vet weggooi nie!

Die groot verskil is net dit: Die hoendervel wat ek in elk geval in die verlede geëet het, of dit nou ongesond was of nie, MAG ek nou eet en ek geniet dit voluit. Netso, die heerlike, bruingebraaide vet aan die tjoppie,  waarvan ek , as ek skelmpies in die pot geloer het, afgesteel het, eet ek nou met smaak en geniet elke oomblik. Want wat is lekkerder as ‘n stukkie bruingebraaide vet aan ‘n tjoppie? En wie hou nou nie van avokadopeer nie?

Toe ek sê wat ek in my yskastert sit, gril die grillendes voort. Roomkaas, room en LowCal jellie. Nou wonder ek? Gril hulle vir hulle Kaaskoek wat hulle maak, wat ook Room en Roomkaas in het, MET NOG KONDENSMELK BY?

Die idee van Banting is nie dat jy hompe vet eet nie. Dis net dat wanneer jy die koolhidrate (suikers en stysel) sover moonlik probeer uitsny, jy begin konsentreer op kosse met ‘n hoër vet-inhoud. So jy sal meer eiers eet, jy sal die eiers in botter gaarmaak, in plaas van groente- of plantolie. Op hierdie punt, ek belowe jou, as jy eers gewoond is aan eiers in botter gebak, gril jy vir die olierige eiers wat jy in ‘n restaurant kry. Ek vervang die witsous wat ek oor groente sou gooi, net met room, wat héérlik is. Die room het ‘n heilsame nasmaak wat jou goed laat voel, geliefd laat voel, wat jou laat voel jy het lékker geëet.

Wie is nie lief vir kaas nie? Wie gril vir kaas en dink dis ‘n stuk vet?

In elk geval, ek is nou 8.5 maande op Banting, ek kon al amper ‘n baba gebaar het in hierdie tyd, en ek is regtig gelukkig daarmee. My doel is steeds nie om jou te oortuig om dit te doen nie, en sou jy dit wou doen, spreek eers jou dokter. Maar wat ek wel weet, vandat ek op Banting is, eet ek baie lekker, ek hoef nie honger te ly nie, en ek vul myself met gesonde kos.

Groete

Toortsie

20 thoughts on “Die VET in ‘n Hoë-Vet-Lae-Koolhidraat dieet

  1. Daar is nie ‘n manier op hierdie liewe aarde waarop my maag banting kos sal kan hanteer nie. En ja, ek sny die vet tot van bacon af voordat ek dit gaarmaak Vir my eie beswil.
    Het in die week by my dogter banting “chips” geeët…. lyk soos slapchips maar is pampoen.

    Like

      1. Sal haar vra. Dit was heel smaaklik.
        Kon van kindtyd af nie vetterige kos of room eet nie; het galaanvalle gekry. Nie dat dit my gekeer het nie…. oxtail, ribbetjie en al daardie lekker dinge…. en dan het ek maar die nagevolge gedra. Met grysheid kom wysheid 😉

        Liked by 1 person

  2. Sy koop die pampoen wat soos chips gesny is. (Nie gevrieste groente nie) Sit in oondpan, Gooi olyfolie oor. Sprinkel met sout, peper en rosemary. Bak in oond tot gaar. Geniet.

    Like

  3. Die pampoen chips klink lekker. Hier gebruik hulle patat om chips van te maak. Hul droog selfs patat en word in pakkies soos Simba skyfies verkoop. Nogal nie sleg nie! Daardie vetjies maak die smaak tog lekkerder.

    Like

    1. Gewone pampoen is op die groen lys, wat beteken jy mag baie daarvan eet. Butternut en patat is op die oranje lys… wat beteken… versigtig! 🙂 Ek wonder watter pampoen in die sakke sal wees?

      Like

      1. Wat van lemoenpampoentjies? Dit kom sommer nou by my op! Hier kry mens nie rerig ons regte boerpampen nie. Dis heeltemaal n ander pampeon soort. Sal ook biejie kyk wat hul dit noem.

        Like

  4. Mens kan chip vorm gesnyde pampoen koop by checkers. Dis njammies. Ek het so maklik afstand gedoen van my aartapels en rys, dis nie eers snaaks nie. En suiker. Ek het die afgelope drie weke (is ‘n maand nou op banting) geen suiker cravings nie. En die steekse 15 kilos wat nog vasgesit het, is nou 3 kilos minder. Ek is ‘n Banting Bekeerde 😀

    Like

  5. Ek stem saam met jou. Ek en my man volg ook die Banting-leefstyl sedert September 2014. Hy was op 3 soorte medikasie vir bloeddruk (hy is 29) en vandat hy gewig verloor het hoef hy glad nie meer die medikasie te gebruik nie en het die dokterBanting vir hom aanbeveel om gesond te bly. Ons het ook ‘n groep op Facebook begin (Banting – Homemade Recipes) waar ons ons eie idees en resepte deel.

    Like

Gesels saam, asseblief!