Ekself was nooit ‘n goeie versamelaar nie, tog dink ek ons almal het maar ‘n versamel-geen in ons. Dit wat ons versamel is dalk net nie altyd noemenswaardig nie! Hierdie bloginskrywing is in antwoord op Scrapydo se opdrag: Skryf oor versamelaar/versameling.
Die tipe goed wat ek versamel, maak nie van my ‘n versamelaar nie. Toe ek nog baie naaldwerk gedoen het, het ek graag ‘n mooi patroon gekoop, nie noodwendig omdat ek dit gaan maak nie, maar omdat ek wil weet hoe dit werk. Ek sou dan die aanwysings lees soos ‘n boek! Deesdae versamel ek weer al wat boek is wat ek dink ek nog graag sal wil lees op my e-leser. Nie Africana nie, sommer net boeke! Mag ek oud genoeg word om almal te lees! Op Pinterest versamel ek hekelpatrone, bantingresepte, en wat ook al, en op ons Faceboekblad versamel ek oulike bloginskrywings wat ek raakloop. (Is dit die moderne weergawe van kaggelgoetertjies? 😉
‘n Versamelaar wat, vir my, by uitstek uitstaan bo almal, was tannie Mags van Ouplaas. Sy het bottels versamel. In haar huis het sy ‘n groot slaapkamer rondom al die mure met rakke toegerus, tot bo teen die plafon. Daar was nie twee bottels wat dieselfde was nie! Hulle was gesorteer volgens kleur, vorm, en nog maniere. Nou nekkies met wye magies, of regop botteltjies, of vet, ronde botteltjies. Almal moes van glas wees, tog dink ek sy het later ook ‘n paar plastiekbottels gehad. Grotes, kleintjies, vreemde vorms… Parfuumbottels. Die omgewing se mense het geweet sy versamel bottels, en sou hulle iewers ‘n vreemde bottel sien, het hul dit graag vir haar gebring. 🙂 Ek weet nie of sy 1500 bottels gehad het of selfs 3000 nie, maar dis BAIE. Toe sy aftree en weg trek van haar huis, het die bottelversameling ‘n probleem geword. Niemand het kans gesien om verantwoordelikheid daarvoor te neem nie, maar dit kon ook nie sommer net weggegooi word nie. Tans word ‘n klompie van die bottels by die Skeepswraksmuseum op Bredasdorp uitgestal.
‘n Versamelaar wat my mond laat oophang het, was die oom wat ons in Ermelo gaan besoek het. Hy het ‘n ongelooflike versameling trekkers, ou motors, vliegtuie en selfs orrels! Kyk bietjie my bloginskrywing hieroor.
Wanneer ek sulke ware versamelaars sien, hang my mond oop. Ek bewonder hulle dat hulle soveel geduld aan die dag kon lê om aan te hou en soveel te versamel dat dit later iets raak wat mense moeite voor doen om na te kom kyk.
Vir die versamelaars hier rond: Hartlik geluk!
Vir ons ander outjies…
nou ja…
Toortsie
‘n Dag laat! Die belangrikste versameling het ek vergeet! My man versamel keppies… ek voel dit aan my vel, is selfs soms grillerig om in sy kantoor rond te loop want ek weet nooit wanneer my 8 potige “vriende” iewers uit een uitloer nie!
Lekker man, ek is ook maar een van die gewone outjies! Tog is my versameling vir my waardevol. Ek dink die bottel tannie het seker maar baie stof ook opgegaar. (Ha nou dink ek daaraan , dit wat ek doen is meer opgaar as versamel!) Dankie vir jou lekker bydrae.
LikeLike
Die stil kind het parfuumbottels versamel… dankbaar om te sê dit het nie in die duisende getrek nie 😯
LikeLike
Ek onthou toe ons klein was, het my suster hulle so die skryfblokpapier met die prentjies op versamel. Pauses was ernstige uitruilsessies en al die prentjieblaaie is gewoonlik in ‘n skoenboks onder die bed of klerekas gestoor.
LikeLike
Ja! En klein skryfboekies en servette! Ek was nooit goed daarmee. Het baie gou oor die doel daarvan gewonder.
LikeLiked by 1 person
Ons het klein geskenkies soos geparste blommetjies, ‘n lekkergoedpapiertjie of ‘n ou fliekkaartjie gehou ter herinnering aan die jeugromanses. Ons het dit “keepsakes” genoem.
LikeLiked by 1 person
Blomme in ons Bybels gepars! Of handboeke. 🙂
LikeLiked by 1 person
Lekker gelees dankie
LikeLike
Sjoe maar dis vir jou n klomp kepse. Het hy almal gedra of is dit nuwes en oues deurmekaar?
LikeLike
Twyfel of hy almal gedra het. Die ding van ‘n versamelaar…
LikeLike
He he, netso
LikeLike