Diere, trane en dies meer

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Diere

Ek is nie ‘n dieremens nie; nie dat ek nog nooit lief was vir ‘n dier nie, inteendeel.  Daar was al ‘n paar liefdes in my lewe waaroor ek getreur het soos ‘n mens oor ‘n mens treur, wanneer hulle nie meer daar is nie.  Een van my groot liefdes was die swart en wit katjie met die bloedrooi strik om haar nek, wat oom Oberholzer een Sondagmiddag vir my gebring het.  Hy het my die vorige dag in trane by die winkel gesien, en toe hy vra wat verkeerd is, gehoor dat my kat daardie oggend doodgery is.  Die volgende dag bring hy vir my die katjie, en ek noem haar “Geluk.”  Ek en Geluk was onafskeidbaar; maar toe ons later jare trek het sy net verdwyn.  Deur die jare was daar nog katte waaroor ek gehuil het, en toe op ‘n dag roep ek halt.  Geen katte meer vir my nie, dankie.

Camilla
Camilla

Ek was nooit ‘n hondemens nie, dit is tot Camilla gekom het.  Sy was ‘n opreggeteëlde Maltees, met ‘n indrukwekkende pedigree, en het my hart verower soos geen kat dit ooit kon doen nie.  Ek was so ontsaglik lief vir haar, en toe gaan sy dood.  Na weke se gehuil, en die erge gemis besluit ek dat ek nooit weer my hart vir ‘n dier sal oopmaak nie.  Dit is egter makliker gesê as gedaan. Vandat ons in die stad kom bly het, lewe ek tussen skoonseun se rottweilers, en hulle het ‘n manier om al vretende aan jou plante, ‘n pad na jou hart toe oop te grawe.

Daar was Brasco en Tanaka. Brasco, die groot ou teddiebeer met sy sagte hart, en groot liefde vir die befoeterde Tanaka.  Ek sien hulle nou nog voor ons agterdeur sit; hy met sy voorbeen beskermend om haar lyf.  Maar jy moes jou nie met hom misgis nie; hy was net ‘n teddiebeer vir sy huismense, buitestaanders moes maar ligloop vir hom.

So hoor ons een nag ‘n dringende gehamer aan die Voëlnes se dubbeldeur.  Ek en Ken kyk mekaar verdwaas aan.  Wie op aarde kan dit wees?  Wie sou dit verby die twee rottweilers waag?  Ken gaan kyk, en vind ‘n angsbevange swart vrou by die deur.  Die twee honde blaf nie; hulle het die vrou teen die glasdeur vasgedruk, en grom verwoed.  Sy durf dit nie waag om te beweeg nie.  Flitslig in die hand kom skoonseun nader.  Hy wil van die vrou weet hoe sy die erf binnegekom het, maar haar oë staan stokstyf in haar kop, en geen geluid kom oor haar lippe nie.  Eers toe skoonseun die honde aan hulle halsbande van haar af wegtrek, kom dit uit dat die bouers wat agter ons – in die halfklaar huis slaap – haar oor die muur gejaag het. Seker om te sien wat die rottweilers gaan doen.

“Nou gaan jy terug soos jy gekom het,” sê skoonseun.  Intussen sukkel hy om die twee honde vas te hou; hulle rem met alle mag aan die halsbande.  Die vrou begin muur se kant toe beweeg, eers stadig maar dan al vinniger.  Net voordat sy die muur haal, ruk die honde skoonseun van sy voete af, en sleep hom oor die gras agter die vrou aan. Hoe die vrou oor daardie ses voet muur gekom het, weet ek nie.  Maar sy was net betyds.

Intussen staan Marlè – wat die petalje deur die venster dopgehou het – en ons by die voëlnes, en lag dat die trane loop.  Die prentjie van die 6 voet 6 lange man wat deur twee honde oor die gras gesleep word, is te kostelik.  Die stukkie humor was net die “tonic” wat ons nodig gehad om die spanning te breek.

Daar is nog Rottweiler stories; maar hulle kan wag vir ‘n ander dag.

13 thoughts on “Diere, trane en dies meer

    1. Dit is erg om daardie besluit te neem. Maar dit is vir hulle beswil. Sovêr is al die rottweilers dood aan kanker en ‘n mens wil hulle nie so sien ly nie.

      Like

  1. Dankie vir jou deelname. Ek het ook n Rotweiler ervaring wat ek kan vertel Hul is beslis nie almal se maters nie al beweer suster T die teendeel. Hul bly maar onvoorspelbaar as dit by die punt van veg of vlug. Ek het self ook besluit om nie weer diere aan te hou nie. Dit het my netmooi 2 jaar geneem om tog maar weer n hondekind te kry. Ek eis party dae as hy iets moet oor kom

    Like

    1. Ek huil elke keer wanneer een van die rottweilers uitgesit word, maar dit is nie daardie getreur soos oor jou eie hond nie. Dit wil ek nie weer beleef nie. Hulle is baie kwaai, en baie “protective.” Ek sal nie sommer by ‘n erf inloop waar hulle is nie.

      Like

      1. Stem saam. Hul is onvoorspelbaar. Ook stille bekruipers en dit is beslis gevaarlik. Die uitsit is vir my ook verskriklik. Ek besef dis ten goed maar steeds is dit erg

        Liked by 1 person

  2. Haai, die arme vrou! Ek sou vir haar ‘n koppie tee (met iets sterks in 😉 ) aangebied het en haar by die hek uitgelaat het…
    I.e.g. dis snaaks hoe verskillend mense is. Ek vrek oor my diere, en wil nie eens dink daaraan dat hulle ooit kan dood gaan nie. Maar ek sal altyd weer diere kry. Daar is net te veel diere sonder huise, dat ek nie voel ek so selfsugtig met my gevoelens kan wees nie. Elke dier is dankbaar vir ‘n huis.

    Like

    1. Nogal aan jou gedink terwyl ek hierdie skryf 😉 Nee Karen, ek het my deel vir die dieresamelewing gedoen…. en genoeg gehuil ook. Dit is hoekom daar dieremense soos jy is!!!! Open heart, open home 🙂

      Like

  3. Ek is maar katvoet vir die rotties doberman en boerboelrasse, tog sal ek graag nog vir my ‘n bodyguard wil aanskaf. Tans het ek 6 diere en ek sal vreeslik graag nog wil he maar mens moet in ag neem dat hulle elkeen aandag verdien en dit gaan al klaar rof! 🙂

    Liked by 1 person

    1. Dit is soos kinders…. elkeen soek sy aandag. Ek sal definitief (moeg opgesoek hoe om defenitief, definitief te spel) nie in ‘n erf inloop waar daar groot honderasse is nie. Rottweilers is wonderlike honed vir hulle eienaars… maar pasop vir die wat nie aan die huishouding behoort nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s