Toorts se toeka tokkel oor Inryflieks en sommer flieks ook

Daar waar ek op die plaas grootgeword het, was ons maar ver van alles af en het nie juis Saterdagaande ver rondgery nie. Die naaste inryfliek was by Riviersonderend wat ‘n hele entjie van ons af was. Ek kan tog onthou van ‘n keer of wat wat ons daar gaan fliek het. Ek was eintlik nog baie klein.

As ek reg onthou, het daar kelners rondgeloop by wie jy ‘n koeldrank kon bestel. Hul het dan die eet- en drinkgoed met ‘n skinkbord gebring en so aan die voorruit vasgehaak.

Dit laat my dink, by die petrolpompe het dit ook so gewerk. Jy kon jou hamburger en koffie bestel, en dis dan op ‘n skinkbord gebring en ook so aan die voorruit gehaak.

Ek het nie vreeslik rondgeloop by die inry nie, het maar eerder by my ouers in die kar bly sit as ons wel die keer daar was.

Ons moes parkeer by ‘n klanktoestelletjie wat jy dan in jou motor gesit het om die klank te hoor. Al fliek wat ek jou kan onthou wat ons by Riviersonderend gaan kyk het, was “My broer se bril.”

Een keer het ons, toe ons ‘n naweek daar rond was, by Somerset-Wes se inry “Chitty Chitty Bang Bang” gaan kyk wat ons natuurlik baie geniet het. Ek dink tog ek sou dalk bang wees in die storie.

Ek was maar baie keer bang in ‘n fliek as kind. By Bredasdorp in die Regal teater het ons ook net soms gaan fliek. Die blankes het onder gesit, terwyl die anderskleuriges op die galery gesit het. Daar was altyd ‘n pouse wanneer ons iets lekkers gaan koop het.  My ma het nie sommer enige fliek gaan kyk nie, ek onthou wel “Die seders val in …” (waar het die seders nou weer geval?) En die sedes?

In my laerskoolkoshuisdae het ons gaan kyk na “Onrus op Cariba”. Ag ek was seker so 10 jaar oud.  Vir dié wie nie weet nie, ons het as groep soontoe geloop, netjies twee-twee in ‘n ry. Almal gaan saam en almal kom saam terug. Ek was angsbevange in die fliek. Teruggaan koshuistoe was nie eens ‘n moontlikheid nie. So, ek sit ‘n paar minute, dan raak dit te erg. Druk oë en ore toe, maar dit help niks. Dan gaan sit ek in die kleedkamer vir ‘n rukkie, gaan terug om weer te probeer kyk, net om weer uit te storm. Hul het aan die begin van die fliek gesê ons moenie loop ná die tyd nie, hul het vir ons ‘n verrassing. En raai wat was dit? Die regte Kaptein Caprivi in lewende lywe! Sjoe!

Nou ja, deesdae met al die feeste is dit nie meer vreemd om die sterre in lewende lywe te sien nie, maar ek moes darem eintlik nou die aand vir Kortjas ‘n handdruk gaan gee het by die KKNK. Maar nee, ek is mos nie aperig nie’

Amper vergeet ek die beste inryfliekstorie! In standerd 9 gaan kuier ek by ‘n vriendin in die Kaap. Sy had ‘n kêrel en hul wou gaan inryfliek kyk. ‘n Pel met ‘n karretjie word saamgenooi en ons 4 is toe daar weg. Ek en die vreemdeling sit voor, die twee duifies agter. Die linkervoorsitplek het ‘n probleempie gehad, hy was nie vas nie, so as ons wegtrek, sit ek op die agterste mense se skoot, stop ons, soen ek die ruit. Dis al wat ek onthou. Die outjie het NIE ‘n vinnige vryery opgetel nie.

Groete Toorts
Wayerkloof. Is dit nie waar die vallery was nie?

In opdrag van Scrapydo.

20 thoughts on “Toorts se toeka tokkel oor Inryflieks en sommer flieks ook

  1. Ha ha, ja dis in Waterkloof ( rykmansbuurt in Pretoria) waar die Seders geval het. Jy laat my nou lekker lag oor jou ondervindings. Ek het n “date” met n dosent gehad – inry toe en hy raak toe vatterig. Ek ry toe sommer met die radiotjie weg, pluk hom mors af en sê die ou moet hom sommer net buite neersit. Woerst weg is ons(ek het bestuur)

    Liked by 1 person

  2. Ja, ek onthou die films. Sal nooit vergeet die eerste fliek wat ek in my lewe gesien het (het baie konserwatief grootgeword) was ook in die koshuis: Vicki. Geen uitsonderlike fliek, maar omrede dit my eerste in my lewe was onthou ek dit tot vandag toe.

    Kaptein Caprivi in lewende lywe? Sjoe, jy was gelukkig daardie jare…

    Like

    1. Na alles wat ek deurgemaak het… vrees en bewing… !! 🙂
      Van konserwatief gepraat, in my eerstejaar op universiteit het ek en my vriendin die dag EKONOMIE moes BANK om Blue Lagoon te loop kyk. Kan jy glo! Onheilige mense!

      Liked by 1 person

  3. Ek onthou dat daar duskant Hartenbos se rivier ook ‘n inryfliek was wat films gedurende die Desember vakansie gespeel het. Die vakansiegangers het somtyds dit reggekry om die regte frekwensie in hul motors by hul vakansierondawels op te tel en dan het hulle sommer saamgekyk. Ek dink daardie inryfliek is tussen 1993 en 1996 afgebreek.

    Die kere toe ons inryfliek toe is het altyd gepaard gegaan met groot opwinding. Ek kan nou nog die asyn reuk onthou van die slapchips wat in die kafee verkoop was.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!