Ons eet steeds lekker

Dis nou 8 maande sedert ek begin het om die “Banting” eetplan te volg, waar ek alle stysels en suiker probeer uitsny.  Aanvanklik het ek dit baie streng gevolg, alhoewel ek tot vandag toe nog nie ‘n Banting-brood, banting-beskuit, en al die blomkooldinge soos blomkoolrys en blomkoolmash gemaak het nie. Ek jok! 😯 Ek het een keer blomkoolmash gemaak.

Ek maak wel ‘n Roomkaaspizza as ek baie lus het vir pizza.  In my vrieskas het ek ‘n paar pakkies Low Carb snytjies brood, maar dit word regtig net in uiterste gevalle gebruik, as ek nie lus het om iets te maak nie en sommer net ‘n snytjie brood wil geniet.

My gewig het gestabiliseer. Ek het ‘n goeie klompie verloor, en dit sal goed wees as ek nog ‘n paar kilogramme kan verloor, maar op hierdie stadium neem dit nogals lank net vir een kilogram, waaroor ek eintlik bly is, dan hou jou klere darem langer. 🙂 My eetprogram het ook gestabiliseer. Die laaste aartappels wat ek gekoop het het sleg geword, en toe ek gister ‘n koek vir die huishulp wil bak, sien ek die meel is ook nie meer wel nie. Ons is aangepas by die eetplan. Die skaal speel so in die radius van ‘n kilogram op en af…

Tog het hier klein jakkalsies ingesluip. Ja… My vrug op ‘n dag is soms ‘n piesang en nog twee turksvye ook. Ek konsentreer nie meer so baie op room nie en gebruik deesdae baie min spek. Salami is nie meer daar nie. Ek eet sommige dae meer neute as nodig, dalk minder kaas en maak gebruik van my een maal per week kroek.

‘n Paar dae terug besef ek ek sal ‘n bietjie meer moet let op wat ek maak. Die room raak meer in die kas. Dit beteken ek koop room, en gebruik dit nie. Sommer dadelik ‘n spinasietert gemaak met genoeg feta, bacon, kaas, eiers en melk in, en toe dit op is, sommer weer ‘n aspersietert met bloukaas, ens. Toe ek vir die gesin ‘n soet tert maak, iets wat lank laas gebeur het, vertel my “body language” my hier kom ‘n fout. Dadelik maak ek vir myself ‘n roomkaastert (roomkaas, room, ‘n pakkie Low Cal jellie), sommer sonder die kors,  waarin ek behoorlik weglê. Pinterest leer my van die lieflikste room varktjops, room oor die groente… en binne drie dae… glimlag die skaal vir my. 🙂

Nou nie kilogramme nie, maar hy beweeg in die regte rigting. Ek ook. 🙂

Groete

Toorts

Soos altyd is dit nie my bedoeling om enige persoon te oorreed om die Banting eetplan te volg nie, ek skryf net my eie ervaringe neer. Sou jy besluit om dit te doen, spreek eers jou dokter, soos ek ook gemaak het.

Loer by Pinterst vir my Banting resepte.

15 thoughts on “Ons eet steeds lekker

  1. Ek sien met my dogter ook, dan is die wangetjies rond dan is die gesig weer skraler. Dit is juis sy wat so lief is vir die kombuis, en die heerlikste brood bak, konfyt kook ens.

    Like

  2. Ek volg nie die Banting dieet nie, maar het na ‘n bloedglukose skrik suiker en stysel uitgesny en het ‘n paar kg verloor–die lekkerste is dat ek nou ‘n skaaptjoppie met vet en al geniet, tot teleurstelling van die twee werfhonde wat altyd die vetjies gekry het!

    Like

  3. Klink tog of dit wel werk. Weet nie veel van eet en nie eet nie. weet wel dat ek besig is om swaarder te weeg want my broeke sit bietjie stywer as wat moet wees.Sal moet plan maak

    Like

Gesels saam, asseblief!