Iewers ruik ‘n rot…

Dit voorspel nooit iets goeds as iemand sê hulle ruik ‘n rot nie. Dan word onderduimsheid, skelmspel gewoonlik vermoed.

Maar om regtig ‘n rot te ruik… is nie… ‘n goeie ervaring nie. 😦 Glad nie.

Hier by ons op die plaas is mos maar muise en rotte as gevolg van die graan  en voer waarmee gewerk word. Daarom hou ons buite katte aan.

Om ‘n uil in die Overberg te hoor roep, is ook nie snaaks nie en dit voorspel nie jou dood, soos soveel glo nie.

Muise is uilkos. En slangkos. 😯  Ek lees die laaste tyd gereeld op faceboek dat daar slange in die mense se huise of tuine was. Nou die aand ná bybelstudie het hier by ons ook ‘n slang by die voordeur verby geseil… Ek hoop hy’s weg!

Op ‘n stadium was hier baie katte rondom die huis, soveel so dat ek gesê het dis vir ‘n muis veiliger IN ons huis as buite. Jare gelede het ek ‘n muisplaag hier in die huis gehad en ons kon dit net nie beheer kry nie, totdat ons sulke masjientjies gekoop het wat ‘n, vir mense, onhoorbare klank afgee. Of dit dít is wat gewerk het of iets anders, maar die muise het tog minder geword.

Die laaste tyd gewaar ons telkens ‘n muis in die huis.

Net vir die rekord: Muise en Rotte is NIE wat kinderboeke van hulle probeer maak nie!. In die veld is dit dalk ‘n ander ding, maar tussen veevoer en in ‘n mens se huis is hulle ‘n verpesting. Wanneer ‘n muis byvoorbeeld in ‘n strooibaal ingaan en daar vrek, en ‘n bees eet daaraan, kan hulle baie siek word.  In huise doen hulle groot skade.

So ontdek ons huishulp verlede Maandag ‘n lewendige rot in ons spaarkamer. Ons hét al orals sakkies gif uitgesit, en mens moet so uiters versigtig wees dat die kleinkinders nie dit in die hande kry nie. ‘Sy ontdek toe ook ‘n klein, dooie, muisie, beslis nie die een wat sy lewendig gesien het nie.

En toé begin die reuk.  Ons het gesoek en gesoek maar kon net nie die dooie rot kry nie. Ek dink hy was in die muur tussen ons kamer en die spaarkamer. Die stank! Jig!

Teen Sondagaand begin dit beter raak, toe die kleinkinders hier kom slaap het. Ek gaan slaap met die een in die spaarkamer, maar die stank was onuithoudbaar, soveel so dat ons weer trek…

By verdere ondersoek vanoggend… lê die dooie rot toe onder die bed. 😯

Julle willie wetie! 😦

Jek!

Toorts

Toortsie se Faceboekblad.

 

25 thoughts on “Iewers ruik ‘n rot…

  1. Dit is die ergste stank daardie. Kort-kort is hier rotte op die erf. Hulle maak nes bo ons slaapkamer se dak….. jy moet die geraas hoor. Het al besem gegryp en teen plafon geslaan om hulle stil te kry. Gif word in die dak gegooi… dan hoor jy hoe rol hulle dit rond. Kry partykeer ‘n gevrekte een in die tuin, dan is dit vir tyd stil, asof hulle geskrik en getrek het. Maar die rotte keer altyd weer terug. Kannie kat aanhou nie… die rottweilers sal kleingeld van hom maak 😦

    Like

  2. My ma het onlangs die aaklige plaag in haar woonstelletjie gehad. Die woonstel is skaars groot genoeg vir haar om in te bly, nou moet jy weet hoe oorbevolk dit is met ‘n rot of twee ook op die koop toe. Sy het gif uitgesit, maar toe sy die dooie muis/rot (groter as ‘n muis, maar kleiner as ‘n rot) in die stort kry, wou haar hart breek oor die dooie diertjie. Toe google ons – enige iets van katpiepie of die gebruikte sand van ‘n kat tot slangpoef werk, want waar hulle dit ruik, kom muis nie naby nie. Maar ja, daarvoor sien nie een van ons kans nie. Toe hoor ons van peppermint druppels – sommer die essential oil enes. Jy sit dit op ‘n wattebolletjie en sit die wattebolletjie naby plekke waar hulle kan inkom of binne-in gate. Die skerp geur maak hulle onseker of dit veilig is, en nadat my ma die wattebolle oral neergesit het, is daar nie meer sprake van muise of rotte nie! En die woonstel ruik heerlik! Hulle sê ook mens moet sommer oral kruisement plante ook aanhou. Dit dien dieselfde doel.

    Liked by 2 people

  3. Die peppermentolie klink vir my na n goeie plan. Het juis nou met die twee weke toe ek die Japanese studentjie gehad het n muispetalje gehad. Klein klits(Kleinste ou veldmuisie!) hol sommer bedags in my sitkamer rond tot Trompie se ontsteltenis. Die aand help die meisiekind my om aandete voor te berei. Sy trek velletjies v tamaties af en woerts hol die muisie langs muur op die wasbak verby. Ek keer hom voor, hy hol terug verby haar. Sy is toe gladnie bang nie, net verwonderd oor die muis in die huis. Daar is toe ook in haar kamer miere wat ingekom het deur venster. Dit was n ander storie- sy het almal met n lawaai en n geraas doodgedruk! Insekte is vir haar erger as muise!

    Like

          1. Hier lag ek nou alweer kliphard. Het jy dit toe hardop gelees, en gehoor hoe klink dit??? Daardie bril gaan maak dat ons glo jy het ‘n problem met die bottle 😆

            Like

      1. Ja, ek stem , dis nie aangenaam nie! Hier kan rotte ook lekker op plafon rondvroetel. Dan strooi ek maar weer die gif! Ek is agter by nywerheidsgebied en daar is baie van die goed hier rond

        Like

  4. Ek Jek! saam. Ken hierdie storie goed van rotte en muise in jou huis op plase. Daar is niks so sleg en vrot soos ‘n dooie muisreuk nie. En ja, soms kan jy hom soek en soek en soek. Hul vrek op onmoontlik plekke.

    Like

  5. Mens moet net versigtig wees vir die gebruik van muisgif. Somtyds kan ‘n kat ‘n vergiftigde muis vang en eet. Dan is dit klaar met kietsie! 😦

    Die muise het ook al lekker gebaljaar in my garage en self in van die kampstoele ‘n creche begin! Dit was nogals vreeslik erg, toe ons die gargage van hoek tot kant begin skoonmaak en die babatjies daarin kry.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!