Toorts se Toeka Tokkel: Seisoene

Al waarvan ek bewus is, is die wind wat om my ore suis. Dit, terwyl ek beur teen die bult uit, wind-op. Met die gaanslag was dit maklik, toe was die wind van agter en dit was afdraend, ek het behoorlik gevlieg. Maar met die terugkomslag was dit ‘n ander storie. Gaan jy net om ‘n draai, waai die wind jou amper van balans af so van die kant af.

Hier by ons kry jy sommer 4 seisoene in een dag, sê hulle altyd. Vanoggend het begin met lieflike, sagte winterreën. Toe ek weer sien, skyn die son en kon ek komberse was en dit nog droog kry. Nou waai die wind  jou behoorlik om.

Hier naby die see is dit maar lief vir wind. Blykbaar met die seestrome te doen wat hier bymekaarkom, of so iets.  En temperatuurverskille. Sommige jare is hier baie meer wind as ander jare, en as dit ‘n winderige winter is… oeeee… nie goed nie. Dan voel dit vir jou of die Oostewind vir 4 dae aanmekaar waai, en skielik kom die Noordewind en waai al die vorige 4 dae se wind weer terug, net vir Oos om die volgende dag weer aan te gaan.

Scrapydo sê ons moet oor seisoene skryf. Kameel skryf so mooi oor die seisoene van die lewe en dat die winter so moeilik is. “Seisoene” is deesdae ‘n “buzz”-woord wat ‘n mens orals hoor.

Die lewe kan ook in korter seisoene ingedeel word, selfs al is jy binne die “lente” of die “herfs” van die lewe. My ma het altyd gesê dat slegte dinge in sarsies kom. Goeie dinge natuurlik ook! Dis mos al asof, as dit begin sleg gaan, sommer ‘n klomp goed verkeerd loop, en dan skielik, een dag, besef jy dat daar ‘n tyd verby is wat dinge nie meer so verkeerd loop nie, of jy deur die “winter”-seisoen is, en dan, in die hersteltyd van die “lente” kry jy weer moed vir die somertyd wat voorlê.

Ek is, wat natuurlike seisoene aanbetref, liewer vir die winter as vir die somer. As dit so verskriklik warm is, raak ek skoon moedeloos. Reën gee lewe, ook vir my. Tog, as dit net sou reën in die winter met geen sonskyn nie, raak selfs ek ook maar mismoedig.

Maar as ek ‘n slag so in die wind gestap het… is baie spinnerakke in my kop sommer weggewaai. 🙂

Groete

Windverwaai Toorts

 

17 thoughts on “Toorts se Toeka Tokkel: Seisoene

  1. Ek hoop die reën het die Weskaap ook getref om die brande se eina te begin gesond maak. Oe, maar julle mag maar die wind hou, dit maak my net onrustig (en my hare deurmekaar!). Ons beurt vir lente en somer, joegaai 🙂

    Like

  2. Mooi verwoord, die deel oor lewe se seisoene. Die liewe wind is hier ook maar ongeskik as hy so voel. Wellington(NZ) is bekend vir wind, nie net wind nie maar WIND. Ek dink dit het ook met die see en die suidpool te doen. Warm somer is hier korter as koue nat wintermaand. Hier is ook winterreën.
    Dankie vir deelname ek wardeer dit baie

    Like

  3. Wens ‘n mens kon in die wind gaan stap en dit waai vir altyd al die seer, en trane uit ‘n mens se lewe uit. Maar eers in die seisoenlose hemel sal daar geen trane meer wees nie.

    Like

    1. Kameel, die wind waai dalk nie alles weg nie, maar soveel keer in my lewe het ek daar, in die stappad, in die wind, in sonskyn, in reën, daar in die natuur met God as my enigste geselskap, weer antwoorde gevind, of heling. Maar nie oornag nie.

      Like

  4. Ja – erge hitte maak my ook moeg, vernaam met die gloede saam. Verkies ook die winter eerder. En ja, my arme man werk ook heeldag in die winde en weer met sy lugdrukwater boormasjien. Kry hul so jammer …

    Like

  5. Pragtig beskryf en geskryf 🙂

    Ek hou daarvan om langs die see te stap as die wind storm. Dan is die see op sy mooiste so onstuimig. Ook as die wind waai en dit reen saggies, dan maak ek my venster wyd oop sodat die gordyne hul windbollings kan maak.
    Ek is dankbaar ek het nog nie in die Kaap se Suidooster vasgeloop nie. Die mense hang regtig aan pale om regop te bly!

    Like

Lewer kommentaar op Sparkle Kanselleer antwoord