My hart huil saam met Stellenbosch

 

Sondag het die Van der Ster gebou by die Universiteit van Stellenbosch afgebrand.  (Ek het die foto verwyder, ek het dit nie geneem nie.)

My hart huil. My hart huil as ‘n gebou afbrand. My hart huil nog meer as dit so ‘n pragtige ou gebou is wat deel is van die karakter van ‘n dorp. Maar my hart huil omdat ek verbintenisse met daardie gebou het.

Ek het daar klas gehad. In daardie gebou lê heelwat van my spore.

Ek dink ek het in my eerste jaar daar Wiskunde gehad, en in my tweede jaar, Bedryfsekonomie. Ek kan baie goed onthou hoe ek en my man in ons eerste jaar, kort nadat ons begin uitgaan het, op die trappies voor die klas staan en grappies maak het. Ons het sekere vakke saam gehad, maar ek dink nogals ek het soms van die klasse saam met hom bygewoon, wat ek eintlik in ‘n ander klas moes doen.

Die Van der Ster gebou het so ‘n groot lesingsaal gehad.

My kinders het saam met moedersmelk die gedagte ingekry dat hulle eendag by die Universiteit van Stellenbosch sou gaan studeer. Dit was ‘n gegewe. Hulle was ongeveer 8 jaar oud toe ek en hulle een naweek Goudini Spa toe was. Die pappa het vloedskade in die Karoo te herstel, dis hoekom ons alleen daar was. Ek besluit toe om vir hulle die Universiteit te gaan wys. Ons het oor Du Toit’s Kloof Pas gery en nie deur die tonnel nie, omdat ek nie baie van die tonnel hou nie. Dit was ook ‘n goeie ondervinding vir die kinders, omdat ons mos nie eintlik meer oor die pas ry nie. In ons studentedae het ons Paasnaweke het ons buffer-aan-buffer gesit as ek saam met my kêrel (nou manlief) Karoo toe was. Dit was angswekkend.

Terug by my kinders vir wie ek die Universiteit wou gaan wys. Ek wou sommer hê dat hulle ‘n prentjie in hulle kop moes kry, iets wat hulle kan visualiseer, iets waarheen hulle werk.

Hulle het skoolgegaan in ‘n kleine plaasskooltjie wat op daardie stadium ‘n volle 35 leerlinge gehad het. In die ou dae was daar net een klaskamer. Toe my oom oorlede is in 1930, het my oupa sy beleggingsgeld gebruik en nog ‘n klaskamer aangebou. In my Graad Een jaar is ‘n derde klaskamer aangebou, en ons was die eerste leerders wat daar kon skoolgaan. 🙂 Dis die somtotaal van die skool.

Van alle plekke wys ek hulle toe die lesingsaal in die Van der Ster gebou. Die verbasing op die gesiggies was genoeg beloning. Hulle hele skool sou minstens 10 keer daar kon inpas!

‘n Plek kan afbrand, maar herinneringe bly…

Groete

Toorts

Onthou om op ons faceboekblad te kyk vir oulike bloginskrywings.

12 thoughts on “My hart huil saam met Stellenbosch

  1. Dit is beslis baie hartseer. Jy kan hierdie skrywe sommer vir die nuwe toeka-tokkel gebruik. Geluk/ongeluk. Gelukkig dat jou kinders dit darem nog kon sien en beleef

    Like

  2. Het geen verbintenis met die gebou nie, maar het skoon hartseer gevoel toe ek gister, of was dit nou eergister vir my man daarvan vertel. Ou geboue het mos karakter. Mooi herinneringe wat jy het!!!

    Liked by 1 person

  3. Ek wou nou juis vra of die hele gebou toe afgebrand het; gelukkig nie! Sulke herinneringe is goud werd 🙂 Ek sal so voel as iets op Potch so moet afbrand. Maar eintlik is dit tragies vir elke ou gebou. Hopelik word dit gou herstel.

    Like

Gesels saam, asseblief!