Skinderstories

‘n Vriendin is ontsteld omdat dieselfde skinderstorie oor haar uit verskillende monde, deur dieselfde oorspronklike mond versprei, by haar uitgekom het.

Kyk, die een wie die oorspronklike storie versprei het, se mond moet met Sunlight Seep uitgespoel word, maar wie se nekke ek wil omdraai, is hulle wat, goed bedoelende, die storie kom aandra het. Ek wonder baie keer of die “aandraers” nie meer skade doen as die oorspronklike skinderbek nie.

Jare gelede is ek deur die plaaswerkers beskuldig dat ek ‘n growwe skinderstorie versprei het, wat natuurlik nie waar was nie. Ek het met hulle oor 2 goed gepraat, wat vermeng is in een totaal onwaar, gruwelike storie. Ek was woedend en het almal ingeroep en hard en duidelik die ware toedrag van sake vertel, en ook dat ek nie tot daar sal daal waarvan hul my beskuldig nie.

Wat maak jy in so ‘n geval? Probeer jy dit regstel? Gaan praat jy met die een wat die storie versprei? Is dit dalk meer olie op die vuur?

So ‘n storie kan jou baie seer maak. Sommer hartseer, maar ook sosiaal seer. So ‘n storie het gewoonlik “iets” van die waarheid in, wat heeltemal buite verband geruk is.

Dalk moet ‘n mens tog, as dit dan nou vir jou oorvertel is, luister daarna en werk maak daarvan AS DIT NODIG IS. Dit reg leef, soos ‘n vriendin voorgestel het. Jy weet wat jy weet, en deur dalk nie te veel te reageer nie, loop die storie sommer dood. Ek het dit al gedoen, dit dood geleef, omdat mense ook glo wat hul sien.

Karring jy te veel daaraan, is dit soos wind in ‘n vuur, dán loop die storie sommer behoorlik, want die skinderbekke kan weerskante dophou!

Party stories kan regtig skadelik wees.

Hierdie is dalk nie so ‘n seermaakstorie nie. Ons hele gesin is een keer Australië toe om by die familie te gaan kuier. Dit was in die tyd wat hier so ‘n uittog van Suid-Afrikaners was. Vier dae voor die tyd hoor ek dat ons emigreer, altans, dis hoe die storie loop.

“Toevallig” kom die bron van die storie daardie selfde oggend by ons kantoor ingestap. Ek bied vir hom koffie aan, en terwyl ek dit maak, babbel ek onophoudelik. Ek vertel hom dat my man so ‘n fantastiese werk by ‘n boer in Aussieland gekry het, en dat die juweelmaatskappy wie se juwele ek op daardie stadium gesmous het, gevra het dat ek ‘n tak in Australië moet gaan oopmaak. En ek las aan. Die arme man! 😯 Hy het nie ‘n woord ingekry nie! Hy het net sy koffie vinnig gesluk en is daar uit. 😉

Ek bel my man net daar en vertel hom die storie. Net soos dit nou maar moet wees, loop manlief hom net daarna raak en borduur voort, vertel van die boerdery, ens…

Nou ja, ons is hier weg, en wat van die storie geword het, weet ek tot vandag toe nog nie. Maar die ou het ‘n Groot Storie gehad om te vertel, soos gehoor uit die perd se bek. 🙂

Ons móét maar versigtig wees met wat by ons monde uitgaan, veral as dit oor iemand anders is… goedbedoeld of te nie.

Toorts

Ek plaas oulike bloginskrywings op ons Faceboekblad. Loer gerus daar.

14 thoughts on “Skinderstories

  1. Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel! Ja jong die storievertellers kan tog so n groot ding veroorsaak met hul verkeerde feite

    Like

  2. Stel Nie belang in skinderstories nie. Wil dit nie hoor nie…. nog minder oorvertel. My vriendin het nou eendag vir my daarop gewys dat ek die enigste plek is waar sy nie skinderstories hoor nie. Dink ek het dit van kleintyd af by my ma geleer; sy wou geen sleg van ander mense aanhoor nie.

    Liked by 1 person

  3. My man het die gewoonte by die werk gehad om as iemand ‘n storie van ander vertel, die persoon in te lig dat hy die onderwerp van bespreking sommer dadelik gaan inroep en sy kant wil hoor. Hy duld geen skindery nie. Ek glo dat die waarheid altyd sal uitkom en dat mens jouself nie hoef te gaan regverdig nie.

    Like

  4. Persoonlik glo ek daaraan om niks agter iemand se rug te sê wat jy nie voor hulle sal vertel nie. 😉 Helaas ken julle my ook al. Daar is bittermin dinge wat ek nie reguit in iemand se gesig sal gaan sê nie.

    Daar is skinder en skinder. Ek dink dit is natuurlik om van ‘n gemeenskaplike kennis te praat. Inligting uit te ruil, niks erger as wat iemand self op Facebook verklap nie. Ek sien dit eerder as vriendelike belangstelling.

    Nou die swartsmeer skinder . . . Dit vorder nie juis sonder gewillige ore nie. Ek reken dit is die beste om dit te toiletpapier.

    Ek maak dit ‘n punt om enige gesprek waarin ‘n kollega beswadder word te onderbreek. Ek sê gewoonlik net dat die persoon nie daar is om hom- / haarself te verdedig nie en dat die gesprek onprofessioneel is.

    Like

  5. Is waar Toortsie – skinderstories doen soveel skade. Het dit net weer hierdie naweek besef. ‘n Hele familie wat uitmekaar geruk voel, en my hande is afgekap. Beste is om nêrens betrokke te raak en te besluit om ‘n wag voor jou mond te hou.

    Nie dat dit so maklik is. Maar – ZIP DIE LIP (bly die veiligste hawe om in te kuier)

    Liked by 1 person

  6. My ouma het altyd gesê dis nie die een wat die storie maak nie, dis die een wat dit oorvertel. Nou ja.

    Of jy kan maak soos iemand wat ek ken. Begin elke storie met ” ek sê nie dit is so nie, ek sê maar net”

    Like

  7. Weet jy, ek dink regtig dat dit meestal meer skade aan iemand doen om kamtig ‘ingelig’ te word oor iets wat oor haar of hom gesê word. As iemand dink ek is ‘n regte heks, wil ek dit tog asseblief net nie weet nie 😀 Dis nou in ‘n ligter trant, maar dit maak mense baie seer om skinderstories oor hulleself te hoor. Dink ek. En ek bevraagteken ook die motiewe van die persoon wat kom vertel….

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s