‘n Bus, Mercy en ‘n aandrok

Scrapydo se toeka-tokkel: stoepstories.  Net die stoep het gekort toe Riana – ‘n lektrise by die FCE (Foundation for cross cultural education) in Zambië, diè storie aan my vertel het.

images (1)Die college waar sy klasgee is in die boendoes, en as jy iewers heen wil gaan is die vervoer maar sleg. Sy moes in Lusaka ‘n bus na Suid Afrika toe haal, maar oppad Lusaka toe breek die lendelam bus wat haar tot daar moes bring.  Met groot gesukkel is hulle uiteindelik weer oppad – maar dit is te laat – die bus vanaf Lusaka het reeds vertrek; dus klim sy êrens langs die pad uit om vir die bus te wag wat sy weet daar verby moet ry Suid Afrika toe.  Diè bus word tot stilstand gewuif, en sy verduidelik aan ‘n omgekrapte busdrywer haar penarie.  Hy laat haar inklim, maar ‘n halfuur later stop hy die bus, en beveel haar om uit te klim.  Volgens hom is dit teen die reëls om mense langs die pad op te laai, en hy is bang hy kom in die moeilikheid.

Dit het intussen begin reën, maar die busdrywer bly onverbiddelik in sy besluit.  Verslae sien sy hoe die bus wegtrek, en haar alleen in die reën op ‘n verlate pad agterlos.  Nadat die ergste skok verby is – en sy besef hoe groot die nood werklik is – begin die trane loop.  ‘n Swartvrou kom verby gestap, en vra haar wat is verkeerd.  Sy verduidelik aan Mercy (dit is die swartvrou se naam) haar haglike posisie, en Mercy doen haar naam eer aan deur Riana onder haar vlerk te neem.  Hulle stap die lang pad terug Lusaka toe, waar Riana by die buskantoor hoor dat sy tot Sondag in Lusaka moet aanbly.  Vir Mercy is dit geen probleem nie; Riana moet by haar kom bly tot Sondag toe.

By die eenslaapkamerhuisie aangekom, is daar weer ‘n semi-permanente kragonderbreking, en kan daar nie kos gemaak word nie.  Mercy laat haar nie afsit nie; sy vat die stoof, gee vir Riana die hoender en nog wat om te dra, en daar gaan hulle pad-af na ‘n vriend van haar se huis toe.  By die vriend aangekom, sit die huis gepak van mans – daar is ‘n politieke vergadering aan die gang.  In Riana se eie woorde: “Daar ontwrig ons toe die hele vergadering, maar daar word kos gemaak.”

Die volgende oggend na ontbyt kom haal die vriend se dogter Riana se klere; sy wil dit was.  Aangesien Riana nie ander klere het om aan te trek nie, leen Mercy vir haar ‘n rok.  Daar is egter ‘n probleem; Riana staan amper ses voet in haar sokkies, en Mercy is kort.  Mercy besluit Riana moet haar aandrok aantrek – ‘n heel sexy affêrre wat nogsteeds halfmas om Riana se bene hang.  Aandrok en al is hulle daar weg om vir siek familielede te gaan kuier.

Laatmiddag word dieselfde ritueel as die vorige dag gevolg.  Stofie, en kos word na die vriend se huis toe gedra.  Daar is nie ‘n politieke vergadering aan die gang nie, maar daar is wel ‘n klomp vriende wat – nadat die kos klaar gekook is – saam terugstap om by Mercy te gaan eet.  Die krag is gelukkig aan, en hulle eet by lig, en nie in half duisternis soos die vorige aand nie.

Die Sondag word daar vir Riana padkos gemaak, en Mercy en haar vriend vergesel haar tot by die bushalte.  Riana eindig haar storie; “So help hulle my, en die Here gebruik Sy engeltjies in Lusaka om my mooi op die pad, en weer veilig by die bus te kry.”

Advertisements

24 thoughts on “‘n Bus, Mercy en ‘n aandrok

    1. Lyk my my kop het gister gedraai… ek het blykbaar my kommentaar op julle kommentaar op die verkeerde plek ingetik. Ja… dit was vir my net so ‘n mooi storie. As jy my ander kommentaar ook gelees het…. weet maar dit is die ouderdom wat hier aan die werk is 😦

      Liked by 1 person

    1. Ai Hester, sien nou eers ek het op die verkeerde plek jou geantwoord. As jy dit nie gelees het nie… dankie vir die inloer. Alles op ons ou wêreld is nie net negatief nie nê!!!

      Like

  1. Dit is nou n regte gevoelvolle vertelling wat mens maar aan almal mag vertel. Daar is nog goedhartige mense wat vir ander omgee. Dankie vir jou kosbare vertelling.

    Like

      1. Weet jy, as ek so terugdink aan van die dames wat my gehelp het as huishulpe kan ek getuig van werklike menslikheid wat in hul is. Ek noem hul dames want hul is werklik fyn geaard,liefdevol en gevoelvol

        Like

    1. Toorts Riana self is ‘n voorbeeld van Jesus liefde. Sy gee klas sonder vergoeding en kyk na die Here vir al haar behoeftes. Ons het voorwaar so baie om voor dankbaar te wees.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s