Oorlogstories

Voor ek oor die oorlogstories skryf, wil ek vertel van ‘n Overberg storie waarvan ek vergeet het, een wat ek al ‘n geruime tyd terug gelees het, maar baie geniet het. Die uitgespoeldes, van Dalene Matthee.  Dit speel in ‘n, vir my, minder bekende deel van ons strandveld af, in ongeveer 1950. Soos al Matthee se boeke, is ook hierdie een ‘n lieflike boek om te lees.

Ek het twee oorlogstories in ‘n kort tydjie gelees, en is bang dat ek hulle dalk verwar met mekaar. Kort voor ek beide hierdie boeke gelees het, het ek ‘n praatjie van Chanette Paul bygewoon waar sy vertel het van die Davel vroue, ‘n reeks boeke wat sy geskryf het. Die eerste een is Tamara, wie op die plaas agterbly toe die oorlog begin. Tamara, wie verlief is op haar broer. Tamara wie die hele opbou van die oorlog beleef. Tamara, wie planne maak om te oorleef deur die oorlog.  Alhoewel dit ‘n reeks is, en die mense wie daarin speel, almal aan mekaar verbind is, is dit nie ‘n “oorlogsreeks” nie. Dit gaan oor Tamara se dogters en ook hulle kinders, so die tyd waarin dit afspeel, verander. Dis heerlike stories om te lees en ek kon my met elkeen van die vroue assosieer. Ná Tamara, volg Willemien, Annabella, Deborah, Isabelle, Maryn, Fleur, elkeen vroue in hulle eie reg. Vroue wie nie hulle bra’s verbrand vir vroueregte nie, maar wat as vrou haar plek volstaan en haar ding doen. Vroue van wie ek hou.

Die ander oorlogboek wat ek gelees het, is Fees van die ongenooides, deur PG du Plessis. Ons beleef die oorlog, die wreedheid van die konsentrasiekamp, verlore liefde. ‘n Ongelooflike boek. 

Terwyl hierdie bloginskrywing nog nie so lank is nie, kan ek van nog ‘n boek vertel. Ek lees soms ook lekker ligte leesstof.  Romanses. Ja, baie mense trek hulle neuse daarvoor op, maar romanses is goedvoel boeke. Dit werk altyd mooi uit, en selfs al weet jy al van bladsy 5 af wie by wie gaan uitkom, bly die verrassing van HOE dit gaan gebeur. Sulke boeke is sommer goed vir die huwelik ook! 😉

So ‘n ligte boekie is Adam op bestelling, deur Dina Botha. ‘n Lekker storie wat maklik lees, wat jou laat ontspan, en tog ‘n verrassing hier en daar het. 

Lekker lees

Toortsie

Op Pinterest lys ek al die boeke waaroor ek al geskryf het. Kliek net hier.

23 thoughts on “Oorlogstories

  1. Dalene Mattheeklink n goeie boek om te lees. Sy het besonderse skryfstyl. Nie te mal oor P G nie, maar kan dalk ook gaan. Dankie vir die resensies. Dit help nogal om n keuse te maak.

    Like

  2. Oe!!! Ek moet Die Uitgespoeldes weer gaan lees. Ek moes dit koop (dit het eers na Tannie Dalene se dood verskyn) maar ek het dit net een keer gelees.

    Die “Fees van die Ongenooites” is goed (moontlik selfs briljant) tot op ‘n punt. Ek dink dit gee ‘n gebalanseerde seining van al die onheil en konflikte in ‘n oorlog. Alhoewel, daardie man wat sy vrou se kis gaan uitgrawe en alles wat daarop volg is net af.

    Like

    1. Ek het beide die boeke al ‘n tydjie terug gelees. Ek sal sowaar nou weer die Fees moet gaan oorlees. Daar is ‘n hele paar dinge in die storie wat AF is. Tog dink ek dis dinge wat maar gebeur het.

      Like

    2. Daar is af en AF. Ek kan amper enige iets in ‘n boek hanteer, aansienlik meer as in ‘n fliek of ‘n TV program. Moord, selfmoord, aanranding, verkragting, om op jou goewernante verlief te raak, oneg, seks ens. Dit kan ek hanteer, dit is deel van die storie. Daar is ‘n sekere mate van skok wat met hoog aangeskrewe werk verwag word. Fees was geen uitsondering nie. Daardie toneel vat dit net te ver.

      Toegegee, dit is iets wat ‘n mens van PG du Plessis kan verwag. Neem Kooperasie Stories byvoorbeeld. Ek het dit as ‘n kleuter die eerste keer gekyk en gewoonlik kyk ek dit baie lekker. Daar is egter die een episode wat my sommer ‘n gly aan die hele reeks gee. Daardie episode waar Genis opsluit ‘n boom moet afkap en die meisie raak vertraag.

      Dalk net nie my smaak nie.

      Like

  3. Dalene Matthee se boeke is puik. Bly jy het genoem van die boek oor diamantsmokkelary. Nou die ander dag aan die boek gedink, en konnie onthou wie die skryfster was nie.

    Like

    1. Diamantsmokkelary het altyd my pa se verbeelding aangegryp. Hy was al baie oud toe gee ek vir hom die boek om te lees en het gedink hy sal dit baie geniet. Vreemd, dit het vir my gevoel dat hy dit nie geniet het nie. Ek het dit baie geniet.

      Like

Gesels saam, asseblief!