In die mode

Scrapydo se toeka-tokkel: Mode

imagesErens op hierdie aarde lewe daar mense wat besluite maak oor watter kleur, en styl diè seisoen in die mode gaan wees, en die – amper sê ek gepeupel – mensdom haal hul beursies uit, en volg gedweë die voorgeskrewe mode.  As ek die dag lus is vir ‘n oranje bloes, en daar is nêrens in die winkels ‘n oranje bloes nie – want oranje is nie nou in die mode nie – is ek omgekrap.  “Wie, het diè besluit namens my geneem?”

Ook maar goed ek het deur die jare my eie klere gemaak, dit het my kopsere gespaar want ek kon aantrek soos ek wou.  Nie dat ek glad nie in modelokvalle getrap het nie, ek dink sommer nou aan daardie loshangende broeke waarvan die kruis tussen die knieë gesit het. 😆 O weë, nou kan ek nie help om te lag nie.  Kenneth wou so ‘n broek vir sy matriekafskeid hê, en ek het dit vir hom gemaak.  Maar dan weer, hy is kunstenaarskind, en het altyd anders gelyk as die res van sy spesie.

In my jongdae het die mode my wel voorgeskryf.  In my swart klere, wit lipstiffie en Cleopatra oë, het ek op sestienjarige ouderdom gelyk soos iets wat uit ”n “horror movie” gestap het.  Dit was egter die manne wat die kollig gesteel het.  Jy het selde een alleen sien loop; heupswaaiend, met die geluid van studs op die teerpad, het hulle in bendes geloop.  Swart “stovepipe” broeke, swart opslaankraag hemde, “studded” belde, swart leerbaadjies, en vir effek so hier en daar ‘n “knuckle duster,” om die kneukels.  Die swartgekleurde hare was blink geolie, en is in ‘n Elviskuif van voor, en ‘n “ducktail” punt na agter gekam.  Geen wonder die grootmense het na hulle harte gegryp, en hulle ore toegedruk vir Elvis se stem nie.

Tentrokke was in die mode toe ek al gewerk het.  Ek het goeie rede gehad om bly te wees oor daardie snit.

Sjoebroeke en boots het gevolg.  In daardie jare was dit niks snaaks om wolwefluite te hoor wanneer jy in ‘n sjoebroek, met kniehoogte boots die strate aandurf nie.  Nou se dae fluit Ken vir my, maar om ‘n heel ander rede as diè uit my jongdae.

En dan was daar die mini!!!  Diè mode het ek met albei arms omhels.  Kiertsregop het ek geloop, en nie durf waag vorentoe buk nie.  Op ‘n dag staan ek by my ouma en sy pluk, pluk so aan my rokspunt.  “Wat maak ouma?” wil ek weet.  Sy antwoord droogweg dat sy my rok langer probeer trek.  So ‘n groot euwel was die mini in haar oë dat sy my opdrag gee om ‘n kartondoos vir haar aan te gee.  Tot my “ontsteltenis” (dit is lig gestel) moet ek aanhoor sy soek ‘n stuk lap waarmee sy my romp langer kan maak.  Some het begin sak, maar ek het tot op die bitter einde aan die mini vasgeklou.

Hierna het nog modegiere gevolg waarvan die “cat suit” een was.  Wat ‘n ongemaklike besigheid was dit nie; veral as die nood groot was, en jy spoedig daarvan ontslae moes raak.

Gelukkig het my lewe te besig geraak om my veel langer aan modes te steur.  Ek het my eie smaak ontwikkel, en gevind dat ek van getailleerde klere hou.  Tussenin was daar wel stadiums waar ek myself vergeet en oorboord gegaan het met naalderk.  Daar was klere met skouerkussings wat my soos ‘n Amerikaanse voetbalspeler laat lyk het; Rika kon nie glo toe sy sien ek maak tot my nagklere met skouerkussings in nie.  “Country” styl klere met kerspitwerk op, en dan daardie broeke met die kruis wat tussen die knieë hang.

Behalwe vir ‘n kledingstuk wat ek so hier en daar in die winkels koop, maak my skoondogter nou my klere.  Sy weet ek soek nie lap wat om my loshang, en rondbeweeg nie.  Ek het nie ‘n benul of ek in die mode is, en of dit lyk asof ek in die verlede vasgeval het nie.  Geklee in klere waaarvan ek hou, is ek gemaklik in my eie lyf.

Nagedagte:  Fotos dien as ‘n stille getuie teen die gruwel van modes; hopenlik lag my kleinkinders ook eendag vir hulle ouers se modeflaters.

25 thoughts on “In die mode

    1. Ek het nou eenmaal hierdie streek in my, as ek ‘n ding doen, doen ek vir hom ordentlik…. tot op nagklere na!!! 😆
      Dankie vir die inloer…. lekker om jou gesig te sien!!

      Like

  1. In die dae wat ek ‘n tiener was, was stewels (soos stapskoene) erg in. Jy moes jou stewels met ‘n langrok met ‘n t-hempie onderaan dra. My ma is nogal modebewus. Ek dink sy het iewers vir my so ‘n rok gekoop.

    Ek het my stewels nogal lank gedra. Sommer saam met ‘n kort broek en veral saam met ‘n denim.

    Like

    1. Hulle dra lekker…. ek is tot vandag nog lief vir “stewels.” Eienaardig om hulle so te noem… was nog altyd “boots.” Gister gewonder wat is die Afrikaanse naam daarvoor.

      Like

        1. Hi Hester 🙂
          Kan dink dit dra lekker. Laat my dink aan die skoene van ons jongdae wat jou voete gebrand het. Skoene moes mos eers “uitgetrap” geword het 😯

          Like

  2. Nou het ek darem lekker gelees aan jou klere beskrywing. Die terugdink aan daardie modes het my nou weer goed laat glmlag hierdie kant. Sjoebroekies, cat suits, minis ai waar is die dae van die jong tyd. My student het ook so n langlyf jean gehad. Het gedurig gelyk of hy wil verloor. Sy was mal oor die broek. Jy maak sommer my dag! (Amper veeg ek- Dankie vir die deelneem!)

    Like

    1. ‘n Mens verlang maar terug na ‘n mens se jong lyf as jy so terugdink. Wil my vandag in ‘n sjoebroekie sien 😆 O aarde, nou het ek myself aan die giggel. Wat nog van die tanga waarmee ek die strand vol paradeer het? 😯
      Dankie scrapydo, dit was ‘n lekker uitdaging.

      Like

        1. ons modes het vir goed die preutsheid van ons voorgangers “totsiens” toegeroep. As ek die spulletjie vandag so kyk wonder ek of dit so ‘n goeie ding was 😯

          Like

          1. He he, nou smile ek lekker- ons preutse ouer mense en ons as jonges wat so uitdagend was doerdie tyd. Vandag is dit heel aanvaarbaar om alles te wys

            Like

    1. Ai, die ewige euwel van langbroeke 😯 Mog dit ook nie gedra het nie. Seker die eerste ding wat ek vir myself gekoop het na my troue was ‘n jean.

      Like

        1. Baie!!! Geen partytjies, geen kêrel voor 18. Tot met my troue 10 uur in die huis… en sou die kêrel 3 minute langer bly die gekug vanaf die kamer om te sê dit is tyd 😦 dat hy moet loop.

          Liked by 1 person

  3. Sekere modes is vir my vrek lelik, soos die kleure en patrone van die sewentigs (of doer iewers) wat elke nou en dan kop uitsteek. Maar as daar vroulike, kanterige goetertjies is is ek altyd bly daaroor. En ek dra nou nog klere van ‘n dekade of langer terug (indien dit nog pas). Hou nie van daai klokpypbroeke nie – raak sommer vies wanneer daar niks anders te koop is nie. Ja, hoe ouer ‘n mens raak, hoe kieskeuriger raak ‘n mens ook. Tydlose (alhoewel elkeen se definisie straks gaan verskil!) bly die beste. Jare terug het ek ook vir myself klere gemaak, maar o wee, daar was meer floppies as suksesse. Behalwe so ‘n pragtige blou katpak… ai, lekker gedra daaraan!

    Liked by 1 person

  4. Nou hoekom is ek nie verbaas dat jy van fyn kanterige goetertjies hou nie? 🙂 Weet nie of dit jou foto is, of jou skrywe nie, maar ek het jou as ‘verfynd en vroulik’ opgesom.
    Dit is waar wat jy daar sê; ‘n mens word meer kieskeurig met die ouderdom saam.

    Like

  5. Hehehe, lekker storie. Die broeke met die kruis tussen die bene is gedeeltelik weer in, behalwe dat die kruis nou amper op die enkels is. Ek is mal daaroor en besit twee sulke stukke 🙂 Gelukkig het ek net die stertkant van skouerkussings gevang. Die mens wat dit uitgevind het behoort gestraf te word!

    Liked by 1 person

    1. Like die mens wat skouerkussings uitgevind het moet gestraf word. Vandag vertel fotos my die grusame waarheid rondom daardie mode… en dan het dit nog saamgegaan met die grootste brilrame wat amper jou hele gesig bedek.

      Like

Gesels saam, asseblief!