Kobra, en ander speurverhale

Kyk, oor Deon Meyer voel ek so: Jy kan sommer net sy naam intik by Kalahari en ENIGE van sy boeke kies. Almal is uitstekend. Ek is seker julle almal sal saam met my stem.

“Kobra” het ek wel gekoop toe hy uitgekom het, al in 2013, dink ek, maar het eers in die afgelope vakansie daarby uitgekom om hom te lees. Wat ‘n plesier! Sjoe! Deon Meyer mag maar skryf. Ek dink dis die bobaas van speurverhale. Niks is voorspelbaar nie. My “speurbrein” het oortyd gewerk, en tog kon ek tot op die laaste bladsy nie die einde voorspel nie. Hy het die vermoë om die spanningslyn tot op die einde te behou. Dis ‘n klomp stories, elkeen sy eie, in mekaar verweef.

Nou gaan ek ‘n dom vraag vra: Het hy al weer ‘n nuwe boek geskryf? Het ek dit gemis?

Ek kan amper nie oor boeke skryf sonder om Chanette Paul se naam te noem nie. Syself skryf regtig goeie spanningsverhale. Ek het alreeds van Labirint geskryf. Haar boeke is goed nagevors en regtig ook ‘n plesier om te lees.

In “Raaiselspieël” moet die vermoorde Nils, ‘n skilder, se dogter sy biografie skryf. Hy, Nils, gee haar die opdrag vanuit die graf. Frieda, die dogter, het ‘n bonatuurlike gawe om bonatuurlike dinge te ervaar.’n Storie met baie geheime…

Nog steeds Chanette Paul. “Siende Blind”  
In ‘n baie kort tydjie verander ‘n bekende skrywer se lewe totaal. ‘n Klomp rampe tref haar. Dit begin toe haar man haar om ‘n egskeiding vra…

Ek is tans ook besig met Chanette Paul se “Gys Niemand Reeks“. Elkeen van die boeke is ‘n volwaardige speurverhaal op sy eie.

Die eerste boek in die reeks is “Springgety“.  ‘n Hoë krans, waar reeds vier kruise staan, eis nog ‘n lewe. Nog iemand wat dalk gespring het? Of gestamp is?

Nommer twee in die reeks is “Fortuin”.  Wat gaan aan by Paradyskloof, ‘n sogenaamde holistiese oord? Twee gaste het reeds gesterf, wie is die volgende? Wat is die motief? 

 

 

 

Groete, Toortsie

Loer gerus by Pinterest waar ek skakels gee na die boeke wat ek al aanbeveel het. Ek werk steeds aan die lys om dit volledig te maak.

15 thoughts on “Kobra, en ander speurverhale

  1. Het gisteraand Die Lanternswaaier begin lees(op my kindle!) Vanoggend dink ek toe juis aan Deon Meyer en sowaar daar praat jy oor hom. Ek is mal oor sy boeke. Ek is eerder n speurverhaal leser as liefdesverhaal. Dankie vir die Kobra naam

    Like

  2. Ek gaan nou maar saggies skaam-skaam fluister dat Kobra die eerste boek van Deon Meyer is wat ek gelees het. En net soos jy moet ek sê “Sjoe! Wat ‘n boek!” My verweer is dat ek meeste Afrikaanse boeke hier in die vreemde mis as my ma en skoonma nie vir my iets aanstuur nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!