Oor boulyne en skoene

Daar is mos ‘n rede hoekom reëls gemaak word, of so glo ek. Soms dink ek tog dat daar sommer net reëls uitgedink word, en nie noodwendig oordink word nie, wat selfs groot ongemak vir mense kan veroorsaak. Daarvan was ons ook al baie keer ‘n slagoffer.

Eendag, lank lank gelede, is erwe gemaak in dorpe, en iemand, ek weet nie of dit die dorpsbestuur of die Provinsiale Raad, of wíé dit is nie, het bepaal dat daar sekere boulyne is, die grense tot waar gebou mag word. Ek glo nogals daardie ou mense, waarskynlik mans, sou die saak mooi oordink het. Daar moet ‘n rede wees hoekom daar so ‘n bepaling is.  Dis een van die reëls wat mense nogals gehoorsaam.

Hoekom is dit so dat as iemand vir sy eie gerief die reël wil oortree, iemand anders so maklik in ‘n moeilike situasie geplaas word? As dit reeds ‘n groot erf is, hoekom moet daar oor die boulyn gebou word terwyl die res van die erf steeds oopstaan? Hoekom moet die buurman/vrou dan besluit of jy dit mag doen of nie? Sê buurman nee, veroorsaak dit spanning tussen die bure. Sê buurman ja ter wille van goeie buurmanskap, kan dit dalk vir homself ongerief veroorsaak. Hoekom word daar nie maar net by die reëls gehou nie, en dan is almal mos gelukkig? Hoekom kan die owerheid nie daar net sy voet neersit nie? Dis mos hoekom die reël in die eerste plek gemaak is, om ongemak tussen bure te vermy?

So het iemand naby aan my se bure ook die boulynreël 100% oortree. Daar is tot OP die grenslyn gebou. Ag, ons gun dit mos maar vir hulle, soos goeie bure doen. Toe die dakkie geverf word, moes daar deur die bure se fyntuin getrap word, want hoe moet ons dan anders op die dakkie kom? Hoekom moet die bure nou besluit of hulle hulle dakkie mag verf of nie?

Om jouself in iemand anders se skoene te sit, is natuurlik nog ‘n groot ding. Baie keer sal ons maklik ‘n ding doen wat vir ons logies is, maar as ons die bordjies verhang, dalk heeltemal anders daaroor dink.

Soms vereis ons sekere goed, ons dring absoluut daarop aan, maar gaan ons dit toelaat as dit andersom is? Kan ons dan verstaan as die ander persoon ongemaklik raak?

Kom ons trek mekaar se skoene aan. Kom ons probeer mekaar verstaan. Kom ons doen aan ander wat ons aan onsself gedoen wil hê.

Mooi dag!

Toorts

Ek plaas oulike bloginskrywings wat ek raakloop, op ons faceboekblad. 

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Geleefde Christenskap, Opheffingswerk; Opvoeding. Bookmark the permalink.

20 Responses to Oor boulyne en skoene

  1. klippie sê:

    Daar is nou ‘n resep vir sonde met die bure. Ek hoop die buurman met die dakkie maak ten minste die fyntuin reg; dit behoort die wrywing ‘n bietjie te verlig.

    Like

  2. Sparkle sê:

    Ek gaan juis nou-nou die bouinspekteur bel om te kla oor die bouer alweer langs my nonsens aanjaag. Vir my gaan dit oor respek, iets wat sommige bouers glad nie het in die industrie het. By ons word daar nie eers gevra nie, daar word net gedoen. Nou gaan ek eers ‘n koppie koffie maak en rustig raak. xx

    Liked by 1 person

  3. Oe!! Ek het ‘n blog oor logika wat julle na julle asems sal laat snak. Of ‘n hartaanval gee. Kom ons los dit vir eers daar.

    Bogger goeie buurmanskap. Sê nee. Daar is darem perke aan goeie verhoudings.

    Liked by 2 people

  4. scrapydotwo sê:

    Sonde met die bure sal ons maar altyd kry. Daardie bou tot op die grenslyn is nie toelaatbaar nie! Ek bly in n twee huis eenheid en het gedurig n probleem met buurvrou wat rerig dinge doen wat sy nie mag nie. Het al haar aangegee maar daar het niks verder van gekom nie.(Hier wil hul eintlik he mens moet die polisie gebruik om hul aan te gee) So is die lewe maar, vol besluite wat eintlik niks met jou te doen het nie

    Like

    • Toortsie sê:

      Ja, en dan word JY die skuldige as jy nie die teen-die-wet-besluit wil neem nie. Ek is in die verlede erg kwalik geneem omdat ek nie ons werkers se salarisse wil aanpas nie op verklarings nie – soms moet dit minder wees vir ‘n toelae, soms moet dit meer wees sodat ‘n huislening goedgekeur word, en dan moet ek dit AANHOOR dat EK niks vir hulle gun nie. 😦 Ek is nou sommer van voor af kwaad.

      Like

  5. Oehoe! Ons is ontwikkelaars en bouers in die dorp, glo my, groot probleme as jy oor die boulyn bou. Ons het al (omrede die erwe nie reg uitgesteek was) huise moes afbreek.
    Assuransie is die volgende wat jou probleme gaan gee. As daar brand ontstaan, en die muur naaste aan jou is nie ‘n brandmuur nie, betaal Assuransie nie enige skade uit nie.
    NHBRC gaan ook hul groot probleme gee. As hul in beheer is van jul streek, bel hul om inspeksie te kom doen. Laat hulle vir jou die saak hanteer, moenie dit self probeer nie.

    Ek sou voorstel dat mens maar so ver moontlik vrede met die bure probeer handhaaf. Anders versier dit jou leefwyse aan jou kant. Alles raak dan onaangenaam. Wit vlag dus, asb. Toorts.

    Laat iemand anders, die regte mense, liewers vir jou die saak veg …

    Liked by 1 person

  6. Manewales sê:

    Kyk die hele bou lyn ding grief my redelik. Die goed is daar om te verhoed dat brande tussen huise versprei. Deesdae het ons blykbaar geen vrees dat onse goedjies gaan afbrand nie. Wat ek nie mooi verstaan nie is hoekom die munisipaliteit die netelige saak die bure se probleem maak. Hulle behoort die streep te trek in plaas daarvan om net dit af te skuif op iemand anders se skouers. En wie se die toekomstige buurman gaan ook gelukkig wees met die skuif.

    Like

  7. seegogga sê:

    My ervaring is dat d munis absoluut slap is wat sulke goed betref. Toe my ma se buurman oor d boulyn bou en sy die munisipaliteit skakel, het hulle net skouers opgetrek , gese dat hulle geen planne ontvang het nie, en niks aan die saak gedoen nie. Hy het d planne na d tyd ingedien en toe het hulle maar goedgekeur, want die struktuur staan toe reeds daar. Maar wat van grensmure tussen erwe? My buurman wil n hemelhoe muur opsit wat vir hom mooi gaan lyk, maar verder geen doel dien nie, maar wat my seeuitsig ernstig gaan benadeel. Mense moet besef dat elke ding wat hulle bou, ‘ n monument vir hulle self is. Hierdie monument staan daar vir almal om te sien hoe kunstig, smaakvol(-loos), prakties, innoverend, ja en ook hoe gemeen jy is.

    Liked by 1 person

  8. Kameel sê:

    Ek was ook heel verbaas toe ons buurman ‘n ondersakstoep tot teenaan ons grensmuur bou. Altyd gedog daar moet ‘n spasie wees. Toe skoonseun hulle 14 jaar gelede hier gebou het kon hulle nie die voëlnes groter bou nie juis omdat die gebou ‘n sekere distansie van die grensmuur af moet staan. 😦
    Hopenlik drink jy spoedig weer tee, en eet melktert by jou bure!!!

    Like

  9. Ook maar goed ek het nie meer bure nie, want die wag voor my mond is permanent van diens af.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s