Toorts se Toeka Tokkel Telefoon

Asof ek nie genoeg ander goed het om te doen nie! 😦 Verder kon ek net nie dink wát ek sal skryf in hierdie opdrag van Scapydo nie, toe die Merrie my gedagtes aan die gang gesit het.

In ons kinderdae het ons nog plaaslyne gehad. Om die waarheid te sê, daar iets nog méér antieks, darem nie heeltemal so antiek soos die prentjie wys nie, maar net so ‘n klein bietjie meer “modern”. Ons het sulke fone tussen die huis en die stoor gehad, en my ma kon my pa bel as hy moet kom eet! 🙂 Dit was voor radio’s ingeskop het, en as ek nie sommer my boerestem ingespan het nie. 😉

So twee knippies meer modern as hierdie foon, was ons fone wat ons gebruik het. Die foon was teen die muur in die gang vasgemaak, so as ek op die foon gepraat het, het die hele huis gehoor. Daar was dus GEEN beduidenis van ‘n vryery op die foon nie. Nie ‘n manier nie! Want MY mense het geluister, en behalwe my mense, het die HELE buurt OOK geluister!

Want, soos ek gesê het, het ons plaaslyne gehad, seker so 10 huise op dieselfde lyn. Ons kon mekaar bel sonder om deur ‘n sentrale te gaan, verniet. As ons deur ‘n ander oproep wou maak, wat nie op die lyn was nie, het ons ‘n lang lui gegee (die slinger so 4 maal in die rondte gedraai), die sentrale het geantwoord, “nommer asseblief”, ons het die nommer gegee, soos Calitzdorp 2103, die sentrale het Calitzdorp se sentrale gebel, hulle het my deurgesit en dan kon ons praat. Vir 3 minute. Dan sê die sentrale: “Drie minute om”, en dan moes ons klaar praat, of vra vir nog 3 minute.

Ons lui was 3 kortes en ‘n lange. Gestel ons het geweet tannie Willa was siek, en ons hoor haar lui, 2 kortes, het my ma dadelik gaan “luister” wat die nuus is, selfs al was sy nie deel van die gesprek nie.

Einste tannie Willa het soms die gesprekke afgeluister, ons het haar hoor asemhaal. Ag, sy was so dierbaar, hoe kan ek haar nou onteer met my storie. En tannie Martha. Sy het ‘n koekoekklok gehad wat haar weggegee het. Soms het sy vergeet om hom stil te maak, dan het ons hom hoor sing. Soms het ons daar gekom, dan was die koekoek se deurtjie ingehaak… 😉

So, dis my storie. Wat is jóú telefoonstorie? Onthou om vir Scrapydo te tag as jy ook hieroor skryf.

Toorts

O lalaaa, dis nié tannie Martha wat die koekoek gehad het nie, dit was tannie Cato’tjie!  Hier kom ek vandag nog in die moeilikheid!

Ns. Ek sit, as ek oulike bloginskrywings raaklees, dit op ons faceboekblad. Loer gerus! En nog iets, baie dankie vir elkeen wat ons stories op faceboek share. Ons waardeer dit opreg.

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Plaaslewe en Landbousake. Bookmark the permalink.

12 Responses to Toorts se Toeka Tokkel Telefoon

  1. scrapydotwo sê:

    Ha ha, lekker man. Ek sien sommer die prentjie voor my oe. Ek het al vergeet van die drie minute tyd wat n oproeplengte was. Dink net hoe ongelukkig vandag se telefoongebruikers sal wees as hul net drie of op langste 6 minute kan praat. Dankie vir die deelname, waardeer dit baie met jou vol program.:D

    Like

    • Toortsie sê:

      Nee man, my program is niks voller as ander s’n nie, ek moet my tyd net beter bestuur! Ek wonder of ek jou nie ‘n bietjie herhaal het met my storie nie. Dankie vir die onderwerpe, jy leer ons om buite die boks te dink.

      Like

      • scrapydotwo sê:

        Ag dit pla nie, die herhaling. Dit versterk net hoe dit regtig is. More se klere/mode het my die hele middag besig gehou. Dit draai toe anders uit as wat ek beplan het. Het lekker fotos wat ek wil gebruik!

        Like

  2. klippie sê:

    En juis omdat dit ‘n gedeelde lyn was, het mens nie te persoonlik geraak nie. Wat sal vandag se jonges doen sonder om vir die wêreld te twiet dat hulle uitgaan/klere gaan koop/nuwe haarstyle en al sulke onbenullighede nie?

    Liked by 1 person

  3. Kameel sê:

    Ons het aan die begin daar tussen die mielielande, so ‘n nommer asb foon gehad. Dit was nogal ‘n aanpassing om uit die stad te kom met “moderne” fone, en dan in tyd terug te stap.

    Like

  4. Wel Toorts, jou opskrif is voorwaar ‘n wenner – hou van die woorde wat almal met ‘n T begin: Toorts se Toeka Tokkel Telefoon!
    Hou so voorts!

    Like

  5. Ek verkneukel my aan Tannie Cato’tjie se koekoek. Nogal die deurtjie vas te maak. Was sy vernynig?

    Like

  6. Dankie vir die herinner aan die ou tyd. Ek het ook ´n jaar of wat gelede, byna ´n soortgelyke blog geskryf. Sal kyk of ek dit opgespoor kan kry. Ag, en daar loop ek ´n blog of wat van my, op julle FB blad raak. Dankie dat jy dit gedeel het. Ek is half sku om my blogs elders te plaas, dalk meer skaam om dit te doen.

    Liked by 1 person

  7. Terug pieng: TOEKA-TOKEL 7 : KLERE/MODE | scrapydotwo

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s