Toorts se toeka tokkel oor sport.

Ek is nie ‘n goeie sportvrou nie. Ek is stadig, het swak balans, ‘n growwe beenstruktuur, geen ball-sense nie, kan nie swem nie.

Eintlik wonder ek, toe ek gemaak was, of die bedoeling was dat ek ‘n sportvrou moes wees? God het vir my ander talente gegee, soos uithouvermoë, ‘n musikale oor en saam met dit, breë hande met lang, lenige vingers sodat ek 10 note op die klavier met gemak kan raakvat. Ek het ook die liefde vir tieners gekry.

God het vir my ‘n liefde vir die natuur gegee. Ek is lief om in die natuur te gaan stap. Asseblief nie in ‘n gym op ‘n oefenfiets of treadmill nie, ek sal sowaar ook, nes ‘n vriendin, op die treadmill aan die slaap raak en daarvan afval!  Ek stap gewoonlik ongeveer ‘n uur, maar ek sou, as die tyd daar was, ‘n hele dag ook stap.

In my jongdae het ek nogals gedraf en het aan baie halfmarathons deelgeneem, maar ek dink ek het my swak beenstruktuur daarmee eerder negatief beïnvloed.

Die enkele staproetes wat ek al gedoen het, was heerlik. Ons beplan om vanjaar weer ‘n entjie te gaan stap, en sodra ons terug is, sal ek kom verslag doen.

Ek gee nie om om alleen te stap nie, eintlik verkies ek dit. Dan word ek een met die natuur. Ek lag vir die jong verse wat ons heelpad volg, die perde is wild en vertrou ons glad nie. Ribbokke bly op ‘n veilige afstand. Die skape met lammertjies staan net en kyk. Dáár vlieg ‘n paar blou kraanvoëls.

Soms werk my brein oortyd as ek stap en dan maak ek groot planne, wat natuurlik al weer vergete is as ek by die huis kom. Ander tye stap ek net en dink aan niks. Of ek stop en kyk na die mooi sonsondergang. Soms gaan staan ek doodstil en bid vir die mense en grond so ver as wat my oë kan sien.

Of dit as sport tel, weet ek nie. Ek doen nie eintlik die TV sport ding nie. Nou die dag kom ek by die ouetehuis ingestap en die sokker was aan, TV kliphard. Daai geraas was vir my verskriklik, ek wou net so gou as moontlik daar uitkom.  Dalk lê die fout by my ore, wie weet?

Dankie Scrpydo vir die uitdaging. Ek hoop sommer nog baie mense gaan deelneem.
Groete
Toorts

Dalk moes ek eerder oor “sports” geskryf het. Ons familie is goed daarmee. My man het altyd gesê ons lotjie sal vir Leon Shuster laaaank besig hou. 😉

11 thoughts on “Toorts se toeka tokkel oor sport.

  1. Yip! ek hou ook van die stap-in-die-veld-ding. Niks soos die natuurskoon en dan kry mens sommer jou oefening ook in.

    Het ook die 10 vingers gekry vir die klavier-storie. Oulik geskryf Toorts.

    Liked by 1 person

  2. Ek stem saam met die stappery. Dis wat ek ook nou maar doen. Dis die beste tyd om jou gedagtes te laat gaan na alles wat jy nog moet doen en gaan doen of net ook die lekker om in die natuur op jou eie te wees. Stap is beslis ook n sport. Mens kan amper jou musikale vingers ook as sport gebruik omdat hul geoefen moet word om die beste te kan lewer. Ek kan goed glo dat jul lekker “sports” het onder mekaar.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s