Sport kort en kragtig

rugby_08Scrapydo se Toeka-Tokkel Sport. Die prent wat in my gedagtes opkom wanneer ek die woord “sport” hoor, is van my pa wat rugby luister.  Ek sien hom vasgenael voor die radio sit, sy kop so half skeefgedraai sodat hy elke woord mooi kan hoor.  Aan die kommentator se stem, en my pa se liggaamshouding kon jy sien hoeveel aksie daar op die rugbyveld was.  Uit sy mond self het daar nie‘n geluid gekom nie, maar hy kon sy liggaam so vooroor buig tot sy oor amper teen die radio gedruk was.  Alhoewel ek die rugbyuitsendings verpes het, is hierdie herinnering van my pa vir my kosbaar.   Die jare het nie gehelp om my ‘n liefhebber van rugby te maak nie.

So af en toe het my ouers rofstoei gaan kyk, en ons kinders saamgeneem.  Ek onthou skare mense wat skreeu, “wrede” mans in ‘n kryt, en my bene wat pyn.  My bene kon so begin pyn dat dit voel asof ek in kokende water gehou word; veral as ek moeg raak.  Daar is vir my geen lekker herinnering aan daardie aande nie, en tot vandag toe hou ek niks van rofstoei nie.  Daardie mans, so vol van hulleself met hulle bravade, doen dit nie vir my nie.  Kontaksport blyk nie my liefde te wees nie.

Op laerskool het ek aan atletiek deelgeneem, en korfbal gespeel.  Ek het nie in een van die twee uitgeblink nie, en op hoërskool besef sport is nie vir my nie.  As toeskouer het ek interhoër baie geniet; die “vibe” rondom sportliedere, krete, en kleurvolle dirigente vol aksie, het gemaak vir groot plesier.  Miskien het dit ook te make met die feit dat ek in standerd 6 my eerste kêrel oppad interhoër toe ontmoet het 😉

Ek het begin werk, en daar het ek uitgevind dat ek ‘n natuurlike aanleg vir tafeltennis het.  Etenstye, het ek teen die mans gespeel, want ek was te sterk vir die vrouens, en het party van die mans ook onder die tafel ingespeel.  Ek het ‘n ontsaglike liefde vir die spel ontwikkel, maar toe hulle begin praat van wedstryde, en toernooie waaraan ek moet deelneem, het ek my voet neergesit.  Ek wou net speel uit liefde vir die spel, definitief nie om teen ander te kompeteer nie.

As ma het ek ure langs die atletiekbaan deurgebring.  Beide Marlè, en Kenneth was sportief, en het goed gevaar; veral Kenneth het uitgeblink in langafstande, en vir Oos Transvaal gehardloop. Ek het my jaar na jaar weer op die pawiljoen by die interhoër bevind; hierdie keer met kleiner kinders aan my sy, en vlinders op my maag.  Die singery, en dirigente was vir my nog net so mooi soos in my skooldae…. indien nie mooier nie.  Maar soos met alles het dit ook op ‘n einde gekom, en ek was nog nooit weer naby ‘n sportsveld nie; of nee wag ek was ‘n paar keer op die rugbyveld, maar dit was om hamburgers te verkoop wanneer die skou aan was.

Ek het in “Ontrekking Simptome” geskryf waar my liefde vir World Cup Soccer vandaan kom, en ek sal hierdie jaar kyk of die Tour de France my nogsteeds boei.  Maar behalwe vir skoonseun – en lyk my nou my kleinseun ook – wat kranige fietsryers is, en heide en vêr ry om aan fietswedrenne deel te neem, sien of hoor ek van geen sport meer nie.  Ai, hoe kan ek nou vergeet van my pragtige geboude skoondogter wat ‘n “Fitness instruktrise” is, en “boot camp” klasse aanbied, en self “cross fitting” doen, en daarin kompeteer!!!  Verskoon die Engels, dit is soos hulle hier praat, en ek wat nog korfbal gespeel, na plate geluister, en kiekies geneem het, sukkel om by te hou met alles.  Maar een ding weet ek wel, ek hou nie van rugby nie, en nog minder van rofstoei, maar ek is gaande oor Wêreldbeker sokker.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

12 Responses to Sport kort en kragtig

  1. Toortsie sê:

    O ek het ook die singery by die atletiek die heel meeste geniet. En by Intervarsity.

    Like

    • Kameel sê:

      Yep, daar was ‘n heerlike gees. 🙂
      my man was een jaar dirigent vir sy skool, en het hom so goed van sy taak gekwyt dat hy die van die meisies aan die huil gehad het so opgewerk was hulle. Kan net dink hoe hy tekere gegaan het…. hy het in sy jong dae die vermoë gehad om mense tot stilstand te bring op ‘n dansbaan, om vir hom te kyk. Nou moet ek seker sug en sê; “Those were the days!” 😉

      Like

  2. scrapydo sê:

    Baie dankie weereens vir deelneem aan Toeka-Tokkel. Ek het ook al vergeet van die rofstoei-storie. My pa het ook fanaties daarna geluister. Was darem lekker dae, so met die radio en jou eie gedagtes om die prentjie te vorm. Die interho-er se singery en opwinding was ook n lekker geleentheid, selfs toe ek skool gehou het was dit elke jaar die groot opwinding. Lekker gelees aan jou voorstelling

    Liked by 1 person

  3. Olga sê:

    Ek is nie ‘n sport toeskouer nie. Kan wel so bietjie netbal, tennis en karate verstaan. Ek onthou ook hoe my ouers maar meestal my wyse Moedertjie en haar suster voor die radio gesit het en hoe hulle “gecheer” het. Maar dis ook nie vir my nie. Ek lees eerder ‘n boek of gaan stap.

    Liked by 1 person

  4. Ek kan met trots sê dat ek nie by een interlaer, interhoër of intervarsity was nie. Ek het regtig beter dinge om te doen as om tot ‘n kaiing verbrand te word. 😉 Ek het net nooit die whoop ingesien nie.

    Ek is nie groot op die sport toeskouer ding nie. Ek vind dit snaaks dat die groot sportliefhebbers nie hulle agterente van die rusbank af lig nie. ‘n Groot teenstrydigheid.

    Like

  5. Spokie sny spoor sê:

    (Iewers het my 1ste kommentaar verlore geraak hier. Dink nie my huisrekenaar is aldag lekker nie…)
    Korfbal was ook vir my lekker.
    Het ook altyd van tafeltennis gehou, maar was glad nooit so goed soos die manne nie. Jy klink heel goedaangelê daarvoor.
    Oulik geskryf.

    Like

    • Kameel sê:

      Bly om te hoor jy praat ook nog van korfbal 🙂 Ek voel partykeer horingoud oor dinge wat ek sê en dan sê my kinderds, “huh” Erens langs die pad het dit mos netbal geword…. met so ‘n bietjie verandering in die reëls.

      Liked by 1 person

  6. Terug pieng: TOEKA-TOKKEL 6 : TELEFOON | scrapydotwo

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s