Ek en koerante

Iemand skryf op faceboek dat hy baie lief is vir sy koerante, dat hy omtrent al die koerante op die internet lees en dan nog in harde kopié ook. Ek gun dit vir hom.  Dit gaan eintlik, lyk dit my, oor mense wat deesdae kla oor koerante. Dan noem hy dat die mense wie nie koerante lees nie, waarskynlik ook nie eintlik ander goed lees nie. Dalk waar, maar na my mening ‘n growwe veralgemening. Of dalk is ek net die uitsondering op die reël? Wie weet? Ek is so die uitsondering op baie reëls, dalk sommer op hierdie een ook! Hy noem dat 9 uit die 10 keer dat mense wie daarop roem dat hulle nie koerante lees nie, se menings getuig van ‘n kleinburgerlike kopsprongetjie.

Nou ja toe.

Ek gun elke mens om te doen wat hy wil, al is dit nou om koerant te lees, maar sodra ek in die proses dalk beledig word net omdat ek dit anders doen, raak ek ietwat ongemaklik. Dalk is hierdie opmerking hierbo geskryf omdat ‘n nie-koerantleser ook beledigend geword het, wie weet?

Ek was nog nooit geinteresseerd in koerant lees nie. Ook nie in die politiek nie. Politiekery laat ek met graagte in die hande van dié wie daarin belangstel. Hoe goed hulle dit doen, is hulle saak, solank ek net rustig met my lewe kan aangaan.

As kind al het ek gegril vir koerante, jou hande het vuil gesmeer daarvan. My ouers het nie omgegee dat ek dit nie lees nie. ‘n Broer van my het wel een keer gesê dat ek nie die raaisels en ander speletjies in die koerant mag doen as ek nie die koerant ook lees nie. Toe het ek maar ophou koerantspeletjies speel…

Vir my skoonpa was die koerant heilig. Wat daarin gestaan het, was wet. As die koerant gesê het dit het by ons gereën, was ek baie duidelik verkeerd as ek sê hier het nie ‘n druppel geval nie. Of as die koerant gesê het die vuur is by die De Hoop Natuurreservaat, was ek verkeerd as ek gesê het ek staan en kyk hoe die vuur brand by Bredasdorp, en nie by De Hoop, 40 km verder nie…

Ja, daar is sekerlik mense wie NIKS lees nie. Nie koerante nie, ook niks anders nie. Dan het ek ook “koerantlesers” gesien wat net die opskrifte lees…

Ek luister RSG as ek middae op my rekenaar werk of as ek in die motor ry. Danksy RSG hoor ek die belangrikste nuusgebeure en ander inligting.

Ek lees graag boeke: Fiksie, maar ook boeke oor geloof, geldsake, mense in vervolgde lande, sielkundige boeke, spanningsverhale… Dan kry ek nuusbriewe van bv organisasies wat in Moslemlande werk.

Dalk is ek kleinburgerlik, of het ek kleindorpiementaliteit. Dalk is ek sommer affie plaas. 🙂 Dalk leef ek in ‘n wêreld van my eie. Ek gee nie om nie.

Wat ek wel weet, is dat ek ‘n KEUSE het om te lees wat ek graag wil, en ek wil beslis nie al die negatiewe goed lees waarvan die koerante vol is nie.

Vir julle wie lief is vir koerante: Geniet dit.

Groete

Toorts

Loer hier  vir my skakels na inskrywings oor boeke. 

14 thoughts on “Ek en koerante

  1. Lees is goed, ons doen dit daagliks sonder dat ons dit weet. Gaan doen maar inkopies, etiekette, advertensies teen mure en vensters. Ek het die drie weke geleentheid gehad om elke dag n koerant te kry. Ek lees ook maar opskrifte en dit wat vir my van belang is. Doen die blokraaisel dan is dit klaar. Self kry ek al vir jare nie meer koerant nie want ek lees dit nie rerig nie, selfde met tydskrifte. Radio nuus en TV nuus hou my op hoogte. Verdere sensasie trek my gladnie. Jy hoef nie sleg te voel. Ek dink daar is meer wat dit nie lees as wat daar is wat wel lees

    Like

  2. Voel presies soos jy oor koerante en politiek, al het ek in ‘n huis grootgeword waar politiek gepraat, en koerant deeglik gelees is. Al wat ek in die koerant wou lees was die “comic strip” Blondie en Nols 🙂

    Like

      1. Alles presies stiptelik. 10 uur tee. 12 uur eet. 4 uur koffie. 5uur eet. 8 uur tee. Kom jy tussenin kry jy niks want tee, of koffietyd is verby. En aan tafel was daar gebid en gedank!!! Daardie lange lange wag dat almal moet klaar eet.

        Liked by 1 person

  3. Ek stem, Toorts. Ek is ook lief vir lees, Hier by die werk kry ons elke dag die koerant, maar ek vas meestal daarvan. Die nuus daarbinne stem my baie negatief. Ek verkies positiewe leesttof, alhoewel ek weet die koerant bevat feite.
    Maar hoeveel moorde en hoeveel slegte nuus en hoeveel negatiwiteit wil mens in jouself inbou?
    Toksiese leesstof maak mens siek.
    Vir my was dit ook op ‘n stadium politiek, godsdiens en taal. Maar het ek genoeg gehad …

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op scrapydo Kanselleer antwoord