Vakansie jou lekker ou ding

Scrapydo se toeka-tokkel Vakansie

Ek het al heelwat geskryf oor my vakansies as kind, op die plaas in destydse Betsjoeanaland.  Dit sal altyd deel van my kosbaarste herinneringe bly.  Min het ek geweet dat in my getroude lewe, vakansies so ‘n groot rol in my lewe sou speel.  My eie ouers was nie werklik vakansiemense nie, maar my ma sou wel later jare sê dat daar net een mens is met wie jy op vakansie kan gaan wat dit die moeite werd maak, en dit is saam met Ken.

Vakansie is die towerwoord in ons gesin.  Oë begin skitter, tonge raak los, en almal is dit eens dat die die lekkerste tyd van ons saamwees was.  Met ‘n man, en dan ook ‘n pa soos Ken kon die vakansies nie anders as om ‘n belewenis te wees nie.  As daar nou een ding is wat Ken vas aan glo is dat jy een keer ‘n jaar met vakansie gaan, en jy hou vir hom deeglik.  Kan ‘n mens werklik ses kinders in ‘n kar laai, en vir sestien ure af Kaap toe ry.  Ken het geglo jy kan, en ons het dit dan ook jaar na jaar gedoen.  Soos my Hollandse vriendin vir my gesê het toe ek haar opgewonde van die wonderlike vakansie vertel waarvan ons net teruggekeer het; “Dit klink vir my na een groot nagmerrie, en dan bly jy sê, ‘O dit was so lekker.’”  Maar dit was nie net lekker nie, saam het ons as gesin geskiedenis gemaak.  Wonderlike herinneringe wat niemand van ons kan wegneem nie.

Ek weet nie werklik hoe om soveel “lewe” in ‘n paar woorde om te sit nie.  Miskien sal julle verstaan as ek sê ons motto was dat dit ‘n gesinsvakansie is.  As gesin het ons alles saamgedoen.  Saam die branders uitgery, saam op die strand gespeel, en kastele gebou.  Saam berg geklim; al was die stil kind op die skouers gedra, en Chantè van hand na hand aangegee omdat hulle nog te klein was om self te loop.  Saam na die museums gaan kyk (ons het ‘n ooreenkoms met die kinders aangegaan, ‘n dag op die strand, die volgende dag doen ons ‘n dagtoer, en bekyk die besienswaardighede. Die toerboek “Off the beaten track” het sy werk goed gedoen.  Voordat ons ‘n plek besoek het, het ek vir die kinders die geskiedenis daarvan gelees, en dit so vir hulle meer interessant gemaak.) So saam-saam het ons deur die jare die Kaap gelewe, getoer, geniet, en lief geraak vir hom.

1984 -0094 - CopyDie eienaardigste ding rondom die vakansies is dat die kar altyd een of ander skeet opgetel het.  Maak nie saak of hy nou voor die tyd gediens is nie, maar êrens gedurende die vakansie het hy sy streke begin uithaal.  Daar was die jaar wat hy net aan die brand gestoot wou word.  Nou met so ‘n kroos in die kar, is die stoppe baie, en niemand behalwe Ken, het die kar se gier onthou totdat ons almal in was, en sy sit gekry het nie… dit alleen was ‘n missie op sy eie.  Dan sê Ken “stoot,” en daar bondel ons almal weer uit, en begin stoot.  Laat ek sommer hier sê Ken het myle se plesier daaruit gekry.

Die ergste was egter die jaar van die bande.  Die kar het homself baie mooi gedra, en daar was sowaar hoop, maar oppad terug is ons skaars die Karoo binne of die regter agterwiel begin ‘n lawaai maak.  Ken trek af, maar met die oog is daar niks te sien nie; dus moet alles uitgepak word sodat hy by die gereedskap kan uitkom.  Dit is sowaar makliker gesê as gedaan – saam met vele ander dinge is die stootwaentjie, en vingerbord ook nog in die kattebak.  Daar in die warm Karoo word die taak toe aangepak, die wiel afgehaal… maar nogsteeds kan Ken nie die probleem opspoor nie.  Nadat alles weer gepak is klim ons in, en daar gaan ons, lawaai en al.  Nie lank nie of die kar begin so gallop, gallop.  Met die aftrek vind Ken dat die agterste band ‘n groot “bubble” gemaak het.  Die proses van vroeër word herhaal sodat hy die spaarband kan opsit.  Dit was net die begin, hierdie proses sou deur die dag weer, en weer herhaal word soos die bande een na die ander “bubbles” gemaak, en afgeklim het.  Op een stadium het ons in langgras uitgeklim, en gewag dat Ken plan maak.  Nie lank nie of die kinders begin op en af spring; die gras is die ene vlooie, en die kinders loop onder dit deur.

Laat daardie middag ry ons hinke-pink Kroonstad binne.  Om enigsins verder te gaan kort ons ten minste twee bande, maar dit is vakansiedag, en alles is toe.  Die enigste uitweg waaraan ons kan dink is die Baptistekerk se pastoor.  Met heelwat gevra stop ons uiteindelik voor hulle erf.  Ken gaan klop aan die deur, en verduidelik ons dilemma.  Ons soek nie slaapplek nie, ook nie geld nie, net hulp om iemand wat in die motorbedryf is te bel, en hoor of daar nie êrens twee bande beskikbaar is nie.  Vir ‘n oomblik vergeet die pastoor van die Woord wat sê; “Do not forget to entertain strangers, for by so doing some have unwittingly entertained angels.” (Dit sê ek natuurlik met die tong in die kies.)

Ons pastoor word eers gebel om te hoor of ons is wie Ken sê ons is.  Gelukkig is ons op goeie voet met ons pastoorspaar… hulle het net die vorige week ‘n paar dae by ons op Stilbaai deurgebring.  Intussen laat die pastoorsvrou nie op haar wag nie.  Sy kom uit en nooi ons hartlik binne.  Ons moes maar ‘n droewige prentjie geslaan het, so moeg en natgesweet na die dag se drama.  Sy laat haar egter nie afsit nie, maar maak toebroodjies en tee, en nadat sy seker is ons mae is vol, tap sy water sodat ek vir Chantè – toe vyf maande oud – kan bad, en skoon aantrek.  Die groter kinders word ook verfris, en toegelaat om in haar mooie sitkamer te gaan sit en wag totdat die mans terugkeer met die “nuwe” tweedehandse bande.  Ek keer toe sy vir ons toebroodjies vir die pad ook wil maak, en ons neem met diepe dankbaarheid van hulle afskeid.  ‘n Halfuur voordat ons die mielielande binnery het, het die laaste band moed opgegee, en al kruipend het ons uiteindelik die huis gehaal.  Was dit ‘n lekker vakansie… ja!!! heerlik, bande en al.

Hierdie is maar net ‘n druppeltjie in die emmer vol vakansieondervindinge….. maar vir eers is dit genoeg.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

17 Responses to Vakansie jou lekker ou ding

  1. Sonlig sê:

    Dink ek nou skielik aan ‘n keer toe my broers in ‘n sak moes piepie sodat my pa dit in die kokende “radiator” kon gooi. Hoe bly was ek daardie dag ek is ‘n dogtertjie…alhoewel…my broers het gedink dis uiters koel dat hulle die dag kon red. En dit het ons ook glad nie afgesit van vakansie hou nie! 🙂

    Like

  2. karen sê:

    So ‘n geduldige liewe man 🙂

    Like

  3. scrapydo sê:

    Baie dankie vir jou vertelling, dit spreek beslis boekdele. Dit neem mens se gedagtes lekker terug na die goeie ou dae met versoolde bande en kokende enjins. Lekker gelees.

    Like

    • Kameel sê:

      Nogal gedink terwyl ek skryf aan vandag se voertuie wat sekerlik nie vir soveel katastrofes sorg nie.

      Like

      • scrapydo sê:

        Nee wat, as hul breek kan jy hom maar op ashoop gooi. Daardie dae kon jy nog regmaak langs die pad. Of iemand kon help stoot. Vandag sn kan mens nie eers meer lekker aanstoot nie. Ons het ook winteroggende moes opstaan om moter aan die gang te stoot

        Like

  4. seegogga sê:

    Ek glo mos: dis die katastrofes wat die vakansies spesiaal maak|!

    Like

  5. Toortsie sê:

    Hoe geniet ek nou hierdie bloginskrywing! Jy sal sowaar nog BAIE moet vertel. Ek dink, sommer ‘n hele reeks oor julle vakansies saam.
    So ‘n hele gesin… groot gesin… wat uit die kar bondel om hom te stoot MOES ‘n mooi gesig wees! In ons kinderdae was dit nie heeltemal so vreemd dat ‘n kar aan die brand gestoot moes word nie, deesdae sien ‘n mens dit baie min.

    Like

  6. Spokie sny spoor sê:

    Wat ‘n lekker storie … Dit laat my so dink aan die vakansietye saam my ouers. Hulle kar moes alewig aan die brand gestoot word en was my ma se senuwees klaar by die op en afdraandes, omrede die brieke nooit goed was! Hulle was natuurlik ook Herderspaar en moes daardie jare op ‘geloof’ lewe. Geldjies was dus skraps.

    Ek het vroer jare gedog dis normaal dat karre aan die brand gestoot moes word.
    Dankie, lekker gelees.

    Like

  7. Terug pieng: Toeka-Tokkel 5 : Sport en volgende 5 onderwerpe | scrapydotwo

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s