Toorts se Toeka-tokkel Vriende

In opdag van Scrapydo.

‘n Mens kry vriende, en jy kry kennisse. En beide van hierdie kom in verskillende vlakke.

My vriende is verskillend, wat verskillende dele van my siel raak. In hierdie bloginskrywing gaan ek vertel van my vriende en ander kosbares wie se name met ‘n A begin…

My broer was voorheen getroud met ‘n vrou, A. Ons was skoonsusters, maar ook vriendinne. Ewe oud, in dieselfde jaar getroud, so ons is deur dieselfde krisisse op dieselfde tyd. Toe hulle egter skei, het daar ietwat vervreemding plaasgevind. Ek was op ‘n eiland, verlore.

In daardie tyd trek ons, en op ons dak-natmaak, ontmoet ek die tweede A. Sy sê daardie aand van ‘n ander dak-natmaak wat hulle bygewoon het, en hoe dat hulle sulke goeie vriende geword het. In my hart wens ek: “Mag dit ook met ons gebeur.” Dit hét. Ons het hartsvriende geword. Toe sy later wegtrek, was ek benoud dat ons vriendskap ook sal taan, maar dit het nie. Al probleem: Sy woon nou ‘n bietjie verder en ek kan nie gereeld gaan kuier nie.

Maar God weet! En Hy stuur vir my die derde A. Wát ‘n geskenk van die Here. Iemand wat die moed het om vir my reg te help indien nodig. Iemand met insig. Iemand met wie jy die pad kan stap…

Die vierde A het ek op ‘n skoolkamp ontmoet. In standerd 6. Sý is ‘n geloofsmaat, ‘n bidmaat. As ons gesels, is dit meestal oor dinge waar ons God sien werk in ons lewens. En mag ek julle ‘n geheim vertel? Sy is ook my blogmaat, Bokbaaivygie! Oor baie jare heen, het ons vriendskap bly staan. Ons sien mekaar dalk een maal per jaar, maar ons weet van mekaar. Ons is net ‘n sms ver. As iemand gebed nodig het… sms.

Daar is sowaar ‘n 5e A! Niemand anders as ons eie Seegogga nie. Ek het al vir jare my goed by haar laat raam, maar danksy blogland het ons vriende geword. Watter wins! Sy is vir my baie kosbaar en iemand wat ek met groot geheime vertrou. Dankie Seegogga!

Dan is daar my broer, A. O, jy is sooooo kosbaar vir my. Baie kosbaar. En sonder dat jy dit besef, raak jy al hoe meer soos ons pa.

Saam met my broer, is sy seun, A. Oor hom voel ek soos my eie kind. Eintlik voel ek oor al my broers se kinder só. Raak aan hulle en jy raak aan my. Oppas! 😯

A staan ook vir een van my Struisbaaipelle. As ek aan haar dink, dink ek aan statigheid, rustigheid, goeie vriendskap oor jare.

Word vervolg…

Toorts

Wie is jou vriende? Hoe voel jy oor vriendskap?

 

 

 

19 thoughts on “Toorts se Toeka-tokkel Vriende

  1. Wel dit is nou n wonderlike reeks A vriende. Elkeen met sy eie eienskappe sodat jul mekaar net op regte plek en tyd aanvul. Dankie dat jy deel geneem het. Ek gaan my persente skryf en hopelik n kansie kry om dit op my blog te sit wat op oomblik nie hier werk nie!

    Like

  2. Hi – wou nog vra, wat het van julle “Header” geword? Al die mooi prente is weg?

    Daar is baie mense in my lewe wat ek ook ‘n A sal noem of gee. Ek het natuurlik een ‘weird’ (soos ander haar noem) vriendin wat mens ‘n A+ voor kan gee. Sys ‘n afgesonderde alleenloper met God, en het nie veel vriende. Gewoonlik wanneer ek getap en laag is omrede van ander bedien, is sy die een wat my geestelik weer inspuit. Ek dink God stuur hierdie mense op jou pad. Klink vir my Bokbaaivygie is so iemand ook. Mens verloor hul nooit.

    Seegogga ken ek nog nie goed, maar hou van wat ek sien in haar. Kameel is natuurlik vrek-oulik! Hoop jy sê haar so. En jy Toortsie – is sowaar ‘n liggie, soos jou naam dit sê. Ek hou van jul blog. Hou van die manier wat jul openlik jul christenskap uitleef. Mag jul 3 net van krag tot krag gaan in 2015!!!

    Like

  3. Hoe leeg sou ons wêreld sonder vriendinne gewees het. Met wie anders kan jy jou hart so openlik deel as met ‘n goeie vriendin? Voorwaar ‘n gawe van God!!!

    Like

  4. Ek het een vriendin wat al veertig jaar sam met my die pad gestap het.Toevallig is ons ewe oud,op dieselfde dag gebore.Soms voel sy soos ‘n spieëlbeeld van myself.Ons ma’s het net vier dae in ouderdom verskil.Haar ouers kom van Rotterdam en my pa was ook van Rotterdam.

    Like

  5. Wat my die afgelope tyd verbaas het, is dat ek vriende maak met mense reg oor die wêreld, deur middel van sosiale media. Dit klink miskien vreemd, maar so ‘n vriendskap kan amper net so vervullend wees soos die een waar julle van aangesig tot aangesig ontmoet. Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie vriendskappe gaan ontwikkel nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!