Toeka-Tokkel – Vroegoggend

OLYMPUS DIGITAL CAMERAHierdie week se “uitdaging” van Scrapydo se Toeka-Tokkel, gaan oor vroegoggend. Laat ek sommer hier sê vroegoggend en ek is nie maats nie.  Nou se dae is daar ‘n naam vir dit…. Ek is nie ‘n “oggendmens” nie.  Klink darem beter as om te hoor jy is sleg omdat jy nie in die oggende uit die vere wil klim nie, maar laataand onder die komberse lê en boeklees.

Die enigste aangename vroegoggend herinneringe wat ek het is vakansies op die plaas.  Dit was nog donker wanneer my oupa en ouma se stemme uit hul slaapkamer, ons wakker gesing het.  Nog half deur die slaap het jy na jou klere gesoek, en aangetrek.  Wanneer jy gaap-gaap in die kombuisdeur verskyn was my oupa besig om die koolstoof aan te steek.  Daar is nie veel gepraat nie; wanneer die reuk van koffie in die lug hang, en my oupa sy beker koffie drink weet jy die dag gaan breek, en kort voor lank gaan jy saam met hom krale toe stap om kallers te help uitjaag, sodat die koeie gemelk kan word.

Verder weet ek nie veel van oggende nie, behalwe dat ek moes opstaan om skool, en later werk toe te gaan.  Ek kan vir geen oomblik dink dat ek bewus was van voëltjies wat sing, en duiwe wat koer nie.  Ek het dan ook min sonsopkomste in my lewe gesien.  Ek stem saam met Otto Koning se vrou Carol.  Hulle was sendelinge in Irian Jaya, en die dag toe hy vir haar sê dat sy vroeër in die oggende moet opstaan want sy mis die pragtigste sonsopkomste het sy gesê, “If the Lord wanted me to see these sunrises He would have scheduled it for later in the day when I am awake.”

Dit het nie veel beter met my gegaan toe ek ‘n huisgesin van my eie gehad het nie.  Shane was in die Engelse skool en moes al kwart voor ses loop om die bus te haal.  Oggend na oggend het ek vas aan die slaap voor ‘n pot mieliemeelpap gestaan en roer.  Die kinders het geweet hulle kom nie in die oggende na my toe met ‘n skoolbriefie wat nog geteken moet word of ‘n toets wat na gekyk moet word nie…. enige ding wat breinkrag vra was taboe.  Soos ‘n outomaat het my hande hare gevleg, gesigte room gesmeer ens. maar dit was al waartoe ek in staat was.

Aangesien ek stelselmatig wakker word, is my oggende rustig.  Ek bad en trek nie aan voordat ek stiltyd saam met die Here gehou het nie.  Menigmaal het iemand aan my voordeur kom klop, en dan was ek nog in my japon.  Ek het japon en al, heerlik saam met die persoon sit en kuier.  Ja, my ma en susters het hulle koppe geskud, en tonge geklik…. en my ousus het sommer prontuit vir my gesê ek is net sleg, maar is ek?  Ek is definitief nie ‘n Martha nie, maar ek is tevrede met wie ek is.

Nou jare later is daar nie veel verandering nie.  Ek word so halfagt wakker, groet Ken wat al ‘n paar uur op is, en in die sitkamer sit.  Hy het ook al geleer om nie in die oggende met my te gesels nie.  Ek sal so hier en daar iets kwytraak maar gee my asseblief eers tyd om wakker te word.  Ek kyk op my telefoon wat daar op ons gesinsgroepie geskryf is, en lewer kommentaar indien nodig.  Dit is lekker om op diè manier met mekaar kontak te hou.  Lekker om my kinders elke oggend te groet en seënwense oor hulle uit te spreek.  Daarna eet ek my ontbyt, en soos nog altyd my gewoonte was, hou ek stiltyd voordat my dag in volle swang begin.

14 thoughts on “Toeka-Tokkel – Vroegoggend

  1. Ek is geseënd met ‘n rustelose wederhelf,wat douvoordag die voëls wakker maak.Deesdae slaap hy darem ook bietjie later en ons staan sewe-uur op….darem nie te vroeg nie,of hoe?

    Like

  2. Dis uitstekende! Ek het dit nou baie geniet om saam met jou laat te slaap. Dit gebeur nie sommer hierdie kant nie. Jy het beslis ons n kykie gegee hoe lekker dit kan wees om soggens “rustig” op te staan. Stiltetyd is natuurlik ook maar no 1!

    Like

    1. Ek het al gewens ek was ‘n oggendmens, “busy like bees.” maar helaas ek moes maar vrede maak met myself. Moet darem sê wanneer ek opstaan en die gordyne, vensters en deure oopmaak, lyk die wêreld vir my te pragtig. Maar sommer daar en dan begin lewe, dié kan ek nie.

      Like

      1. Ek wens party dae weer dat ek bietjie kan laat slaap. Dit gaan darem al beter . Ek staan nie meer op as dit lig word nie. Sodra sewe uur klop dan moet ek uit en aangetrek wees. Dis nou al van 2009 dat ek nie nodig het om vroeg op te staan nie, maar ai dit wil maar nie regtig gebeur ni

        Like

        1. Jy laat my aan my sus dink wat vroegoggend al aangetrek handsak in die hand staan, reg vir die dag. 🙂 Behalwe vir in die hospitaal het ek haar nooit in ‘n bed gesien nie.
          Wees maar bly jy is oggendmens…. dit is meer “normaal” 😉

          Like

          1. Ha ha ek weet darem nie van normaal nie! Partykeer gladnie lekker as almal lekker rustig is en ek moet stilletjies beweeg om niemand wakker te maak nie! My ouers het Sondae laat geslaap en bewaar jou siel as jy n geluid maak voordat hul opstaan!

            Liked by 1 person

  3. Jaaaaa! Ek verstaan! 100 persent! Gee my kans om op my tyd wakker te word en ek gee jou meer as’n dag se werk.
    My man het baie jare geneem on dit te verstaan en ek dink hy verstasn steeds nie.

    Like

    1. Dankie tog daar is iemand wat verstaan 🙂 Die newels moet mos eers lig voordat ‘n mens kan begin lewe.
      Gelukkig verstaan my man hierdie deel van my, en gee my baie grasie.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Kameel Kanselleer antwoord