Onverwags herinner dit jou… (Verlies 3)

Hierdie inskrywing is deel van ‘n opdrag reeks waar ek oor ‘n verlies moet skryf.
Die brein is so ‘n wonderlike orgaan. Die vreemdste iets kan jou laat onthou van ‘n gebeurtenis lank gelede, kan jou herinner aan iemand.
Toe my pa destyds oorlede is, het ek normaalweg getreur, ek wou hom hoeveel keer bel om iets te vra. As ek op die dorp was het ek hom hoeveel keer sien loop, net om te besef dis iemand anders. As ek in my gang met al die portrette geloop het, het dit gevoel of sy gesig amper uit die foto’s na my afbuig, meer prominent as die ander gesigte.
So ‘n maand ná hom, is ‘n vriend van hom oorlede. Ek het net nie die moed gehad om die begrafnis by te woon nie. Dié oom was bekend vir sy Friesperde. Toe ek by die kerk verby ry, staan die lykswa daar, die antieke begrafniskoets met die pikswart perde. Ek het my kinders gaan haal en die stoet ingewag sodat hul dit kom sien, en my huile gehuil soos nooit tevore nie.
‘n Lemoen laat my baie keer dink hoe ek saam met hom op die plaas rondgery het, en hy dan in die winter ‘n klompie lemoene sou saamneem. Ek sou dan vir ons die lemoene afskil. Een dag, elke keer as die lemoen klaar geskil is, is sy een al klaar geëet. Dan gee ek hom die volgende een. Die gedagte was dat die laaste een myne sou wees. Toe ek die laaste een skil, was dit vrot. Hy het net daar huistoe gery sodat ek vir my ‘n vars lemoen kon gaan haal.
Hier by die see het ons altyd in die middag so seelangs gery tot by Suiderstrand en die bote getel. Nou verstaan julle seker hoekom ek bewus is van elke boot wat hier om die suidpunt vaar.
Soms dink ons ons het al iets verwerk, dan gebeur die kleinste, onverwagste ding wat ons heeltemal van ons voete af ruk. Veral as dit iets sleg is, gooi dit ons nog méér om. Dis normaal en heeltemal deel van die heelwordproses. My broer is al 7 jaar dood en veral met sy dood het ek baie woede gehad om te verwerk.  Deur dit keer op keer vir God te gegee het, kan ek met oortuiging sê dat die dinge verwerk is. Selfs nou nog kan iets gebeur wat herinneringe oproep, maar met dieselfde oortuiging kan ek sê dat dit my nie meer ontstel nie. Dis genesing.
Mag ook julle genesing vind. Gee jouself tyd om dinge te verwerk. Oor en oor en oor. Gee dit elke keer vir God, sê vir Hom as jy swaar kry. Moenie jouself onnodig druk nie. Vergewe herhaaldelik jouself én die ander persoon.
Mag jou swaarkry herinneringe minder word. Mag jou mooi herinneringe meer word.
Sterkte vir jou.
Toortsie

Ek nooi jou om op ons Faceboekblad, Toortsie, Kameel en Bokaaivygie se faceboekblad, te kom lees hoe een van ons lede oor haar verlies geskryf het. Dis só mooi. En sou jyself ook oor hierdie onderwerp wil skryf of reeds geskryf het, nooi ek jou om die skakel hier op hierdie post, of op ons fb blad te plak.

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Die lewe, Geleefde Christenskap and tagged . Bookmark the permalink.

26 Responses to Onverwags herinner dit jou… (Verlies 3)

  1. Verlies is nooit maklik nie en mens kry nie ‘n klein of groot verlies nie. Tog is die las van nooit-geken-het-nie ‘n bietjie swaarder. So het ek en my broer nooit ons ma se pa geken nie. Hy is tien jaar voor my geboorte dood. Dieselfde verlang wat ek in my voel, brand in my broerskinders. Hulle sou graag hulle oupa Kop wou ken. My pa!

    Like

    • Toortsie sê:

      Ja. Ek het nooit enige van my oupas geken nie. As ek sien watter fees my kinders met hul oupas gehad het, is ek amper jaloers. En soos jy sê, daar is nie groot pyn en klein pyn, of myne is erger as joune nie. Terwyl jy daarin is, is dit erg. Alhoewel, ek kan nie dink dat daar erger pyn kan wees as die verlies van ‘n kind nie. Of ‘n jong kind wat ‘n ouer verloor nie. So dankbaar dis tot nou toe vir my gespaar.

      Liked by 1 person

  2. seegogga sê:

    Pragtig geskrywe, Toortsie. Jy het so raak beskryf hoe daardie gesprek tussen jou en jou pa eintlik nooit klaarkry nie. Ek vind dit ook so met my ma. Ek glo hierdie skrywe sal iemand help wat nog nie verlies verwerk het nie.

    Like

  3. scrapydo sê:

    Die seer is nie groter of kleiner as ander nie. Dis waar. Daar is ook die jong kind wat n ouer verloor wat volgens my dalk n groot seer is. Ons as volwassenes verstaan dit nie, hoe moet n kind dit verstaan! My kind was 12 toe sy pa selfmoord gepleeg het. Hy het n hele jaar gewroeg. My pa is n jaar later dood en na die begrafnis het my kind se botteltjie oopgebars en kon al die ongelukkigheid en hartseer uitkom.( Is maar ma se kind- hou alles vir jouself!)Alles het veral gegaan oor wat mense se van selfmoord wat my kind geheel om daardie stadium amper gebreek het.

    Like

    • Toortsie sê:

      En mense sê vreeslike dinge oor selfmoord. Ek weet.
      God het so ‘n manier om my voor te berei vir iets. Een aand by ons bybelstudie het die dominee met ons kom praat. Hy sê toe dat God se vergifnis Alles dek, ook die laaste verkeerde ding wat jy dalk in jou ewe gedoen het. Dit dek ook die ding wat jy doen in ‘n tyd van jou lewe wat jy nie by jou volle positiewe is, dalk erg depressief is, soos selfmoord. Dit was vir my so ‘n gerusstelling toe my broer sy hand asn sy lewe probeer slaan het. Hy het toe oorleef en so die Here se pad probeer loop, te midde van baie chaos. Ons kan gelukkig nie besluirt wat met so iemand gebeur nie. Net God kan, en Sy genade strek baie ver en wyd.

      Liked by 1 person

      • scrapydo sê:

        My kind het gewroeg met idee dat sy pa hel toe is omdat onderwyser gese het dis die grootste sonde wat daar is! Gelukkig kon ek mooi met hom praat en se dat Pa beslis hemel toe is omdat hy n gelowige en goeie mens was al het dit soms maar gelyk of hy met tye nie menslik “reg” reageer het nie.

        Like

    • Ek het een aand (terwyl ek en kollegas by ‘n groot geleentheid uitgewerk het) die tekens gelees dat iemad wil selfmoord pleeg. Toe ons uiteindelik van diens afgaan en na ons oornagplek kan gaan, wag die ambulans ons in. Genadiglik was dit net ‘n poging en kon die persoon behandeling vir die donkerte wat dit aangepor het, ontvang.

      Ek dink met deernis aan julle almal wat al deur moeilike omstandighede worstel wat verlies voor julle deure gelê het.

      Sterkte.

      Like

  4. Kameel sê:

    Tog eienaardig dat ‘n mens met dié wat nie meer daar is nie, dinge wil deel. Dit is hoeveel jare na my ouers se dood, en nog besluit ek ewe skielik ek wil gou my ma bel en vir haar iets sê, of vir my sus iets vertel want dit sal haar laat lag.
    Die mense in ons lewens is voorwaar ‘n gawe uit God se hand.

    Liked by 1 person

  5. perdebytjie sê:

    Hoe ouer ek word,hoe meer mis ek dit dat ek nooit my pa se ouers geken het nie.Ek onderdruk altyd my emosies,maar die afgelope week voel ek depressief en verlang vreeslik na my oorlede ouers.

    Like

  6. scrapydo sê:

    Stem vir n vrolike storie! Ek praat nie sommer oor die gevoelens wat my so diep raak nie. (is al 21 jaar na my man se dood en Augustus bly steeds my beste en slegste maand elke jaar!) Gee ons n lekker onderwerp!

    Like

    • Skryf bly die lekkerste (beste) manier om iets uit jou lyf te kry. Ek skryf hoofsaaklik fiksie, maar selfs dit vind ek baie terapeuties.

      Dit wat ek graag skryf, kyk na die donkerkant van die lewe, want ons durf nie daaroor stilbly nie. Dis lekker om dit te skryf. Jy mag jou verbeelding laat hardloop tot daar waar die Here nie land gegee nie. Tydskrif- en liefdesverhale verg groot dissipline – soos julle sal weet. Daar is so baie moets en moeniese. Baie mense lees juis hierdie literatuur om te ontspan en te ontvlug. En ek skryf dit om te ontvlug.

      Die relaas (jammer, maar ek het buitengewoon baie woorde om vandag op te gebruik) net om te illustreer dat skryf ander funksies as net kommunikasie-metode in die mens se lewe vervul.

      Hou daarom aan om te skryf. Dis goed vir jou.

      Like

      • scrapydo sê:

        Dankie, ek stem saam. Ek het nou al vir drie jaar elke Vrydag deelgeneem aan n skryfklas wat by ons plaaslike bib aangebied word. Die aanbieder is al 90 jaar en oud onderwyser. Sy het die interessantste dinge wat sy vertel. My skryfwerk het self baie verbeter en ek voel al baie meer gemaklik om oor dinge diep binne my te skryf en dit te deel met die groep.(Natuurlik goed vir my Engels!) Ons moes hierdie jaar n boek saamstel oor ons ervarings van die verlede. Ek het dit vir Kersfees aan my seun gegee!

        Liked by 1 person

      • Toortsie sê:

        Ons gee nie om vir baie woorde in die kommentaar nie. Jys welkom

        Liked by 1 person

  7. Terug pieng: Teruggekry | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  8. Terug pieng: Toorts se Toeka Tokkel oor paaie, “lost & found” | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s