‘n Verlies (Verlies 1)

Die opdrag is: Skryf oor ‘n verlies wat jy gely het, iets wat deel van jou lewe was en nie meer is nie.

Ek het twee baie groot verliese gely. Die een was my pa en die ander my broer wat ek verloor het. Ek gaan vandag skryf oor my pa.

My pa was ‘n wonderlike mens. Nie net omdat hy my pa was nie, hy was regtig ‘n liefdevolle mens, ‘n gentleman. Nou die dag het ek ‘n foto van hom op faceboek gesit, en iemand wie ek nie eens gedink het hom geken het nie, het gesê dat hy ‘n gentleman was.

My pa is al in 1999 dood, en regtig, ek is lankal oor sy dood. Hy het nie baie oud geword nie. Hy het probleme met sy longe gehad, en eintlik was hy vir baie jare vir ons geleen.

Vroeg in Februarie 1999 het hy by my op die plaas kom draai, en sy neus het vreeslik aan die bloei geraak. So neusbloeiende, met my 5 jarige dogtertjie saam met hom en ‘n handdoek om die neus te help, is hy daar weg. Die gedagte wat in my kop gekom het, was: “Hoe lank gaan ons hom nog by ons hê?”

Hy is in Maart van daardie jaar oorlede. Hy het ‘n stukkie beesborsstuk geëet en ‘n beentjie ingesluk. Hy het vreeslik pyn verduur en is opgeneem in die hospitaal. Ongelukkig het hulle die hele tyd op sy hart en longe gekonsentreer en nie besef dat die fout by die slukderm is nie. Die slukdermfout het hulle so ‘n week later ontdek.  Ek dink nie ek moet vir julle die detail vertel nie, maar 6 weke later, na verskeie operasies, is hy oorlede.

Die tyd in die hospitaal was vir my baie kosbaar. My ma was maar die meeste van die tyd by hom, maar ek het haar elke week so vir twee dae gaan aflos.  In daardie tye het ek sommer by hom gesit en lees, maar ook baie nonsens gepraat. Hy was ‘n regte grapmaker en selfs in die hospitaal was daar nie aan sy humor te keer nie.

Ons was baie naby aan mekaar. Ek kon hom alles vertel, en dit wat ek hom nie vertel het nie, het hy in elk geval geweet.

So, toe hy dood is, was dit ‘n groot verlies, maar nie ‘n tragedie nie. Ek het vrede daaroor ervaar. Hy het ‘n goeie lewe gehad en was goed vir baie mense. ‘n Regte voorbeeld.

Waaroor ek baie bly was, en steeds is, was dat hy wel nog kon huistoe kom. Ek het die dag saam met hom in die ambulans gery, en ek onthou hoe hy die Rûens gekyk het. Wat sou toe deur sy kop gegaan het? Hy is so ‘n week later oorlede.

Hierdie bloginskrywing is deel van ‘n reeks. So sê die opdrag. Wat en óf die opvolg gaan oplewer, weet ekself ook nog nie.

Het jy ook ‘n verlies gely? Dit hoef nie ‘n mens te wees nie. Enige iets wat deel was van jou?  Skryf daaroor op jou blog en kom “tag” my.

Groete

Toorts

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Die lewe. Bookmark the permalink.

19 Responses to ‘n Verlies (Verlies 1)

  1. scrapydo sê:

    Nou roer jy n baie sagte en hartseer snaar aan. Ek weet nie of ek regtig sal kan skryf daaroor. Ek het wel vir my skryfgroep n stuk in engels geskryf. Mag ek dit maar in Ingels plaas!?

    Liked by 1 person

  2. Kameel sê:

    Dit is wonderlik om te kan terygkyk en jy het so ‘n goeie verhouding met jou pa gehad. Dit is nie alle mense beskore nie. Mooi geskryf.

    Liked by 1 person

  3. scrapydo sê:

    Ek stem saam met Kameel, dit is wonderlik om n pa te kon he wat so baie vir jou beteken het. Ek het toe gaan kyk in my argiewe, ek het toe nie die skryfwerk alles gepos nie. Ek het wel van hulle vir my skryfgroep gebruik! Lekker skryf!

    Like

  4. Ek het my pa ‘n maand terug verloor. Dit is nog baie seer. Jy het nou my traankliere aan die werk gesit!

    Liked by 1 person

  5. Mooi stukkie. My eie pa was ook ‘n besonderse man. Mag ons hul altyd onthou vir die voorbeelde en hul nougesette lewenswandel. Iets wat raar is in hedendaagse tyd. Ek kyk uit vir jou volgende skrywe.

    Liked by 1 person

  6. Terug pieng: Die verhouding tussen ‘n pa en sy dogter (Verlies 2) | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  7. Terug pieng: Teruggekry | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

  8. seegogga sê:

    Dis snaaks hoe ‘n mens se ouers heeltyd in jou kop en denke bly, al is hulle lank reeds oorlede. Jy wonder wat hulle hiervan of daarvan sou se, jy wens hulle kon dit of dat sien, jy wil hulle hiervan of daarvan vertel, jy wil vir hulle dit of dat vra…. hulle bly net daar: in jou gedagtes. Eers is dit erg. Later is dit is nogal ‘n troos.

    Like

  9. Terug pieng: Toorts se Toeka Tokkel oor paaie, “lost & found” | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s