Emo kon sy lus nie beteuel toe tannie Poppie so vertel van die skilpadjies wat sy maak nie. Sy kon ook nie glo dat daar nog jongmense is wat weet wat dit is nie. Ek glo darem my eie kinders weet wat dit is… oftewel, ons noem dit maar net gewoon lewer-in-netvet.
‘n Vriendin van die Karoo bring altyd sulke lekker skilpadjies saam wat ons op die kole braai. In my jong- en fluksdae het ek ook skilpadjies gemaak. Jy sny stukkies lewer en draai dit met netvet toe en steek dit sommer met ‘n tandestokkie vas. Dan braai jy dit op die kole. Heerlik! Blink om die mond lekker. Beslis nie vir verslankers nie! 😦 … tensy jy Banting doen! 🙂
Ek volg die resep in Kook en Geniet, en maak Molshope (ek hoop ek het die regte benaming beet).
Jy trek een skaaplewer se velletjies af, sny dit in stukkies en maal dit fyn. (Ek sien nou nogals mens kan die nier- en stertvet saambraai. Ek het dit nog nie gedoen nie, maar dán sal dit BEHOORLIK lekker wees!)
Kap ‘n ui fyn, of maal dit ook fyn.
Voeg die volgende bestanddele by die gemaalde lewer en ui:
12.5 ml (1 eetlepel) asyn
3 eiers, geklits
1 eetlepel meelblom (Vir Banting, gebruik klappermeel of amandelmeel)
Sout en peper
Gebruik ‘n groot oondplaat en lê die netvet (die vet om die maag van die skaap) oop in die plaat. Dit lê dan soos ‘n kombers die hele plaat vol. Ek sny die harde stukke vet af, wat jy natuurlik vir kaiings kan uitbraai, of vir die hond gee.
Gooi die lewermengsel in die vet.
Nou het jy ‘n naald en garing nodig. Maak die garing sommer van die begin af dubbeld. Bring die randte van die vet bymekaar en werk dit aanmekaar vas met die garing. Ek werk sommer sulke dubbele steke dat dit stewig vas is.
Strooi ‘n bietjie braaivleissout oor die hele besigheid.
Bak in oond (180ºC) tot dit bruin en gaar is.
Njam. Lipleklekker
Ai, Oom Tim sal ook hiervan hou! Ek wéét sommer. 🙂
Weet julle wat is die heel lekkerste ding van lewer in netvet? Die niertjies wat jy langsaan in die pan bak. Sjoe!
Lekker eet!
Toorts
Ns. Soos altyd is die bedoeling van hierdie bloginskrywing nie om iemand te oortuig om Banting te doen nie. Dit is en bly elke persoon se eie keuse en ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir iemand wat kies om die Banting eetprogram te volg nie. Praat eers met jou dokter, en hou matigheid voor oë. Die feit dat ons lewer in netvet mag eet, beteken nie dat ons in een hou die HELE lewer moet opeet nie, alhoewel, dis so lekker, mens kan dit amper doen! 😉
Vir nog Banting resepte, kyk by Pinterest:
Ek “like” dit omdat dit lewer is, maar self gaarmaak, aikona. Ons glo vas net my ma kon lewer gaarmaak, en na haar dood het lewer afgesterwe in ons familie.
Jy is nog fluks om sulke geregte te maak!!!! Ek het nou op ‘n stadium gekom wat ek sommer uit Food Lovers Market, sou wou eet. Ek doen dit natuurlik nie 😦
LikeLike
Dit gaan eintlik gou. Ek is maar ‘n lui kok.
LikeLike
Ek maak sommer 3 op ‘n slag, dan hoef ek vir lank nie weer te maak nie.
LikeLike
Mmmm, lekker! Ek hou ook van beeslewer wat in stukke gesny, in meel gerol en met baie uie gaar gemaak word!
LikeLiked by 1 person
Ja! Met vacon en uie daarb gebraai en suikermielies. O hoe lus is ek nou.
En lewer in suursous
LikeLiked by 1 person
Hier by ons is ‘n winkel wat die heerlikste lewerkoekies verkoop
LikeLike
Lewerkoekies maak ek nooit. Ons het dit altyd in die koshuis gekry en ek was lief daarvoor.
LikeLiked by 1 person
Dis heerlik. My man het my “geleer” om n skaapstertjie, spek, tamatie, aartappels en groenboontjies saam te kook! Dis HEERLIK, stertjie gee dit daardie ekstra lekker smaak!
LikeLike
Heerlik.
LikeLike
Mmmm – sjoe, wanneer kan ek draai by jou? Net jammer jy is aan die anderkant van die ou Transvaal.
LikeLike
Baie ver van die Transvaal af.
LikeLike