Roomkaas Pizza

Vir jare al is ons lief om op ‘n Saterdagmiddag ‘n pizza te maak. Maar pizzabasis het meel in, en ek doen mos Banting… hoe nou gemaak?

My aangepaste resep van ‘n roomkaaspizza lyk só:

Kors:

250 g roomkaas

2 eiers

swart peper

knoffelpoeier

½ koppie gerasperde kaas. (Ek het sommer Gouda gebruik, maar Mozarella is seker die regte een)

Maak eers die roomkaas sag in jou menger en klits dan die eiers by. Geur met peper en knoffelpoeier.

Gooi die gerasperde kaas by en roer tot gemeng.

Oond 180ºC. Smeer oondvaste bak of spuit met Spray & Cook.

Gooi die mengsel in die bak en bak vir 17 minute.

Haal uit die oond en laat afkoel vir minstens 10 minute.

Smeer tamatiesous oor die kors.

Dan enige vulsel van jou keuse. Ek het ham, ‘n gurkin en ‘n piesang oorgegooi. (‘n Mens mag 1 piesang per dag eet, dis dan jou VOLLE koolhidraattoelating vir die dag. Ons was 2 wat geëet het, so dis maar ‘n halwe piesang op die ou end.)

Rasper kaas bo-oor. Gooi gemengde kruie oor.

Sit in oond tot die kaas gesmelt is.

Roomkaas is ‘n duur bestanddeel, ek dink ek gaan nou bietjie soek vir ‘n ander vulsel wat dalk met amandelmeel, wat ook maar duur is, gemaak word.

Al wat ek weet, dis regtig lekker. Dis ‘n sagte kors, nie soos dié wat jy in die winkel kry nie, maar dis ‘n heerlike gereg. As dit nie vir jou pizza is nie, moenie dit pizza noem nie. 😉 Noem dit roomkaas gereg.

DSC08099Dit was net genoeg vir 2 mense.

Groetnis

Toortsie

Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad.

 

14 thoughts on “Roomkaas Pizza

  1. Lyk baie lekker Toortsie,maar ongelukkig vir my, lyk dit soos ‘n kandidaat vir ‘n hartaanval met al die kaas op.Ek hou van kaas ,maar kaas hou nie van my nie.

    Groetnis.

    Like

Gesels saam, asseblief!