My ma se naam

Toortsie met haar blog oor familiename het my vêr teruggeneem na ‘n Saterdag, nou baie jare gelede.

imagesEk was nege maande swanger met my derde kind.  Daardie jare het ons nie geweet watse geslag die kind is voordat hy/sy haar verskyning gemaak het nie.  Ek was egter gewapen met ‘n mooie naam sou dit ‘n dogtertjie wees.  Ek kan net dink die naam het uit ‘n roman gekom, want geen lewende om my was met so ‘n “fancy” naam geseënd nie.  Die dag toe ek my ma vertel wat ek eendag my dogtertjie gaan noem, het sy haar neus opgetrek, en haar gesig geplooi asof sy suur druiwe geeët het.  Daar was geen twyfel aan haar misnoë oor diè heidense naam nie.

So staan ek hoogswanger die betrokke Saterdag op.  Dit is die 14de Oktober, en my ma se verjaarsdag.  Die plan is om later die middag deur te ry Randburg toe om haar verjaarsdag te vier.  Twee uur gaan bel ek my ma om vir haar te sê dat ons nie gaan deurkom nie; ek voel al die heeldag bietjie tam.  Sy vra so ewe wanneer kom die babatjie want sy sou graag ‘n kleinkind op haar verjaarsdag wou hê.  Ek antwoord heel laggend dat dit onmoontlik is want die baba kom eers oor twee weke, waarop sy antwoord dat niks onmoontlik is nie.

Sesuur die middag vra ek vir Andrè om my hospitaal toe te neem; nie omdat ek in kraam is nie maar omdat daar ‘n bloederige afskeiding is.  Kraam is die verste ding van my gedagtes af, en die hospitaalpersoneel stem volmondig saam.  Hulle besluit om my oornag in die hospitaal te hou vir observasie, en dan die volgende dag weer huistoe te stuur.  Van diè planne kom daar net mooi niks; tienuur daardie aand word daar vir ons ‘n dogtertjie gebore.  Andrè loop oor van trots; hy wou altyd ‘n dogtertjie gehad het.  Ek krap stilweg kop; ek besef dadelik dat diè dogtertjie gebore op my ma se verjaarsdag nie die “fancy” naam kan kry wat ek in gedagte gehad het nie.  Dit sal soos ‘n klap in my ma se gesig wees.  Maar vervloeks weier ek om haar die familienaam te gee waarmee ek ook opgesaal sit.

images (1)Die volgende dag ontvang ek ‘n ruiker van my ouers af met ‘n briefie in my ma se handskrif.  Baie geluk met “Miemie,” (my ma se noemnaam) se geboorte………  Ek hef my oë op na bo, en wonder benoud hoe ek uit die dilemma gaan kom.  My brein werk oortyd om ‘n naam uit te dink wat beide my ma, en vir my tevrede sal stel.  Met weëmoed laat vaar ek die “fancy” naam wat al die jare saam met my loop, en noem my dogtertjie Melanie.  Dit was sovêr ek bereid was om te gaan. My ma kon haar teleurstelling nie heeltemal wegsteek nie, maar was baie dankbaar dat ek nie daardie lelike Engelse naam vir die kind gegee het nie.

Advertisements

15 thoughts on “My ma se naam

  1. Ja kyk, ‘n naam gee is ‘n groot storie, soos in GROOT. My skoonpa was so trots dat ek hom vernoem het, dat hul hom in die hospitaal moes bystaan, dieselfde dag. Want daar het hy eers gehoor dat my seun vernoem is na hom. Maar vandag se dae is mense geneig om ‘n ‘afleiding’ van die erf-naam te maak, of ‘n heel ander naam te gee. Ekself is nie gepla om vernoem te word. Maar dink ek dit het baie te doen met die manier wat jy grootgemaak is.

    Like

    1. Ai spokie partykeer dink ek ek het ‘n klap van die windmeul weg so links van die regering is ek oor al die familie tradisies. Ek gek na mooi name. Ons het sestien kleinkinders en elkeen het vir my ‘n mooi naam…. vreemd soos party ookal klink.

      Like

        1. Sien, dit is nodig om vir jou kind ‘n mooi naam te gee 😉
          Ek het gelukkig kleintyd heel onwetend myself ‘n naam begin noem omdat ek nie my naam kon uitspreek nie. Dié naam het toe my bynaam geword. Anders het ek my ook loop skaam.

          Liked by 1 person

    1. Hi Sparkle 🙂
      Vandag is dit ‘n doodgewone naam, maar in daardie jare was dit vir die ouer mense ‘n uitheemse naam wat ‘n gruwel was.
      Later jare het ek weer ‘n dogtertjie gehad en haar toe Janine genoem. My ouma kon tot met haar dood nie die naam baasraak nie. “Wat is jou kind se naam?” sou sy vra. JAnine ouma, sou ek sê. “WAT?” vra sy met die hand so om die oor, en ek JAnine maar weer. Dan mompel sy oor mense wat nie hulle kinders ordentlike name gee nie. Die volgende keer as sy my sien begin die hele storie weer van vooraf. Gelukkig het ek nie vir hulle gesê sy het eintlik ‘n “double barrel” naam nie. Janine-Janel is haar volle naam.

      Like

    1. Hoe glimlag ek nou vir die verkorting en byname wat beslis nodig is. 🙂 Ek hoor sommer daardie lang swaar naam, en sien die kind se geboë skouertjies.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s