Ouers vra en al daai dinge…

Die Merrie het ‘n baie interessante stuk geskryf oor ouers vra en al daai dinge.

Hier waar ek woon, praat ons van die “Diep Kaap” as jy enigsins verder as Somerset Mall of Tygervallei ry. Dan gaan jy DIEP in die Kaap in. Maar waar ek woon, is dit “Diep Platteland”, dink ek.  Ons is nog outyds. Of nee, die moderne lewe het ons ook getref, en ons probeer hard om modern te wees en by te bly, maar as jy fyn luister, is die ou tradisies nog daar.

Wat ek nou skryf, is nie op almal in die platteland van toepassing nie, maar dis beslis nog DUIDELIK aanwesig:

Ons sê nog Oom en Tannie. Dalk nie meer vir iemand wat 10 jaar ouer is as ons, soos ons geleer is nie. Die oudersdomsgaping voor iemand ‘n oom of tannie is, het defnitief gerek. Dis ‘n teken van respek, van goeie opvoeding. Selfs al het ons universiteitsgrade agter ons naam.

As ons seuns wil trou, vra hulle nog ouers. Sommige van hulle vra selfs nog die ouers as hulle met die meisie wil uitgaan. Ja, dit klink belaglik, maar ons glo dat familie die sterkste ondersteuningsband is, en as ons nie die familie se guns het nie, gaan dit maar eensaam word hier. Ons glo nog redelik sterk dat jy met die familie trou, nie net met die persoon nie. Families hou mekaar staande. Eintlik, die plattelandse mense hou mekaar staande. Dis hoekom ons so alles van almal af weet ook, want ons is omgee mense.

Ons gee ook nog familiename. Ek het as jongmeisie gesê dat ek nie my dogters familiename gaan gee nie, toe sê my ouma: “Vernoem hulle, dan weet hulle waar hulle vandaan kom.” Die beste woorde wat ek ooit gehoor het. Die kind moet in elk geval ‘n naam kry. Iemand moet vernoem word. Hoekom dan nie jou ouers vernoem, soos die tradisie vra nie? Hoekom een of ander popster of persoon wat nog nooit vir jou iets in die lewe beteken het nie, vernoem? Of selfs ‘n Chutney bottel vernoem? 😯 Dis die grootste eer wat jy iemand kan aandoen, deur hom te vernoem. En deur jou ouers te vernoem, “koop” jy baie meer, ek belowe jou! 😉 Dit hoef nie Anna Susanna Katriena en al die ander te wees nie, maar dalk ‘n afleiding van die name. Vir die kind, sowel as die vernoemde, beteken dit baie meer as wat jy kan dink. Nou ja, dit bly steeds jou eie keuse, ek vertel maar net hoe ons glo.

En hier is ‘n outydse drukkie van iemand wat al in die tweede helfte van die lewe is…

Toorts

18 thoughts on “Ouers vra en al daai dinge…

  1. Dinge verander so met tyd,nie altyd ten goede nie.Ek moet sê ek verpes al hierdie deftige name en ook die stringe familiename.Ek stem vir verkortings van die ouers of grootouers se name.Oulik geskryf.

    Like

  2. .Wat die name aanbetref; ek hou weer van mooi name…. en myne is definitief nie so mooi dat ek vernoem wil word nie. Al sestien ons kleinkinders het vir my die mooiste name…. hoe vreemd dit ookal op die tong klink. Net ‘n paar dae gelede sê ek vir my man ons jongste kleinkind het die naam van ,n Griekse eiland 🙂

    Like

  3. Ek stem so saam met jou. Waar ek vandaan kom praat ons van die bo bosveld. Regtig in die gramadoellas. Maar plattelands en ons het ook nog daardie maniere van oom en tannie as iemand veel (let wel “veel” ) ouer as jy is. Familie is nog kosbaar en ons besef dit maar terdeë. Selfs die snaakse oom wat soms teveel dop en die tannie met die migraine en vals tande wat so klik. Wat sal Kersfees wees sonder hulle? Van iemand wat al diep in die twede helfte van haar lewe is.

    Liked by 1 person

  4. Ons kinders het glad nie familiename nie. Die rede? My arme man was so moeg gedra aan sy Marthinus Johannes Hermanus dat hy opsluit geweier het dat ons familiename gebruik. So, om verkortings te gebruik is ‘n goeie middeweg, want as gevolg van “te veel” het ons skoon in die ander rigting gehardloop!

    Liked by 1 person

  5. Ek dink dit moet ‘n reuse pluimpie wees as ‘n jongman ‘n meisie se ouers se toestemming vra om haar te “date.”

    Dit kos nogals waagmoed!

    “n Vriend van my het op 50 vir die eerste keer getrou. Hy het ook “ouers gevra”. Dit is so mooi.

    Like

  6. Die Merrie moet dalk ‘n stuk gaan skryf oor die Stad vs die Platteland.

    Ek was op ‘n stadium met ‘n outjie deurmekaar wat heel aanvaarbaar was. Of eerder kon wees. Die oomblik wat hy my pa wou bel om toestemming te vra om met my uit te gaan, het ek hom aangeraai om met my pa uit te gaan. 😉

    Oor trou dink ek elke jaar meer en meer my ma se raad is net die ding. Vandat ons kon luister het sy ons vertel dat as ons die dag wil trou, moet ons gaan trou en haar dan bel om te sê ons IS getroud. 😉

    Like

Gesels saam, asseblief!