‘n Dronkkop sit oemf in die lewe

intoxicated-drunk-dwi-dui-clip-art_tToortsie wil weet wat ek kan doen wat laf is met my dronkkop.  Wat ek wel weet is dat wanneer die dronkheid die dag met alle mening toeslaan, ek nie my kleinkinders met hulle huiswerk kan help nie.  So gaan my kleinseun op ‘n dag skool toe en vertel vir sy juffrou dat sy huiswerk nie gedoen is nie, want sy ouma was dronk.  Ek het gedink dit is ‘n groot grap…. maar ongelukkig het Marlè dit minder grappig gevind.

My ma was reg toe sy die dag gesê het ek gaan moeilik oud word.  Menieres sorg egter daarvoor dat ek my heel sedig gedra. Net partykeer gooi ek die sedigheid oorboord, en doen iets wat ek weet my duur te staan gaan kom.  Soos daardie dag op ‘n plaas naby Polekwane.

Ek het by Noline, my sus Rika se dogter gekuier.  Laat middag stap ons saam met vriende van haar, en haar dogter dam toe.  Dit is ‘n heerlike plek; groot bome, groen gras, en pragtige voëls.  My oë vang egter iets wat ek nog nie voorheen daar gesien het nie… ‘n swaai.  Ek ignoreer die stemmetjie wat vir my sê ek soek moeilikheid, en kort voor lank swaai ek met wawyd oop mond soos ek lag.  Met die afklim trap ek al heel hoog, maar ek troos myself daarin dat die wêreld tot stilstand sal kom sodra ek vir ‘n tydlank stilsit.  ‘n Halfuur later, en die wêreld tol nog steeds. Ek is so dronk soos ‘n lord, en ek wonder benoud hoe ek by die huis gaan kom.

Dit is eers toe ek weer op my voete is dat die ander besef daar is fout.  Noline se sestienjarige dogter haak by my in; “Ek sal tannie by die huis kry,” belowe sy heel manmoedig.  Dit is heel duidelik dat sy nie ‘n benul het waarvoor sy haar inlaat nie.  Ons val loop twee treë vorentoe, en drie agteruit.  Dan weer vyf treë na links, en twee na regs.  Om alles te kroon begin ek en sy histeries lag.  Ons vou dubbel soos ons lag, en struikel agteruit.  Die ander drie dink glad nie dit is snaaks nie, en kyk ons grootoog aan.  Baie bekommerd stap een van Noline se vriende – ‘n man my ouderdom – nader, en vat-vat so aan my arm.  Hy wil help maar weet nie hoe om ‘n dronk vrou te hanteer nie.  Ons steek hom laggend in die pad, en sê hulle moet maar aanstap huistoe, ons sal wel daar uitkom.  Heelwat later struikel ek die huis binne, en sak op ‘n bank neer.  Gelukkig ken ek Noline se vriende mekaar goed.  Almal is nou verlig, en saam met die verligting kom die lekker lag.

Sal ek weer swaai as ek die geleentheid kry?  Natuurlik… dit sit mos oemf in die lewe.

Advertisements
This entry was posted in Die lewe met 'n tikkie humor. Bookmark the permalink.

24 Responses to ‘n Dronkkop sit oemf in die lewe

  1. Olga sê:

    Ek sou graag die juff se gesig wou gesien het na jou kleinseun sy bommetjie losgelaat het.

    Like

    • Kameel sê:

      Dit is die gedagte aan daardie juffrou se gesig wat my so laat lag het Olga.
      Dink juffrouens hoor heelwat skokkende dinge…. wens ek kan party van die stories hoor.

      Like

  2. seegogga sê:

    Omdat ek so maklik goed omstamp en mors, was die gesegde by ons restourant: ” ons gee nie vir haar alkohol nie, want sy het nie alkohol nodig ni. ” Maar dit lyk nou mos vir my jy het dit nog minder nodig as ek!

    Like

  3. Kameel? Dit klink eerder vir my na ‘n bloeddruk storie? Maar ja, humor is dit wat ons sal deurdra tot op die einde …

    Like

    • Kameel sê:

      Humor en lekker lag is die beste medisyne Spokie. Dink net hoe op ‘n hopie ons sonder dit sou sit!!!

      Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s sê:

      Meniere’s is probleem wat ontstaan in Middeloor in die slakkehuis gedeelte. Sommige mense ervaar Menieres verskriklik erg..dat hul vir dae glad nie kan regop kom nie soos die wêreld tol, dit is seker die mees angstige gevoel ooit. Al wat werk is stil lê op jou bed nie jou oë draai nie nie jou kop lig nie..en hoop en bidde die aanval gaan verby. Ek het ondervind al die pilletjies wat hul aanbeveel werk nie. Ek Drink eerder vogafdryf pilletjie . Bygesê ek is dankbaar dat ek dit nie meer so erg beleef nie ek vermoed kameel loop ook met so statige hoof. So waardig regop, want draai jy jou kop vinnig of oogbeweging vinnig is jy onderstebo..ongelukkig kan dit nie genees nie..ons soort word darem gratis dronk..

      Like

      • ddupl3ss1s sê:

        Jammer ek wou vir Spokie daardie vertel het hoop sy kry antw.

        Like

      • Kameel sê:

        Dit is sooooo lekker om van iemand te hoor wat werklik verstaan Dirkie. Ek is al die pad Shelly Beach toe sodat my skoondogter vir my nuwe klere kan maak. Onmoontlik om in die winkels hier en daar en oral rond te kyk vir klere. By die tyd dat ek by aantrekhokkie kom is dit verby, en kan ek net sowel huistoe gaan.

        Liked by 1 person

  4. perdebytjie sê:

    Dis nie lekker nie!Ek geniet die manier waarop jy vir jouself lag. 🙂

    Like

  5. scrapydo sê:

    Het nou eers gaan oplees oor Meniere disease! Bie interessant moet ek se! Ek sit met doofheid, tinnitis en die oor drukking nou en dan van balans af. Mmmm gaan bietjie volgende keer met my dr praat. Ek het n gehoorstuk wat ek gebruik. Klink egter of dit maar heel ongemaklik met jou gaan met tye. Hoe beheer jy dit as ek mag vra?

    Like

    • Kameel sê:

      Dirkie het dit mooi beskryf scrapydo. Loop so met die kop in die lug, en nie vinnig rondkyk nie ens.
      Menieres het gemaak dat ek die lewe baie rustiger moes vat, soos my studio opgee omdat al die beweging daaraan verbonde onmoontlik geword het. My oë wil partydae glad nie fokus nie. Om daarteen te baklei sal nie help nie, dus pas ‘n mens maar aan.

      Like

      • scrapydo sê:

        Wys jou hoe n mens tot rustigheid gedwing word veral as mens gewoond was om aanhoudend te “moet” besig bly.Ek is bly om te hoor dat jy dit in n mate kan beheer deur sekere dinge stadiger of nie te doen nie.

        Like

  6. ddupl3ss1s sê:

    Ek het ook Menieres.. myne het verbeter na operasie , Die vog in slakkehuis is gedreineer.. met tye voel dit soos watte in oor, en oë wat nie lekker fokus en natuurlik die eenkant toe neuk, ek’s dankbaar dit gaan goed met my. Ek het gevind menieres is soos verkoue aanval- dit hou darem nou nie aanmekaar aan nie. Mens is aanpasbaar. Genadiglik tref die naarheid my nie meer nie, maar so dapper is ek nie om te swaai nie. Ek het net permanent gehoorskade in een oor, die see druis en suis in my oor.

    Like

  7. Klink of dit sommer lekker sports was. Hoe lus is ek nou vir swaai.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Hierdie is sommer nou oor iets anders. Ek druk op jou naam, dan sê dit jy is nie meer beskikbaar nie….. of jy bestaan nie meer nie 😯 Gee vir my jou regte “adres” sodat ek by jou kan gaan inloer. Mooi dag vir jou!!!

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s