Hello oom Tim

Hello oom Tim

Hoe gaan dit vandag met oom? Met my gaan dit steeds baie goed, dankie, oom.

Sjoe oom, nadat ek die vorige brief aan oom geskryf het, vra iemand sowaar vir my of ek ernstig en dom is om “banting” te doen. Sy het ook aanbeveel dat ek navorsing daaroor sal doen. Nou wonder ek, hoekom sal ek navorsing daaroor moet doen? Ek is maar net ‘n eenvoudige boervroutjie? Dit, terwyl daar reeds baie navorsing daaroor gedoen is? Oom weet, ek het ook só gedink, maar dit was voor ek oom se boek gelees het en gesien het dat daar wel navorsing daaroor gedoen is. Maar ek wil tog nie in ‘n bekgeveg hieroor betrokke raak nie, ek doen dit omdat ék wil, en as iemand anders dit wil doen, is dit hulle eie saak. Ek kry nogals baie te lese hieroor op die internet en ook in ander boeke.

Oom weet mos, wat betref die liggaamsmassa, kan ‘n mens in een van vier groepe wees, naamlik ondergewig, normaal, oorgewig en vetsugtig. Dis nogals erg om te dink dat Suid-Afrika onder die top 3 lande is met die meeste vetsugtige mense, en dit terwyl “almal” deesdae so vetvry en korrek eet. Wat vir my ontstellend was, was dat ek ook in die “vetsugtige” groep gaan draai het. Dit was net-net, maar ek was DAAR. Ek was deel van die ontstellende statistiek! 😯 Op hierdie stadium is ek nou net mooi halfpad na “normaal”, maar is steeds oorgewig. Oom, ek voel soveel beter!

Iemand was ook bekommerd dat jy sekere nutriënte nie sal inkry nie. Ai oom, dit ís seker gevaarlik. Ek moet sê ek drink elke dag van my lewe ‘n baie goeie multi-vitamienpil, al vir baie jare lank. Ek weet die dokters sê ek maak net duur piepie, maar dan is dit maar so, oom. Ek hoop dit maak op vir die dinge wat ek dalk nie inkry nie.

Ek was nou die dag so lus vir iets “lekkers”. Eintlik was dit nadat ek ‘n resep vir banting wortelmuffens gekry het. Oom, ek het behoorlik gebrand tot ek uiteindelik al die bestanddele bymekaar gehad het. Dis héérlik! Dit proe eintlik vir my meer na ‘n neutemuffen.  En Amore Bekker van RSG het Vrydag my behoorlik mal gehad met ‘n kaaskoek resep. Ek dink toe by myself: “Hoekom mag banters nie kaaskoek eet nie?” Oom, ek het ‘n resep gaan soek en gevind, 🙂 en nie een oomblik skuldig gevoel toe ek daaraan smul nie. 🙂 Ons mág mos!

Alles van die beste, oom, en sê groete vir die tannie.

Toortsie

Disclaimer: Ek skryf oor banting om my eie gedagtes en vordering daaroor neer te pen. Dis nié die gedagte dat ek iemand anders wil ompraat om dit te doen nie. Elkeen doen dit op sy eie besluit. Indien jy dit sou wou doen, sal ek aanbeveel dat jy dit in samewerking met jou dokter sal doen. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige persoon wat dit doen nie. 

22 thoughts on “Hello oom Tim

      1. Toortsie – jammer nog hieroor. Verwag IT- outjie vandag wat rekenaar bietjie gaan upgrade – hoop om dinge uit te sort. Ekself sukkel ook om in my blog in te gaan.

        Liked by 1 person

  1. Weet jy wat is skokkend? Ek weet absoluut niks van banting af nie. nie oor ek nie wil nie, ek WIL. Maar omdat ek nie al die lees kan doen nie. Glo dit of nie, ek (wat bundels en boeke in ‘n dag klaar lees), kan net nie sulke goed gelees kry nie. Simpel voorbeeld, ek kan nie eers die voubiljet in pille lees nie. Mens sou sweer ek is aandagafleibaar. En ek spot glad nie as ek dit sê nie. Ek kan net om die lewe toe nie dit regkry nie.

    EN ek kan nie weet wat om wanneer te eet nie. My kop is heeltemal plat. Moenie my ‘n boek gee en sê wer dit uit nie. ek soek iemand moet vir my sê, more eet jy soveel van dit vir ontbyt en so vir aandete ens. Ek weet nie hoe om dit te doen nie.

    So my etes na ‘n maerder gesonder ek is ERG boring. Net slaai en witvleis en soms braaivleisie. Ek raak so verveeld. 😦

    Like

    1. Nou goed:
      In die oggend eet jy 2 gebakte eiers, soos jy daarvan hou, ‘n halwe avokadopeer en ‘n tamatie of komkommer.
      Jou ligte maaltyd kan jy ‘n pakkie Tuna eet (ek verkies die pakkies bo die blikkies); ‘n hele rolletjie feta kaas, ‘n handvol olywe, en slaai van jou keuse. (Of jy kan die oorskiet bredie van gisteraand eet. 🙂 )
      Jou hoofmaal eet jy ‘n heerlike skaaptjop, groot genoeg wat jou sal versadig, of ‘n varktjop of stukkie steak, saam met enige groente van jou keuse. Maak ‘n roerbraai van ui, kopkool, een wortel, brokkoli, groenboontjies, en wat jy nog het om in te sit.
      Eet genoeg. Eet tot jy vol is.
      Vir tussenin, as jy dit sou benodig, smul jy aan ‘n stukkie kaas, salami of neute.
      Man, dis net te lekker. Jy mag al die lekker goed eet!!

      Like

        1. Dit kom maar net daarop neer dat jy als moet vergeet wat jy in die verlede geleer het oor dieet.
          Los alle koolhidrate en suiker, en die res geniet jy.
          Een vrug op ‘n dag. En eerder botter en dierevette as olies. Wel olyfolie.

          Like

            1. Ek sou die boek aanbeveel ja. Dis ‘n vreeslike dik boek wat mens afskrik, maar dit lees eintlik vinnig, want ‘n groot deel daarvan is resepte (wat ek nog nooit uitgetoets het nie.) As jy eers verstaan hoe dit werk, is dit baie maklik. Werk ROF met room. Gooi dit oor jou groente.

              Like

  2. My vriendin se man het in die hospitaal beland verlede week, hy het tydens ‘n marathon inmekaargesak, en toe die dokter hom weer bykry, was hy woedend toe hy hoor die ou doen banting. Hy het hom beveel om onmiddellik weer grane en ander koolhidrate te begin eet.

    Liked by 1 person

    1. Dit is hoekom ek elke keer skryf dat mense dit geensins mag doen sonder om eers met jou geneesheer daaroor te praat nie. Ons almal se omstandighede verskil en jou dokter is veronderstel om jou daarmee te kan help. Dit is wat ek ook doen: Ek doen dit met die medewerking van my dokter.

      Like

    2. Ek dink baie oor daardie man. Dit gebeur soveel kere dat mense inmekaarsak by marathons, om verskillende redes. Was BANTING regtig die oorsaak, of is daar dalk ‘n ander oorsaak, maar omdat hy banting doen, word dit nou sommer aanvaar dat dit die oorsaak is. Ek bevraagteken dit nie, ek wonder regtig daaroor. Ek hoop hulle soek verder vir ‘n ander probleem wat dalk baie groter is. En ja, dalk is die banting juis dan vir hom nie goed nie.
      ‘n Vriendin van my wat kanker gehad het, wou dit doen en ek het haar onmiddellik afgeraai.

      Like

  3. Wel dis n absolute feit dat dokters en medici en dieetkundiges al jou Tim ‘Hoakes ‘ versoek het vir sy navorsing en dat medici hom gekap het vir die aannames wat hy maak. Meeste diete sal help om gewig te verloor as jy daarby hou, hoe lank jy dit kan volhou en wat daarna gebeur is n ander storie.

    Like

Gesels saam, asseblief!