Ek herhaal die woorde wat iemand gister vir my gesê het: “Ons is so gewoond aan aandtroues, ons onderskat die waarde van ‘n oggendtroue.”
Dit is na aanleiding van my eie kind se troue wat so ‘n week of wat gelede was. ‘n Oggendtroue.
In my kinderjare het ons nogals oggendtroues bygewoon, maar dis iets wat heeltemal in die niet verdwyn het. Hier by ons in elk geval. Een of ander baie mooi lokaal (“venue”) word gehuur, die troue is gewoonlik in die namiddag, solank die bruidspaar foto’s neem geniet die gaste die mooi omgewing van die lokaal, en wanneer die bruidspaar kom, gebeur die ete en dans daarmee saam. Tog te lekker. Dis mos soos dit hoort.
My nuwe skoondogter het ander idees gehad en ek bewonder haar daarvoor. Die troue was half 11 die oggend in die kerk, waarná almal (die bruidspaar inkluis) na ‘n pragtige plek in die oopte vertrek het. Ek sê “in die oopte” omdat dit ‘n plek is waar geen ander geboue te sien is so ver die oog kan sien nie. ‘n Tent is op die grasperk opgeslaan (net tentdak, nie tot tot heel onder), en die meeste gaste is sommer aan lang tafels gesit. Geen bruidstafel nie. Gesellig. Die kinders het lekker op die gras gespeel en in die dammetjie geswem, terwyl die mammas moes waghou! Geen oorverdowende musiek nie. Almal het heerlik gekuier, rondgestaan, gesels, geëet… Teen half 5 het die bruidspaar vertrek om foto’s te gaan neem vir die res van die dag, en so stil-stil het die gaste, vervul na hart en siel, ook gegaan…
En die wonderlikste wonder van alles? Die paar dae vooraf was dit STORMWEER en hier kom die Saterdag met die mooiste lentedag waarvoor mens kan vra. 🙂
Het ek genoem dat almal geklee was in skakerings van grys en blou?
Ag ja, en toe die foto’s uiteindelik klaar is, en die bruidspaar moeg en honger… moes Kentucky maar regstaan vir ‘n bruid en bruidegom in volle gewaad! 😯
Toorts
En dit, dames en here, was my 100e pos van 100 lekker dae, al het dit vir my maaaaande gevat om klaar te kry. Stadig maar seker wen dikwels die beker… Agteros kom ook in die kraal… Wat maak dit saak hoe lank dit geneem het, solank dit net klaargekom het? 🙂
…uhm… ek het die foto’s geleen by my ou swaerie en ook ander wat dit op faceboek geplaas het… hoop nie hulle gee om nie!!
O, en die bruidskar wat julle op een foto sal sien, was baie spesiaal, dit behoort aan ‘n baie spesiale familielid en die registrasienommer is nog meer spesiaal! 🙂
Die trourokke wat daar eenkant hang, is die rokke wat die twee moeders (van die bruid en bruidegom), en twee van die oumas van die bruidspaar gedra het… jare gelede…
Sjoe, die trourokke is nogal iets spesiaal nê?
Dankie vir die kom deel, nou wil ek sommer weer trou! 😆
LikeLike
Ag dit lyk so lekker.Baie geluk en voorspoed aan die paartjie!
LikeLike
Dit lyk asof dit ‘n heerlike troue was. Hulle lyk so natuurlik soos hulle daar op die strand stap.
LikeLike
Dankie Kameel. Troues is mos darem gewoonlik lekker. Ek dink die feit dat als verby was toe hul die foto’s geneem het, het baie spanning weggehaal.
LikeLike
Dit klink heerlik!
LikeLike
Oggend troue – baie ongewoon deesdae. Ek self het ook een gehad. Ek ja, dit was ‘n lieflike dag wat julle gehad het! Bly alles het goed afgeloop.
LikeLike
Dankie vir die deel, dit lyk en klink te heerlik. Geluk ook met jou pos 100 wat jy bereik het op n hoogtepunt. Geluk aan julle en die kinders ook.
LikeLike
Ek het ook laatoggend getrou en eers later die middag fotos geneem. Geen bruidstafel nie, lang tafels met almal wat lekker kuier. Ek’s nie ‘n danser (of ‘n drinker nie!) en is ook lekker snaaks aangekyk oor die oggendtroue. Mooi fotos, lyk na ‘n lieflike dag!
LikeLike
‘n Heuglike dag! Mag hulle baie gelukkig wees en mag jou oorspronklike skoondogter diep in jou hart inkruip en vir jou nog baie vreugde besorg.
LikeLike
Dankie vir die deel 🙂 Lyk of dit ‘n wonderlike dag was!
LikeLike