Wanneer Die Jasmyn Blom

Sewe jaar gelede.

jasmine-flower-hd-4‘n Jasmyn wat in volle glorie oor ‘n tuinmuur rank, laat my onwillekeurig rem trap.  Die prentjie is so mooi, en aanloklik dat ek stilhou, uit die motor klim en hek toe stap.  Net een kyk na die tuin agter hierdie muur met sy jasmyn in bruidsgewaad, en ek sal tevrede wees. 

“Jammer, ek kon die versoeking nie weerstaan om na jou tuin te kom loer nie,” sê ek verleë vir die man anderkant die hek.  Hy lag; “Jy is nie die eerste een wat kom loer nie, en sal ook nie die laaste wees nie.”  Hy maak die hek oop, nooi my binne en stel homself voor.  Met ‘n oogwenk kan ek sien dat hierdie nie jou normale tuin is nie; dit is sprokieswêreld. “Ek kan die tuin nou vir jou wys,” sê hy, “maar dit sal beter wees as jy die eerste week in Oktober terugkom, dan blom die rose.”  Ek neem sy aanbod gretig aan, en vra of ek ‘n vriendin kan saambring.  Dit is my vriendin wat lig op die man werp.  Hy blyk ‘n bekende in die teaterwêreld te wees, en is nou afgetree.  Ons sal nie verseker weet of dit hy is totdat ons Oktobermaand teruggaan nie.

Op die afgesproke dag staan ek en my vriendin voor die groen hek.  Die man verwelkom ons soos ou bekendes, en gaan stel ons voor aan sy vrou wat in ‘n rystoel sit.  Sy is ‘n pragtige mens met ‘n sagte voorkoms.  Hy neem ons tuin toe.  Dit is heel duidelik dat hy nie kan wag om ons die roostuin te wys nie.  Wanneer jy die gesig in die binnehof aanskou besef jy dadelik hoekom.  Bankvas staan die roosbome langs mekaar, bedek met massas blomme wat meeding om bewondering.  Soveel skoonheid in ‘n redelike beperkte ruimte is oorweldigend, en ons betree die nou paadjie half huiwerig.  Stadig beweeg ons tussen die roosbome deur.  Die trotse eienaar gaan staan kort-kort stil en gee ons die naam van ‘n roosboom asof hy heiligkennis met ons deel. 

Veel later gaan sit ons in die sitkamer.  Alles in en om die huis is anders as die gewone, dit voel kompleet asof ek in ‘n storieboek beland het.  Terwyl ons teedrink gaan die gesprek oor die teater, en jy besef dat hierdie man passievol is in alles wat hy doen.  Sy stil vrou sit met ‘n sagte glimlag om haar mond en luister.  ‘n Down sindroom jong vrou kom die vertrek binne.  Met meer trots as wat hy sy rose aan ons bekendgestel het, stel hy sy dogter aan ons voor.  Wanneer sy die vertrek verlaat sit hy ‘n oomblik in bepeinsing, en verbreek dan die stilte.  “Ek was nog jonk toe ek een aand voor ‘n gehoor opgetree het waar die voorste ry deur down sindroom kinders beset was.  Ek het hulle so bekyk, en net daar op die verhoog vir die Here gesê ek wil nooit eendag so ‘n kind hê nie.  Wat ek nie toe geweet het nie is dat wanneer die Here vir jou ‘n down sindroomkind gee, Hy ‘n engel na jou huis toe stuur.”  Ek knik my kop; die down sindroom jong vrou voltooi vir my die prentjie van hierdie besonderse huis en sy mense.  

Toe ons groet nooi hy ons gulhartig uit om weer te kom kuier.  Met die wegry sê my vriendin, “Hierdie was nie ‘n gewone besoek nie, dit is iets wat ‘n mens vir altyd sal onthou.”   En so is dit – wanneer die jasmyn in my tuin blom dan onthou ek.   

11 thoughts on “Wanneer Die Jasmyn Blom

  1. Dit het sommer trane in my oe gebring! Dis wonderlik om te sien hoe die Here werk in en met mense. Jasmyn het vir my ook n besondere betekenis. Jou kuier by die jasmyn-mense is werklik n ondervinding wat nooit sal weggaan nie. Pragtig, dankie dat jy dit gedeel het

    Like

    1. Beslis ‘n besonderse ervaring scrapydo, en ek is dankbaar dat die Here my ‘n “kykie” van sy werk in hierdie mense se lewens gegee het.
      Het jy nie ook ‘n jasmynstoroe nie?

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s