Ek wil nooit

As daar nou woorde is wat nooit my mond moes verlaat het nie is dit; “Ek wil nooit.”  Met ‘n terugblik op my lewe sien ek dat dit juis die dinge is wat ek nooit wou nie, wat juis gebeur het.

OLYMPUS DIGITAL CAMERAMy ouers het vriende in Emmarentia gehad, en as kind was Emmarentia se siersteenhuise vir my die lelikste lelik.  Maak nie saak hoe groot en luuks die huise was nie, hulle het vir my koud en onvriendelik gelyk.  “Ek wil nooit eendag in so ‘n huis bly nie,” het ek vir my ma gesê. Soos ek groter geword het, het daar ‘n prentjie in my gedagtes gevorm van hoe my huis eendag moet lyk.  ‘n “Cozy” wit hui(sie), met ‘n rankroos wat amper sy voordeur toerank.  Van my droomhuis het niks gekom nie.  Uit die 40 jaar waarin ek en Ken getroud is, het ons 35 jaar daarvan in siersteenhuise gebly.

Nog ‘n “Ek wil nooit,” was Krugersdorp.  Interhoër is jaarliks op Krugersdorp se sportvelde gehou.  Die treinrit soontoe, en die al singende loop deur die strate tot by die sportsvelde was heerlik, maar daar was iets aan Krugersdorp wat my koue rillings gegee het.  “Ek wil nooit eendag in hierdie plek bly nie,” het ek vir my maats gesê.  Heel nuuskierig wou hulle weet hoekom nie.  Ek konnie my vinger daarop lê nie, maar daar was ‘n onheilspellende iets aan die plek.  Skaars getroud of ons trek Krugersdorp toe.  Krugersdorp word die plek van my grootste verlies, en hartseer.  Ook die plek waar ek Ken ontmoet het, en die vloei van my lewe so drasties verander het.

Ons gaan bly in Hillbrow, en bou later ‘n huis in ‘n besige voorstad.  Die stadslewe akkordeer met my.  Wanneer ek plattelandse dorpies sien raak ek skoon mistroostig.  Alles lyk so verlate en eensaam.  “Ek wil nooit in die platteland bly nie,” sê ek vir Ken.  Vier jaar na ons troue trek ons tussen die mielielande in, waar ons vir 21 jaar bly.  Ek sou baie wonder waarom ons woestyn toe gestuur is.  Ek raak geheg aan oop lug, veld en beeste.  Wanneer ons vir ‘n naweek by my ouers in Randburg gaan kuier, en ons vat die pad terug mielielande toe, haal ek diep asem.  “Ek wil nooit weer in die stad gaan bly nie.” laat ek van my hoor.  Dan voeg ek sommer by “Veral nie in Pretoria nie.”  Ek konnie verstaan, of verduidelik waarom ek so ‘n kanniedood aan Pretoria gehad het nie, maar ek het.  Veertien jaar gelede trek ons Pretoria toe, waar ons vandag nog bly.

Ek sê nie meer, “Ek wil nooit,” nie.

 

Advertisements

15 thoughts on “Ek wil nooit

    1. Baie beter om soos jy na ‘n ding te kyk, maar my gevoelens is te bedrywig. Huise en plekke praat ‘n taal wat ek aanvoel. Geluķkig pas ek gou aan en is dan heel gelukkig, en baie dankbaar vir wat is.

      Liked by 1 person

  1. Ha-ha. Ek het al my kinderlewe gesê ek trou nóóit ‘n Jan, Piet of Koos nie. EN ek wil ‘n kort van hê, Niks Van der dit of du dat nie. Reg geraai. Ek trou toe met Jan Janse van Rensburg, broer van Piet en Koos…

    Liked by 1 person

  2. Ek voel ook so oor plekke, en ja, Krugersdorp is een van hulle.

    Plekke kan my ERG depressief maak, veral die met baie vlakte van niks. En in die stad wil ek ook nie bly nie, VERAL nie Pretoria nie! 😆

    Ek soek berge, of darem koppies, en bome. Maar ek begeer om eintlik by die see te bly. Eendag dalk, want soos jy sê, mens kan nooit sê NOOIT nie!

    Like

    1. Dan verstaan jy 🙂
      Gelukkig is ek aanpasbaar en maak gou vrede met my omstandighede.
      Ons mag maar droom oor ‘n huisie by die see…. of in die berge 😉

      Like

    1. Ag hoe lekker laat jy my nou lag 😆
      Dit lyk vir my asof die ding net eenkant toe werk….. dit wat jy rêgtig nooit wil doen nie. Kom ons hoop hy werk na George se kant toe ook!!! Sal nie omgee as jy my saamvat nie, ek lief daardie wêreld.
      Dink redelik baie aan jou; gewonder hoe gaan dit nou met julle pleegkind ?

      Like

  3. My pa was ‘n liewe mens, wat baie baie min ongeduldig of kwaad geword het, maar as jy die woord, “nooit” gebruik het, het hy jou duidelik laat verstaan dat dit nie ‘n woord is om te gebruik nie. Nooit is ‘n lang tyd. Ek gebruik die woorde: “Ek sal nie graag…” of “Ek hoop nie ek hoef ooit…” Hoop dit werk!! 🙂

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s