Gee jy vir hulle

Lank gelede…

downloadDie dag toe Ken sê dat ek R50 ‘n maand vir myself moet “budget,” het ek gedink die hemel gaan oor my oop.  Natuurlik was ek eers huiwerig; met ses kinders in die huis was dit nodig om fyn te beplan, maar Ken was vasberade.  “Die geld is vir jou, en jou alleen.  Jy koop niks vir die kinders nie, dit is jou sakgeld.”  Spaarsamige ek sukkel eers om vrede te maak met soveel spandabelerigheid, maar toe die vrede kom omhels ek dit met my hele wese, en begin droom oor dit wat ek in die maande wat kom gaan koop.  Ken het nie ‘n taboe op huisgoed geplaas nie, dus kry die sitkamer in my drome die mooi lamp wat ek gesien het, en, en, en… die lysie word elke dag langer.

Die einde van die maand kom nader, en my opgewondenheid word groter.  Die Woensdagaand gaan ons kerk toe.  Daar is nie soos gewoonlik biduur nie, maar ‘n man van Geopende Deure kom ons toespreek.  Vanaf die eerste oomblik het hy nie net my ore nie, maar my hele hart.  Diep weëmoedig oor dit wat ek gehoor het klim ek daardie aand in die bed, en word met dieselfde weëmoed, en diepe omgee wakker.  Toe die huis uiteindelik rustig word gaan sit ek op die pienk sitkamerbank.  Ek lees nie soos gewoonlik eers bybel, en bid dan nie… nee my hart is te vol.  “Here,” smeek ek, “Lê dit asseblief op ons kerkraad se harte om maandeliks geld aan Geopende Deure te stuur.”  Die Stem is so duidelik dat ek vir geen oomblik wonder of ek reg gehoor het nie.  “Gee jy vir hulle.”  “Ek sou Here, maar ek het nie geld nie,” antwoord ek heel opreg.

My oë gaan onwillekeurig oop, en val op die blaadjie van Geopende Deure wat ek die vorige aand in my bybel gedruk het.  Ek moes die bybel onbewustelik daarby oopgeslaan het.  Vanaf die bladsy spring net die bedrag wat maandeliks aangevra word na my toe uit –  R50 per maand.  Die implikasie daarvan tref my soos ‘n vuishou tussen die oë.  Ek spring uit die bank uit op, en kreun hardop,  “Nee Here, asseblief Here moet nie dit van my vra nie.”  Ek is in waaragtige wroeging.

Die volgende oomblik begin alles in die vertrek lewe.  In neonkleure spring die banke, tafels, blompotte ens grotesk voor my op, en neem dan weer hulle normale grote en kleur aan.  Deur dit alles heen sê ‘n Stem, “Kyk wat het jy,” en dan weer “Kyk wat het jy!!”  Ek vlug die sitkamer uit, gang af, maar ook hier spring ek dit nie vry nie.  Vanuit die kamers flits die meubels, en gordyne helder na vore, en neem dan weer hulle plek in.  Dit voel asof ek wil versmoor onder die oorvloed aardse goed.  Ek maak my hande oop, en laat my drome gaan.  Vrede lê soos ‘n diep rivier binne my, toe ek terugstap sitkamer toe, ‘n pen opneem en die vorm onderaan die blaadjie invul.

 

15 thoughts on “Gee jy vir hulle

    1. Het die Here nie op die besonderse wyse ingetreë nie sou ek groot stryd gehad het met daardie R50. Ek sou of verplig gevoel het om dit te gee, of dit nie gegee het nie, en my gewete sou my gepla het. Daardie vrede was kosbaar.

      Like

  1. (Glimlag)
    Ek het nou net vir Toortsie op ‘n skrywe van haar laat weet om Dutch Sheet se boek: THE SEER, ook aan te skaf. Daarin word hierdie soortige ondervindinge juis verduidelik. Ons het per toeval Geopende Deure so 4 weke gelede aan huis-samekoms gehad. Dis ‘n baie goeie dam om in te saai …

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!