Dirkie se begrafnis

10264486_1489949577902309_8905873791077131673_n
Die foto is van James Ochse geleen

Die week se uitdaging gaan oor voëls, en eweskielik lewe die wêreld vanoggend op Fb van die voëls.  Nie mense wat die uitdaging aanvaar het nie, nee sommer so uit die bloute is daar fotos van voëls net waar jy kyk.  Ek is nie ‘n voëlkenner nie, maar ek geniet voëls – dit is die mooiste mooi om met voëlgesang wakker te word, en ek is so spyt dat ons nie hier in die stad groot bome het waarin die voëls kan nesmaak nie.

Wat hier wel is, is twee budgies in ‘n hok.  Hulle bly in die groothuis as vermaak vir die kinders, en behoort aan die blondekop.  Gelukkig is die kinders nou ouer, en behoort die budgies hierdie komende vakansie te oorleef.  Ek hoop minstens so want ek sien werklik nie weer kans vir die episode van ‘n paar jaar gelede nie.

Dit was vakansie – hier was ses kinders onder die ouderdom van tien jaar op die erf, en ek ouma moes sorg dat alles glad verloop.  So storm ‘n huilende kind of twee op ‘n dag die voëlnes binne, en vertel snikkend dat Dirkie die mak budgie dood is.  In die groothuis vind ek die ander huilende kinders om Dirkie – wat op die tafel lê – vergader.  Daar is oorvloed trane, roukrete, en tussendeur gebroke woorde uit al wat mond is, en natuurlik vingerwysers ook.  Dit blyk dat Lea, agter Dirkie aangehardloop het toe diè probeer wegkom het, en in haar ywer op hom getrap het.  Lea, die sondebok begin al harder huil, en die ander volg haar voorbeeld.  Dit is heel duidelik dat die kinders se harte gebreek is, en dat troos alleen nie die ding gaan doen nie.

Ons gaan hom begrawe besluit ek, en die kinders val in met die plan.  Die dogters gaan soek na ‘n geskikte boksie, en lê dit met sneesdoekies uit.  Versigtig word Dirkie in sy kis gesit, en na ‘n laaste blik, en baie trane word die deksel toegemaak.  Papier en inkleurpotlode word gehaal, en afskeidsbriewe in die vorm van tekeninge en woorde vol spelfoute, gemaak.  In haar brief vra Lea om vergifnis vir haar misstap, en verseker Dirkie van haar ewige liefde.

‘n Rukkie later stap die prosessie met hulle kleurvolle afskeidsbriefies in die hand begraafplaas toe.  Riaan, die oudste seun dra die kis. Onder die digte plantegroei word ‘n gat gegrawe en die kis daarin neergesit.  Hand aan hand staan ons by die oop graf en sing.  Daarna kry elke kind ‘n beurt om te bid.  Die rukkende liggaampies, en snikkende gebede is een te veel vir my, en my eie trane begin vloei.  Ek doen die slotgebed; waarna die kis toegegooi, en die briefies op die graf neergesit word.  ‘n Groterige klip dien as grafsteen.  Vir die seuns is die begrafnis nou verby, en hulle keer beswaard terug huistoe.  Die dogters bly agter en versier die graf met blomme.  Die res van die dag is daar ‘n vreemde stilte op die erf – kindergelag sou ek eers weer die volgende dag hoor.

26 thoughts on “Dirkie se begrafnis

  1. Sjoe, hartseer storie. Ek self kan nie voëls in hokke verdra nie. Hier waar ek sit kyk ek uit op ‘n kersieboom waar voëltjies hulle knuppeldik eet aan lekker rooi kersies, en hulle is vry 🙂 Hoop vir jou part ook die outjies oorleef die kinders …

    Liked by 1 person

    1. Ek het op skool (std. 4 of 5) amper my hele klas gekry om saam begrafnis te hou toe die goue wawiel webspinnekop in ons tuin doodgegaan het!

      Like

      1. Hoe lag ek nou vir jou Karen!!! Hierdie diereding is van kleintyd af in jou bloed, dis verseker. ‘n Spinnekop van alle dinge 😆

        Like

    2. Jy is voorwaar gelukkig!! Hier was op ‘n stadium meer voëls maar die Indian Minors het hulle verjaag. As jy weer Indië toe gaan vat asb die verpesting saam met jou terug. Ek voel altyd skuldig as ek so lelik van die voëls praat…. maar ai, hulle maak droog.

      Like

    1. ‘n Watergraf!!! 😉
      Hier is hoeka ‘n vistenk wat aan een van die seuns behoort. Hopenlik oorleef al wat voël en vis is dit die vakansie.

      Like

    1. O my liewe, maar toemaar dit is goed dat jy sommer vir my ook gedink het!! Ek het by perdebytjie ook ‘n pragtige voëlfoto gesien 😉

      Like

    2. My hene Tina,ek dag die uitdaging is gevooltes,toe is dit al die tyd V. 😆 Nou het ek party mense op ‘n dwaalspoor gesit!

      Like

  2. Dis so ‘n goeie lewensles oor die dood vir kinders.Al is dit hartseer,het hul geleer om empatie te he vir die kleinste lewetjie.

    Like

    1. Ag scrapydo, ek is al moeg gehuil oor diere. Belowe myself altyd ek sal aan niks weer geheg raak nie… maar as ek my weer kan kry is ek gehook. Tot Octavius die geitjie wat hier onder my yskas bly het al ‘n plekkie in my hart.

      Like

  3. My kinders (en ek) het ook begrafnis gehou as ons diere gesterwe het.. Ek hoor die voEls elke dag maar weet nooit watter voel maak watter geluis nie, ek dink daar is ‘n vangplek aan hoe om ‘n voEltjie raak te sien.

    Like

    1. Ek glo ‘n mens kan verknog raak aan voëlkykery of wat hulle dit ookal noem. Dit sal ‘n heerlike studie op sy eie maak maar ai, waar kry ek nou die voëls om na te kyk. Julle behoort in daardie boomryke wêreld van julle ‘n groot verskeidenheid voëls te hê.
      Sommer so tussen hakkies; jy is vanoggend op my gedagtes. Is besig om die tuin bietjie op te kikker… en jy en tuin gaan vir my saam.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s