Threadneedlestraat

Hierdie week se opdrag gaan oor jou straat.

Die straat waar ons nou bly

Elke straat waar ons in gebly het, het sy herinneringe, nie almal gelukkig nie, maar elkeen vertel sy eie storie.

Die straat van my vroegste herinneringe is ‘n kort straatjie in Hursthill, met die mooie naam Threadneedlestraat.  Ons het in ‘n wit semihuis gebly; die een met die sementagterplaas en vyeboom in die hoek.  My oupa aan vaderskant het in die semi langs ons gebly; en ek wonder tot vandag toe hoekom ons so min by hom en my stiefouma gekuier het.

Langs ons huis was daar ‘n breë gruispaadjie wat na die straat agter ons toe gelei het.  Die park, waar die buurt se kinders saamgekom het was in daardie straat, dus het ons die paadjie platgetrap.  Partykeer moes ons versigtig trap want ons bure het ‘n peperboom (dit is wat ons dit genoem het) gehad, wat sekere tye van die jaar vol brandwurms was.  Die brandwurms het oral op die grond rondgeloop; met tye tot op ons rooi voorstoep.  Ek onthou soos gister die dag toe ek my bababoetie met sy hande vol brandwurms, op die stoep gekry het.  Ek het my ma gaan roep, en my vinnig uit die voete gemaak.

Oorkant ons was daar ‘n klipperige standplaas vol groot rotse, en teen die randjie het die huis van skande gestaan.  Die vrou van daardie huis het met haar loseerder ‘n verhouding aangeknoop, en toe haar man dit uitvind, saam met die loseerder weggeloop.  Skuins oorkant ons het oom en tannie Niewoudt gebly.  ‘n Lewenslange vriendskap is tussen my ouers en hulle begin die dag toe tannie Niewoudt met my aan haar hand, by ons huis kom aanklop het.  Ek het glo by haar voordeur geklop op soek na ‘n stukkie brood.  Op haar vraag of my ma hulle nie brood in die huis het nie, het ek geantwoord dat ons brood nie so lekker soos ander mense s’n is nie.

Hulle het drie dogters gehad; dit was egter die jongste, ‘n rooikop rabbedoe waarmee my susters maats gemaak het, en wat die straat op horings geneem het.  Bo in die straat het die de Kokers gebly.  Hulle het veertien kinders gehad.  ‘n Klomp van die de Kokertjies het altyd saam met ons gespeel.  Ons het egter min by hulle huis gaan aanklop want oom de Koker het ‘n glasoog gehad waarvoor ons almal baie bang was.

Ondertoe in die straat was daar ‘n huis met ‘n plantheining waar ons altyd vinnig verby geloop het.  Daar het ‘n dogtertjie met blonde hare gebly; niemand het met haar maats gemaak nie want sy het ‘n mal sussie gehad.  Dit is wat die grootmense dit in daardie jare genoem het.  Partykeer het die swartkop sussie by die hekkie gesit, en eienaardige geluide gemaak, dan het ‘n mens jou treë nog langer gerek.

Die straat het doodgeloop in ‘n groot hostel met ‘n hoë heining daarom.  Die hoë donker gebou het my die rillings gegee.  Teen die heining het sementtrappies opgeloop na die tramstop in die boonste straat.  My pa was lief daarvoor om laataand ‘n pampoenspook daar neer te sit; dan het ons weggekruip en gekyk of mense wat met die trappies afkom skrik.

Die donker Krugers het skuins agter ons gebly.  Alhoewel hulle nie in dieselfde straat gebly het nie, was hulle kinders netso deel van die straat soos ons.  Die erwe was klein, die kinders baie, dus was die park gedurende die dag, en die straat in die aand ons speelplek.  Elke aand was dit dieselfde storie, ouers wat roep dat hulle kinders huistoe moet kom, en kinders wat so lekker onder die straatligte speel, en nie daarop gehoor wil gee nie.

So kom my oupa een aand aangeloop waar ons na vele geroep nog speel.  “Julle wil nie huistoe nie,” sê hy, “kom kyk, die spoke loop al rond.”  Met die woorde draai hy om en stap terug vanwaar hy kom.  Kinders string agter hom aan, en sowaar, daar op ‘n groot rots naby die randjies staan ‘n wit gedaante.  Grootoog en bang klou ons kleineres mekaar vas.  Die groter kinders praat verwonderd onder mekaar, maar dit is die seuns wat hulle dapperheid toon deur klippe op te tel, en die wit gedaante daarmee te stook.  “Hou op, hou op!!” skreeu die wit gedaante, en spring van die rots af.  Die volgende oomblik lig my pa die lang wit doek wat hy oor hom getrek het af, en blaas die aftog.  Die seuns gee ‘n triomfanklike kreet en spaander in alle rigtings.  Die episode het nie ‘n einde gemaak aan ons laataand spelery onder die straatligte nie.

17 thoughts on “Threadneedlestraat

    1. Definitief is kinderstrate die lekkerste lekker. Voel so jammer vir vandag se kinders wat nie in die strate durf speel nie. Ek sien mos dat hierdie erf nie die vier kinders hier kan hanteer nie, maar straat toe mag hulle nie.

      Like

      1. Ja, dis maar nie lekker nie. Hier mag kinders tot 13 jaar nie alleen in straat of by huis wees nie. As beide ouers werk moet hul na skool klas toe gaan waar hul dan na werk opgelaai word om huis toe te gaan

        Like

      1. Ek probeer maar om dit af te wissel. Bloggers het onderwerpe gegee. Ek is nogal teleurgesteld Net een Litnetter het die uitdaging gedoen. Dit lyk ook nie of Litnet belang stel om die probleme op te los nie

        Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s