Marlè se wit droom

Marlè is hierdie maand sestien jaar getroud.  Die herinnering aan die dag is vir my een van vreugde, maar daar is tog ‘n tikkie heimwee ook in die onthou.  Asof die groot teleurstelling – wat klaar ‘n donker skaduwee oor die dag gegooi het – nie genoeg was nie, is haar droom rondom haar troue ook nie heeltemal bewaarheid nie.

Toe Marlè op vyfjarige ouderdom by ons kom bly het, was sy van die eerste oomblik af in vervoering oor die stapels trourokboeke in my ma se werkskamer.  Deur die jare het sy soos klokslag daardie boeke van die rak afgelig, en daardeur geblaai.  Ek was verstom oor hierdie dogter van my wat so anderste oor die saak van trourokke, en troues gedink het as ek.  Instede daarvan dat die nuutjie – soos ek dit gesien het – afgeneem het, het haar drome net toegeneem.  In haar tienerjare ontwikkel sy ‘n groot liefde vir varkore, en st joseph lilies, en dit maak haar alreeds droomprentjie nog mooier.  Sy sien haarself omring deur wit blomme die “ja woord” gee. Marlè is nie ‘n dromer nie, dus was hierdie een droom van haar rondom ‘n droomtroue ‘n saak van groot erns vir haar.

Toe die tyd aanbreek waarin sy haar droom kon bewaarheid het sy elke reëling self behartig.  Ons het nog tussen die mielielande gebly, en sy in die stad.  Sy het my op hoogte van sake gehou, maar wou nie veel meer verklap as dat die blomme, naas die kos die grootste uitgawe is nie.  “Dit gaan die mooiste mooi wees,” het sy opgewonde gesê, “geen rangskikkings nie, net groot potte, en potte vol wit blomme.”

Die dag van die troue breek aan.  Ons moet vroeër daar wees sodat die fotograaf studiofotos kan neem.  Die trou-“venue” langs die rivier is pragtig, en so in die verbyloop sien ek dat daar met blomme gewerk word in ‘n oopplan kerkie.  Ek sal Marlè eers sien wanneer sy opdaag vir die troue.  ‘n Uur later stap ek terug na die kerkie toe; mense begin aankom, groet en neem hulle plekke in.  Ek frons toe ek binnestap.  Dit lyk glad nie na Marlè se droomprentjie met massas wit blomme nie; inteendeel; sommer so op die punte van die banke neergesit is ‘n paar skamele kiertsregop gladiolus rangskikkings.  Die blomme is ook nie wit nie… en net daar besef ek dat daar groot fout is.  Hierdie is nie Marlè se blomme nie!!!  Dit is egter te laat om iets daaraan te doen.

Die musiek begin speel. Marlè verskyn in die tuinpaadjie; sy lyk pragtig, en net daar bars ek in trane uit oor my pragtige dogter op wie ek so trots is, en vir wie daar so ‘n groot teleurstelling wag.  Sterk soos sy is wys Marlè nie haar teleurstelling nie, en die res van die troue verloop glad en sonder voorval.  Net diè naby aan haar besef dat haar droomdag nie is soos sy dit beplan het nie.

Later die aand kom roep Kenneth my, en neem my na die kerkie toe wat reggemaak is vir die volgende oggend se troue.  Marlè se wasige wit droom staar my in die oë.  My hart trek saam van hartseer toe ek die skoonheid aanskou.  Môreoggend wag daar vir ‘n onbekende bruid ‘n verrassing wat haar asem gaan wegslaan.  Met ‘n hart vol weëmoed draai ek om en stap terug na waar my dogter dans.

Ek tag seegogga om vir ons van haar, of haar kinders se troukatastrofes te vertel.

11 thoughts on “Marlè se wit droom

    1. Dit was sowaar lelik… die rangskikkings wat daar was… geen verbeelding gebruik nie. Dink dit sou beter gewees het was daar net ‘n rangskikking voor in die kerk as die kiertsregop blomme op die punte van stoel.

      Like

  1. ai so ‘n skermunkel van ‘n trou reelaar! Gelukkig gaan dit mos oor die troue , nie die blomme nie. Maar sy moes baie teleurgesteld gewees het. So is elke troue uniek agv sy foutjies( of foute) en katastrofes

    Like

    1. Seegogga jy is reg as jy sê elke troue is uniek agv sy foute!! Behalwe vir die stil kind se troue het elke kind se troue ‘n storie. Ek was op stadium ‘n troufotograaf, en het gesien wat verkeerd kan gaan op troues.

      Like

      1. miskien moet ons ‘n blogspeletjie begin. Elkeen vertel van hulle ( en hulle kinders) se troudisas of te wel troukatastrofes. Jy was eerste, nou tag jy sommer in daardie blog iemand om ook te vertel. ( jy kan my maar tag, ek het baie om te vertel). ERn met Toortsie se liedjiespeletjie, kan jy my mos ‘n vraag vra- wat ek sal antwoord met ‘n liedjie, ne.

        Like

    1. Sy het van daardie dag af nooit weer die onderwerp opgebring nie.. Ongelukkig is sy die tipe persoon wat alles binne in haarself hou. Ek weet net dit was vir haar ‘n bittere teleurstelling.

      Like

      1. Sal dit goed glo. Weet presies hoe sy voel want ek hou ook maar my gevoel binne my self. Dit veroorsaak met tye erge depressie hierdie kant! Gelukkig gebruik ek medikasie om te help met innerlike verwerkings

        Like

        1. Dit moet moeilik wees as ‘n mens so aanmekaar gesit is scrapydo. Wat ek van kindertyd nie van haar kon verstaan nie is as iemand haar seermaak… of nie optree soos sy glo dit hoort nie, sny sy daardie persoon uit haar lewe asof hy/sy nooit bestaan het nie. Wens partykeer ek kan binne haar kyk om te sien wat aangaan.

          Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s