oor rotte en uile

Ek hoor gister op RSG dat Johannesburg hul rotteplaag wil aanspreek. Wonderlik! Hulle wil dit ook op ‘n natuurlike manier probeer doen, in plaas daarvan om gif te gooi, wat net so wonderlik is.

Die probleem van muis- of rotgif is dat dit uiters gevaarlik is. Ek het een keer gehoor dat daar GEEN teenmiddel is vir die gif nie. Ons moet uiters versigtig wees.

Die idee van die uile klink vir my oulik. Dis ‘n begin. Mense word aangemoedig om uile te lok na hulle tuine.  Uilhuise opsit. Ek hoop hulle doen ‘n klompie opvoedingswerk saam met dit. Ons wou een keer ‘n klompie uile in ‘n stoor waar graan geberg word, en dus ook baie muise is, vestig. Binne ‘n dag of twee gewaar ons onraad. ‘n Klomp jong seuns het hulle met klippe doodgegooi, want UILE IS BOOS! 😦 Ongelukkig is daar mense wat allerhande dinge oor uile glo. Dis so ‘n mooi dier! En ja, hier in die Overberg hoor ons baie keer ‘n uil op ‘n dak…

Maar ek wonder net… wat van gewone katte? Ek is nie seker watter eiland dit is waarheen hulle katte geneem het om ‘n muisplaag te beheer nie, toe raak dit ‘n katplaag. Toe die muise beheer was, het die katte voëls begin vang…

Is dit ‘n gevaar dat ‘n katplaag kan ontstaan in ons land? Hier is tog baie meer natuurlike vyande as op ‘n eiland? Honde het ‘n manier om katte te beheer. Ek hoor nou die dag iemand vertel dat in ‘n sekere dorp die katte so wegraak. Wat hulle vermoed met die katte gebeur, gaan ek nou nie hier herhaal nie. As hulle dan bang is vir ‘n katplaag, kan daar nie dalk ‘n klomp gesteriliseerde katte vrygelaat word by die vullisterreine nie? Daar is dan nou so baie geld bewillig vir die projek, dit kan dalk aangewend word om katte te steriliseer?

In my eie huis het ek soms las met muise, selfs al is hier baie katte rondom die huis. Die probleem is dat dit buite bly katte is, en die heel veiligste plek vir ‘n muis IN die huis is! Ek het vir my by Homemark of Verimark sulke muismasjientjies gekoop wat glo ‘n geluid maak op ‘n frekwensie wat nie hoorbaar is vir die mens nie. Dit irriteer die muise en hulle trek dan op. Dit werk nogals, maar jy het ‘n hele paar van hulle nodig, hulle werk maar nie oor ‘n groot oppervlak nie.

Sterkte met al die peste en plae. Al wat ek weet, is dat ‘n muis en ‘n rot NIE die klein, dierbare, onskuldige diertjie is wat kinderboeke ons vertel nie.

Toorts

18 thoughts on “oor rotte en uile

  1. Ken ek nie van die rotte nie!!! Hulle baljaar hier in ons dak dat ek my al ‘n keer of twee katswink geskrik het. Regtig geklink asof ‘n mens op ons dak hardloop. Ons het so ‘n masjientjie, maar Ken moet gereeld rottegif in die dak gooi, dan hoor jy hoe rol hulle daardie balletjies rond. Hulle is die laaste paar maande stiller, en daaroor is ek baie bly. Al gedink om ‘n kat of twee bo in die dak te sit…. maar hoe gemaak met die rottweiler wat die katte gaan vang. Stem saam… hulle is nie daardie oulike diertjies van die storieboeke, en flieke nie.

    Like

    1. Ek wil nogals dink dat ‘n kat weet hoe om uit ‘n hond se bereik te bly. Onthou om water saam met die rotgif te sit. Die rotte raak dors van die gif. ‘n Vloeibare rotgif wat gemeng is met soetwyn… Maar hou dit net in die dak, buite bereik van klein handjies

      Like

  2. Ek het ‘n probleem met rotgif. Het julle al op die boksie gelees hoe die dier begin bloei en dat dit 10 tot 12 dae vat voordat hy dood is??? Kry maar liewer uile en katte. Wat die masjientjie betref: sterkte. Ons het eenhkeer gaan kamp by ‘n plek wat ‘n geboude kombuisarea het. Die mense het ook so ‘n masjientjie gehad. My mandjie met plastiese koekblik het baie naby die masjientjie gestaan. Die volgend oggend was daar ‘n gekoude gat in die koekblik en stukkies koekies en krummels die vloer vol. Iets vertel my dat die muise( rotte?) agtergekom het die masjientjie is skadeloos….

    Like

    1. Dalk moet ons nie te erg op die boksies lees nie… Ons het hier te doen met ‘n pes. ‘n Plaag, wat siektes versprei en mense se piekniekmandjies leeg eet. Ja, dis erg, dis onmenslik, maar iets ernstigs sal beslis gedoen moet word. Ek weet net nie of die uile en katte genoeg is om die ding te doen nie. Dit lok nog slange ook!

      Like

  3. ‘n Baie interessante skrywe,Toortsie.Ek is so 30 jaar in die omgewingsgesonheidsdienste op Munisipale vlak en en die raad wat ons gewoonlik vir mense gee is om bv nie ‘n bron te skep waar knaagdiere kan skuil nie.As mens bv knaagdiere in jou dak het moet openinge tussen die muur en dak deeglik afgeseel word met bv teelsement wat jy met water aanmaak.Moet ook nie Rommel op jou erf laat rond le nie wat skuilplek kan bied vir knaagdiere nie.Verwyder dit en pak alle bruikbare items tenminste 250 mm bokant gronvlak op rakke.Enige Rommel wat ongekontroleerd versprei is,
    is lekker skuilplek vir knaagdiere.As mens probleme met knaagdiere in jou huis het moet die opening van alle buitedeure,tussen die vloer en deur nie meer as 9,5 mm wees nie,maw ‘n gewone skryfpen moet nie deur die onderste opening van ‘n deur kan gaan nie.Dit geld ook vir buite geboue.Hierdie inligting word ook in voedselpersele bv Restaurante toegepas.
    Die goue reel is om nie bronne te skep vir knaagdiere nie.As daar geen bronne geskep word nie sal die knaagdiere gaan waar daar wel is.

    Groetnis.

    Like

    1. Sjoe, dankie Werner. Jong, ek is ‘n plaastannie wat uit ‘n plaasagtergrond probeer dink oor die dinge, ek dink nie ek het ‘n IDEE hoe dit in dorpe en stede gaan nie.
      Onsself woon in ‘n baie baie ou huis, en ek dink soms hulle broei sommer in die mure ook. 🙂
      natuurlik, op ‘n plaas waar daar soveel met graan gewerk word, is dit te verstane dat hier wel muise sal wees, maar ons probeer dit op alle moontlike maniere beperk.

      Like

    2. Dankie vir die goeie raad, Werner. Ek het onlangs my dak laat regmaak. wou dit tot teen die dak geplyste he, toe se die bouers, daar moet ‘n opening wees, ander ” sweet” die dak( dit is nottypine binne wat die volrm van die dak volg). Ande se weer dat die dak moet kan juitsit en inkrimp en dat daar dus spasie moet wees. Hoe nou?

      Like

        1. Daar is nie plek vir vetilasiegate nie, want die knotty pine is reg onder die dak, seke nie meer as 8 – 10 cm( of hoe hoog ‘n dakkap hout ookal is) van die dak af nie. So die opening tussen muur en dak was al die jare 4 bakstene hoog, maar die dak was onder toegeboks met nutec board. Toe ons die ou nutec board afhaal en vervang, het ons eers die groot opening gesien. Ek het dit laat toebou ( 4 rye bakstene) maar tussen dak en pleisete is oral steeds klein opening, te klein vir voeltjies, maar ek dink groot genoeg vir muise.

          Like

          1. Sjoe dit bly ‘n probleem. Wat van netdraad wat julle kompakteer deur dit te frommel of oprol en dit orals in die openinge druk? Of sal dit nie muise uithou nie? Vra ek wat self muise op die dak het!

            Like

      1. Ek is nou nie ‘n boukenner nie,Seegogga,maar wat ek wel gevind het, is dat teelsement baie sterk is vir toemaak van kleiner openinge.As jy dit aanmaak, maak dit meer stywer aan deur nie te veel water te gebruik nie.In jou geval dink ek kan ‘n mens hierdie ventilasie sisteme installeer wat met die wind werk vir ventilasie tussen die plafon en dak.
        Knaagdiere kan deur openinge so klein soos 1 vierkante cm gaan.
        Groetnis.

        Like

  4. Hier het ons nogal muise en ook katte wat in oormaat is. Dan is hier n man wat gekant is teen die baie katte wat so n mens se tuin bemors en ook aanteel soos konyne. Ek dink self dat daar te veel katte is. Katte is makliker om aan te hou omdat hul self kan uitgaan. Die muise is natuurlik ook maar veilger binnenshuis as buite! Hier is Possums wat n pes is. Eeenkeer per jaar word gif gestrooi in bosse en dan mag jy nie jou hond daar loslaat nie of laat rondloop daar nie.

    Like

Laat 'n boodskap na seegogga Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s