Die Geroeste Pyp

Hierdie week se uitdaging gaan oor roes.  Dankie Tina!!

Geroeste goed het ‘n bekoring van hul eie.  Hulle gee my ‘n warm gevoel om my hart, en iets fluister vir my “jy het tuisgekom.”  Nie dat ek tussen geroeste goed grootgeword het nie, inteendeel, ‘n geroeste pyp het gesorg vir ‘n nagmerrie ondervinding in my lewe.

03-24 24
Vyftig jaar later – en die heining wat die plaaswerf van die veld geskei het staan nou verlate op my oupa se eertydse plaas in Botswana.

Dit was ‘n Vrydagmiddag.  Ek het my boetie in ‘n kaskarretjie met ons rybaan afgestoot, en soos dit maar met kinders gaan het dit al uitbundiger geraak.  Al laggend kom ons vir die soveelste keer met die rybaan af, maar ek maak dit net tot by die motorhek, toe los ek die kaskarretjie dat hy sy eie pad vind, en gryp my voet vas.  Ek het my voet teen die pyp in die grond – wat die hek in plek hou – gestamp, en onmiddelik ‘n brandpyn in my voet gevoel.  My verbaasde boetie kom aangehardloop om te sien waarom ek so kliphard huil.  Ek wys hom die plek tussen my groottoon en die een langs hom waar ek my gestamp het, maar behalwe vir ‘n druppel bloed wat uit ‘n gaatjie wat jy skaars kan sien uitkom, is daar niks besienswaardig nie.  Die pyn is egter ondraaglik, en begin met my been op beweeg.

My ma word geroep.  By nou sit ek op die voorstoep se trappies met Boel ons hond, langs my.  Ek kry egter meer simpatie van Boel as van my ma wat niks kan sien nie, en dus glad nie verstaan waarom ek so huil nie.  Die pyn raak by die minuut erger, en ek huil al harder.  My ma troos met die woorde dat my pa oor ‘n rukkie by die huis gaan wees, en dat hy sal weet wat om te doen.  My pa – die versorger van ons kinders se wonde – verstaan dit egter ook nie.  Was daar ‘n wond om te behandel sou hy dit met groot liefde gedoen het, maar behalwe dat my voet geswel is sien hy niks nie.

By etenstyd is nie net my voet nie, maar my hele been geswel.  My pa trek die Studebaker uit die motorhuis uit, en dra my kar toe.  Ek huil nogsteeds.  Dit voel asof  my been in ‘n pot kookwater gehou word.  By die Kinderhospitaal aangekom word ‘n dokter onmiddelik geroep.  Een kyk na my been, en hy wil by my pa weet waarom ek nou eers hospitaal toe gebring is.  Dit is bloedvergiftiging, en volgens hom kan ek my been verloor.  Daarna volg ‘n laaaaaang aand van wag.  Ek kry sewe inspuitings – ‘n halfuur uitmekaar – in my been, en toe die dokter tevrede is word my  been verbind, en die leviete aan my en my pa voorgelees.  Ek moet vir ‘n week in die bed bly, my medisyne gereeld drink, en hom oor ‘n week weer kom sien.

In die kar begin ek dadelik by my pa soebat dat hy my nie moet weerhou om skooltoe te gaan nie.  Ek was in standerd vyf en het tot op daardie stadium ‘n 100% skoolbesoek rekord gehad.  My pa, ‘n man wat vanaf sy sestiende jaar op dieselfde plek gewerk het, en nooit een dag van die werk afwesig was nie, het my pleidooi goed verstaan.  Met die belofte dat ek my been sal stilhou sodra ek by die skool kom, stem hy in.  Die Maandag trek my boetie my in die kaskarretjie busstop toe, en ek sukkel verder met krukke aan.  In die middae word ek weer met die kaskarretjie huistoe getrek.  Die Vrydag het ons skool ‘n opvoering by die Dieretuinmeer; Jan van Riebeeck kom met ‘n bootjie oor die meer geroei, en land in die Kaap.  Die kinders is in vervoering maar ek kannie in die vreugde deel nie, ek besef daar is fout met my been.

Daardie aand kyk die dokter verslae na my been, en wil weet of ek myself so stil as moontlik gedra het.  Ek kannie vir hom jok nie, en vertel hom die waarheid.  Hy stel my voor ‘n keuse; “Besluit tussen ‘n 100% skoolbesoek rekord, of die kans om jou been te verloor.  Uiteindelik dring die erns van die saak tot my deur, en ek buig voor die onvermydelike.  Die geroeste pyp het gewen.

16 thoughts on “Die Geroeste Pyp

  1. Sjoe, wat ‘n nagmerrie! Ek sou waarskynlik dieselfde as jy gedoen het maar mens besef nie altyd die erns van so iets nie. Ek het darem nooit omgegee vir daardie 100% skoolrekord nie, hehehe.

    Like

    1. Vandag verstaan ek ook nie hoekom ek so begaan was oor daardie skoolrekord nie, maar ek weet net dit was vir my ‘n yslike teleurstelling dat ek nie daardie mylpaal kon haal nie. 😦

      Like

          1. Dit was regtig ‘n baie groot prestasie as jy kon sê dat jy in jou hele laerskoolloopbaan in hierdie skool, of hele hoërskoolloopbaan NOOIT afwesig was nie. Ek was ook EEN dag afwesig, en dit oor daai simpel toetse wat mens moet doen om te bepaal watter loopbaan jy moet volg. tsk. 😦

            Like

    1. Yep Toorts, gelukkig het ek ‘n les geleer. Jare later toe my bruinoog seuntjie tweekeer in een week in ‘n geroeste spyker getrap het, het ek hom albei kere onmiddelik hospitaal toe gevat.

      Like

  2. lyk my al die litnet bloggers gaan een van die dae hier begin vergader.
    ek het sommer in Gr2 al pampoentjies gekry, en toe geweet daardie rekord van ouboet wat toe al ver gevorder het met 100% bywoning my nie beskore sou wees nie

    Like

    1. Ons sal natuurlik net te bly wees om julle onder ons dak te hê 😆
      Terwyl jy nou so praat… wonder wanneer het ek dan al my kindersiektes gehad?

      Like

  3. Ja, ek dink daardie tyd se geroeste goed was nie so “afgewas” soos vandag nie. Hul was regtig baie giftig daardie tyd.
    (Ek het lankal vir Tina ook gese om haar in te grawe op Woordpress. Die ouens kon almal al goed bekend gewees het hier!)

    Like

    1. Sal so lekker wees om weer ‘n lekker groep bymekaar te wees. Ek mis regtig die tyd toe ons saam stories vertel het ens. Ek is maar ‘n sentimentele siel, en raak vreeslik vinnig geheg aan mense, al het ek hul nog nie met ‘n oog gesien nie. Hoop werklik die litnet klomp gaan gelukkig wees hier.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s