‘n Boer maak ‘n plan

‘n Nuutjie vir my is om turksvye en pruime in te lê. Vanoggend het ek skielik met ‘n groot fluksheid opgestaan. Die karton met die pruime en ‘n resep daarby, wag al vir my van Vrydag af, en terwyl ek toe die kans waag om die pruime in te lê, skil ek sommer die klompie turksvye ook wat hier in die kombuis lê. My tannie sê dis hoe die ou mense finansieel oorleef het, deur, wanneer vrugte en groente in seisoen is en jy het baie daarvan of kry dit geskenk, of koop dit vir goedkoop, dit in te lê of te blansjeer en in die vrieskas te sit. Die alternatief is om dit ten duurste te koop deur die jaar… Dis wat my ma ook al die jare gedoen het. Groente is geblansjeer, vrugte ingelê.  Die groot voordeel is dan natuurlik ook dat jy die vrugte wat te veel is, wel nuttig gebruik en hulle lewe verleng.

Ek dink ek het die pruime ‘n bietjie te lank laat kook, party van hulle het uitmekaar geval. Terselfdertyd hoop ek ek het die turksvye wel lank genoeg laat kook, dat dit deurgaar is, maar ek was bang hulle val ook uitmekaar…

???????????????????????????????Dag 32 van happy days gaan vir die feit dat ‘n boer ‘n plan maak. En ja, dit IS so! Dis ter wille van oorlewing dat hulle daagliks planne moet maak, want wat gister gewerk het, werk nie noodwendig vandag meer nie. Omstandighede verander in ‘n oogwink. Dit kan verander as gevolg van droogtes, reën op ‘n sensitiewe tyd, brande, koue wat toeslaan die nag nadat jy geskeer het,  ag noem maar op. So, planne, planne, planne moet ons maak.

Ek dank die Here vir ‘n boereman wie net ongelooflik baie planne het. Oe, dit maak my soms MOEG, maar dankie tog, dankie dat hy planne het. Die slegste ding denkbaar wat ‘n boer kan oorkom, is dat sy planne opraak. Dis angswekkend. Ek het al sulke boere gesien. Mag dit nooit met my man gebeur nie!

Natuurlik, so tong in die kies, en tussen ons, is die beste, eerste plan wat ‘n boer KAN maak, om ‘n oulike vrou te trou!! 😉

planmakertooorts

13 thoughts on “‘n Boer maak ‘n plan

  1. So lief soos ek vir my oupa se plaas was weet ek dat ek weet dat ek nie ‘n goeie boervrou sou uitmaak nie. Manne se planne maak my moeg terwyl ek nog daarna luister, wat nog van ‘n boer s’n. En dan daardie liewe kombuis….. 😉 Die Here weet waar om elkeen te plaas!!!

    Like

          1. Die wêreld sou oorstok gewees het van ingelegte vrugte… en ons sou almal deureet gewees het daaraan; met die gevolg dat die vrugte (en groente) onder die bome sou lê en vrot word…. en ons sou ons nie eers daaraan gesteur het nie. 🙂

            Like

  2. O ja, stuur maar daardie turksvye aan 🙂 Verlede jaar by Chantè gekuier toe pluk ons ‘n skottel vol turksvye oor die muur, m.a.w die buurman s’n. Chantè se plan was om dit in te lê…. maar my liefde vir turksvye het gemaak dat daar niks van gekom het nie 😆

    Like

  3. Behalwe nou vir groenvye, trek ek ook maar baie slap by alle kosmaak en ook naaldwerk plannetjies. Gee my liewer ‘n kwas – enige kwas, en selfs ‘n hamer. Maar die heel beste plan wat daai boer waarvan jy nou praat OOIT gemaak het, is om met ‘n Toortsie te trou.

    Like

Gesels saam, asseblief!