Om naaldwerk in vrede te doen was die rooi gedoentetjie waarmee ‘n mens lostorring vir my net so belangrik soos die naaimasjien self. Die kinders is die dood voor die oë gesweer as hulle die “rooi dingetjie” – so was hy gedoop – sou gebruik, of wegdra. Die gebod het sommer vir alles in my werkskamer gegeld; daarom het elke kind haar/sy eie skêr gehad. My goete is my goete, so los uit!!!
So tussen die materiaal en patrone deur het die “rooi dingetjie” met tye op soek geraak, dan is die kinders ingeroep om te help soek. ‘n Triomfanklike “hier is mamma se rooi dingetjie,” was towerwoorde wat deur ieder en elk met blydskap aangehoor is, en die kinders in ‘n oogwink laat verdwyn het – net vir ingeval die “rooi dingetjie” sou besluit om weer wegkruipertjie te speel.
So kom Jay een middag hoogs verontwaardig van die skool af terug. Sy stap die werkskamer binne, en eis ‘n verduideliking vir die doopnaam van die “rooi dingetjie.” Ek verduidelik dat hy die naam gekry het omdat ek nie weet wat anders om hom te noem nie. Dat hy definitief nie ‘n “rooi dingetjie” genoem word nie het sy die dag in die huishoudkundeklas uitgevind. Sy wou ‘n stuk naaldwerk lostorring – ma se kind – en gaan vra vir die juffrou of sy asseblief haar “rooi dingetjie” kan leen. Die juffrou gaap haar oopmond aan en toe Jay sien dat die ligte nie aankom nie, verduidelik sy waarna sy opsoek is. Met die woorde dat dit nie ‘n “rooi dingetjie” genoem word nie, oorhandig die juffrou die “lostorring apparaatjie” aan haar. “En die ergste is,” sê Jay ontstoke, “dit was nie eers ‘n rooi dingetjie nie, maar blou.”
Vergewe hierdie ma dat sy gelag het…..
Dis ‘n dierbare storie! By ons word hy die “piccolo” (!!) genoem…! (“Pick”-dingetjie word piekeldingetjie word … piccolo)
LikeLike
Piccolo… dit klink soveel beter as die rooi dingetjie 🙂 Piccolo, hy val so lekker op die tong!!!
LikeLike
Ek ken hom as die lostorringmessie…. Ja, een van die moderne 7 wonders van die wêreld! 🙂
LikeLike
Tjinks, jy skuld my ‘n coke Toortsie, of amper i.e.g. Ons het gelyktydig geskryf!
LikeLike
Reg so. ‘n Heavy coke of ‘n coke lite?
LikeLike
Hehehe, eintlik lemoensap. Coke het te veel gas in na my smaak 😉
LikeLike
Myne het oortyd gewerk…. en al daardie jare gehou. Hy rus nou in vrede in ‘n naaldwerkblik wat net uitgehaal word wanneer ek ‘n knoop wil aanwerk. Eintlik is hy ‘n erfstuk 🙂
Lostorringmessie…. nou toe nou!!!
LikeLike
Lostorringmessie… Dis hoe dit in my naaldwerkboek of iewers gestaan het in St 6. 🙂
LikeLike
Die rooi dingetjie klink net soveel meer vanpas by ons huishouding 😆 Ek belei dat dit taalsgewys maar dol gegaan het in ons huis….
LikeLike
Dink jy nie ander huise het maar sulke goedjies wat net sulke name het nie? By my in die huis was ‘n Die Blik. Al die kinders in die buurt het daarvan geweet. Dit was ‘n groot koekblik vol lekkers wat bo-op my kas gestaan het. Hoe, weet ek nie, maar hulle kon dit in die hande kry. As ek gesê het Die Blik kan maar afgehaal word, het ALMAL gestorm! 🙂
LikeLike
JAAAA!!! ek hou daarvan. Dit klink net soveel meer huislik, en maak lekker herinneringe 🙂
Rika se tokkelok kon so eg suiwer Afrikaans praat – hoge Afrikaans. Dit was reg, het hom gepas, en het mooi op sy tong geklink…. maar ai, ek kon partykeer nie verstaan wat hy vir my sê nie 😦 Ek dink ons huisgesin was vir hom ‘n erge toets.
LikeLike
Pragtige storie 🙂 In ons huis was dit ‘n torringmessie genoem (heel formeel ;), en wat ‘n handige ding is dit nie! Ek het genoeg van my pogings moes lostrek … ek en Huishoudkunde was nie vriende op skool nie. Jare later, noudat daar geen druk op my is nie, het ons weer vriende geword.
LikeLike
Formeel of te nie, jou ma het darem gesorg dat jy nie in die verleentheid kom nie 🙂
Jy en Toorts sê ‘n messie!! Nooit aan die rooi dingetjie as ‘n messie gedink nie.
LikeLike
Dis kostelik! En ja, elke huis het sy “rooi dingetjie”. In ons huis het ons ‘n “kie-kie”. Toe my seuntjie klein was vra hy my eendag vir die “kie-kie” toe ons kombuis opruim. Ek verstaan nie en geduldig haal hy die (Meneer Spier) huishoudelike skoonmaakspuitkannetjie uit en begin spuit. Toe hoor ek die geluid: ‘n sagte “kie-kie…” Wie kan nou daarmee stry? Tot vandag toe is dit ‘n “kie-kie”.
LikeLike
Netso Sonlig 🙂 Dit het mos baie meer waarde!!
Lekker om weer van jou te hoor – nie lank terug nie aan jou gedink, 😉
LikeLike
Daai juffrou se naam vir die BLOU dingetjie was ook maar omslagtig 😆
LikeLike
😆
LikeLike
Terloops in Engels is dit ‘n “seam ripper”… Moes my byna doodsoek na die woord om dit in ‘n winkel op te spoor (oorsee)…
LikeLike
‘n Seam Ripper….. klink darem beter as ‘n rooi dingetjie 😆 Glo my vry na al hierdie baie jare het ek nogsteeds die rooi dingetjie. Hy word nie meer gebruik nie, maar ek hou hom vir sentimentele waarde.
LikeLike
Whaha, het ek nou lekker gelag. My rooi dingetjie is geel en ek noem hom ‘n “picker”. Nee, ek weet nie waar ek daardie benaming geleer het nie – dit was seker lank gelede.
LikeLiked by 1 person
Ai, het ek maar eerder so ‘n benaming uitgedink was ek nie so diep in die moeilikheid nie. Sy praat tot vandag toe daarvan.
LikeLiked by 1 person