Inlê lekkerte

Inlê. Soos in inmaak. Vrugte en groente inmaak. In bottels. Sodat jy later net ‘n bottel kan oopmaak. Dís waarvan ek praat.

Met dié wat ons ver van die dorp af woon en dus nie altyd vars produkte in die huis het nie, is ‘n pot ingemaakte vrugte of groente ‘n baie handige ding. Veral as jy skielik op ‘n Saterdagmiddag lus voel om vriende oor te nooi vir ‘n braai. Werda se inmaakslaaie is natuurlik ‘n wenner op sy eie, maar ‘n self ingelegde pot slaai is bobaas!

Ek sal, selfs al is ek doodmoeg, maar ek vrugte of groente present kry, al my kragte bymekaarskraap om dit tot wegpakkos te verwerk. Die verwerking is ‘n uur of 2 se werk, maar bring dae se plesier. Ek is ‘n bobaas konfyt flopper, so ek probeer nie eens om konfyt te kook nie, maar ingelegde slaaie! Dís waarop ek konsentreer.

‘n Werker bring vir my ‘n winkelsak vol van die lieflikste, varsste, grootste uie. Dadelik word dit opgesny en in ‘n mostertsous gesit, in bottels. Die buurman se sak vol boontjies word dadelik kerriebone. Ek het ook al geleer om sommer bevrore bone te gebruik vir kerrieboontjies, dit werk net so goed. Dieselfde kerriebone resep gebruik ek vir bevrore gemengde groene en maak kerriegroente. Heerlik!!

Beet word op die outydse manier ingelê met gelyke dele suiker, asyn en water, of anders maak ek ‘n soetsuur beet van my skoonma. Kry ek tamaties geskenk, maak ek tamatierelish of tamatieblatjang. Die relish werk heerlik op worsrolletjies en die blatjang werk saam met braaivleis as ‘n slaai. Kliek op die blou soetsuur beet of tamatieblatjang om by resepte uit te kom. Anders, vra by hierdie blog se soekenjin vir somerslaaie. Daar is resepte. Of anders, soek vir Toortsie op Pinterest. Kyk vir die bladsy, resepte vir inlê. Daar is al ‘n paar skakels, met tyd sal ek dit aanvul.

November/Desember rek ek behoorlik my ore en oë om appelkose in die hande te kry en dit word met pit en al ingelê in ‘n soet-suur sousie. Dit moet dan ‘n volle 3 maande staan… en dan? Sjoe, dis lekker!! Op hierdie oomblik is daar kerrieperskes (perske-atjar) aan die kook vir baie kere se eet saam met die braai.

Ek is ook lief om ‘n pienk noedelslaai in potte te sit. Ek hoor nou die dag iemand grom onderlangs dat dit darem ‘n baie verveelde persoon moet wees wat noedels inlê, maar nou ja…

… As ek daai potte net hoef oop te draai en uit te gooi… … dan is dit die lekkerste lekkerte en verdien om op dag 8 van 100 lekker dae genoem te word. ingelegde toorts ns. Wat lê julle alles in potte in wat ek nou weer by julle kan leer?

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie se Banting Boerkos Faceboekblad

Toortsie by Finesse: Wegbreek

21 thoughts on “Inlê lekkerte

  1. Ek het al koejawels en kwepers ingelê en lekker rissie en tamatie konfyt en onlangs geroosterde red peppers, maar my suksesvolste nog was jalapenos, heel ingelê. Lekker in klein stukkies in slaai, op pizza en saammet sterk kaas.

    Like

  2. Al is ek maar ‘n amateur in die inle-bedryf, doen dit iets aan my om al die botteltjies om my te sien en of vir Manlief of vir gaste uit te haal. En dis so lekker om iemand met ‘n botteltjie iets te bless. Vanjaar het ek appelkooskonfyt en -blatjang gemaak, asook perskekonfyt, Kerrie perskes en ingelegde perskes. MMMM

    Like

  3. Ek het ‘n sak van die vet jalapenos by Fruit en Veg City gekoop, want ek kon nie die “special” van R20 laat staan nie. Ek het hierdie resep gebruik en maar so raai-raai die kwantiteit aangepas – ek het sommer van daai boksies pickling spice wat mens kan koop gebruik en seker gemaak om van die heel stukke knoffel saam in te le.

    http://www.yumsugar.com/Easy-Pickled-Jalapenos-Recipe-23560146

    Kyk dan ook by Clicks – hulle het ‘n nuwe Love Jamming of so iets reeks, vir R130 kry jy ‘n boks met al die toerusting, magnetiese visstokkie om die deksels uit die kookwater te vis, lekker rubber klamp om bottels in en uit te haal ens.

    Like

  4. Ek voel soos annie…. “Sowaar ‘n klomp Spreuke vrouens…. en ‘n man!” Nee wat ek word moeg net soos ek lees 🙂 Eers het ek ‘n skoonma gehad wat ons kaste vol konfyte, en ingelegte vrugte, en vrugtekoek, en beskuit gehou het. Nou het ek ‘n dogter wat dit doen 🙂

    Like

  5. Ingelegde koejawels en kwepers is my gunstelinge. Nie om te maak nie (genugtig, al wat ek omtrend kan maak is springmielies) maar om te eet!

    Het een van julle dames se potjies al per ongeluk ‘n gis opgetel?

    Like

  6. Bijna 24/7 zijn er nu kant-en-klaar maaltijden te koop.
    Terwijl het zelf in de keuken staan en eten bereiden of voor bereiden zoveel smaakvoller is.

    Inleggen en wecken wordt het eigenlijk niet meer gedaan.

    Smakelijke groet,

    Like

Gesels saam, asseblief!