uitrusting vir moeder van die bruidegom…

Dis nou al ‘n geruime tydjie sedert ek ‘n uitrusting moes koop vir ‘n kind se troue, maar die inskrywing, Moeder van die Bruidegom, trek steeds aandag dat ek maar die stuk wil skryf wat ek al destyds wou skryf. Ek glo dat die mense wat by daardie bloginskrywing uitkom, nét so onseker voel soos ek destyds.

Toe ek daardie inskrywing gedoen het, was ek eintlik nog rustig oor my klere. Ek sou Kaap toe gaan en sommer iets koop. Tot ‘n vriendin terloops noem: “Jy gaan darem seker ‘n besonderse uitrusting hê”…. 😯 Tóé gaan my klein koppie op loop.

Ek het nog grootgeword met die gedagte dat die ouers van die bruidspaar aantrek volgens die kleurskema… ek wonder, is dit nog so?

Een dag was ek en my dogter vinnig in die Somerset Mall en daar hang toe nogals ‘n rok waarvan ek hou. Sy het nie opgewonde gelyk nie.

Ek bel toe ‘n vriendin en vra of sy vir my iets sal maak. Die naweek van die Argus is toe al wat ek kon loer vir materiaal, en ek het nie baie tyd gehad nie. Terwyl pappa in die motor gewag het, is ek en meisiekind vinnig by ‘n materiaalwinkel in.  Ek sien die pragtigste pienk net met krale geborduur. Nét waarvan ek hou!! Dit kos ‘n plaas se geld, maar dis mos darem ‘n groot geleentheid. Saam met dit ‘n ligte grys satyn vir die onderrok. Oeeee dis mooi!!! 🙂

Dit word afgesit by die kleremaakster. Ek begin nagmerries kry. Dis te lig, lyk te na aan wit. Ek stuur ‘n foto vir die bruid se ma. Sy sê ook dis baie lig.

Ek vra toe sommer vir die kleremaakster om te kyk vir donkerder satyn. Sy kry ‘n pragtige donkergrys. Met baie moeite met die krale, word rok gemaak.

Toe ek die rok aantrek, besef ek dis nie die rok nie. En tyd loop uit! Daar is nie tyd vir weer Kaap toe ry nie!!

Angsbevange hardloop ek toe by ‘n winkel op Struisbaai in en koop ‘n swart uitrusting. (Hoor later dat swart beslis nie die kleur is vir die bruidegom se ma nie!! ) Nog ‘n plaas se geld daarmee heen. Party vriendinne se reaksie lyk of hulle daarvan hou, ander nie….

Onsekerheid raak meer…

Tyd raak op…

Ek besef toe ek moet die kleremaakster inlig, sy gaan die foto’s sien. Sy het SOVEEL moeite gedoen met die rok!! Sy verstaan onmiddellik toe ek vir haar sê, en haar reaksie is dat sy net ‘n ander kantmateriaal sal soek en ‘n ander oorrok maak … Bel my later en sê dat sy kant gekry het, ek moet kom kyk. My antwoord: “Daar is net 2 weke oor, maak maar ongesiens…”

So is ek toe met ‘n rok na my kind se troue waarvan ek nie die materiaal gesien het voor die tyd nie…

Ek het baie komplimente gekry.

My niggie het gesê: “Voor die tyd worrie jy dat jy die verkeerde uitusting sal kies, tydens die troue en daarna worrie jy dat dit verkeerd was.”

Ek wonder of ek nie skielik saamblyery voorstaan nie? 😉

Toorts

Ns… ek het die nag voor die tyd wakker gelê want my rok was die PRESIESE kleur van die TAFELDOEKE!

Toortsie se Faceboekblad.

Toortsie by Finesse: Kleur

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

9 thoughts on “uitrusting vir moeder van die bruidegom…

  1. Ek het lank terug al besluit dat ek clueless is sover dit klere en hare ens betref. Daarom hardloop ek by ‘n winkel in, gryp en pas aan en koop. Dan kyk nie weer daarna totdat ek dit aanhet nie. Met my noolste Nolie ook oorweeg om self te maak. Maar almal se gesigsuitdrukkings het “Skokkend” geskree. Vandag se “styf om die lyf klere” staan my nie aan nie. Ek sal vir die volgende my masjiene olie en skoonmaak. Wie dit skokkende vind sal ek verder skok en vertel vandag se winkel klere het nie plek vir onnies nie. Ek wil tog nie verkoue kry nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!