Troeteldier Uitdaging

Rondomtaliedraai het my genooi om saam te speel en oor troeteldiere te skryf. Ek is eintlik bang om hieroor te skryf, want ek mag dalk mense teleurstel.

Ek het op ‘n plaas grootgeword waar diere ‘n algemene ding was. My pa het met skape geboer en daar was melkbeeste, perde, varke… Ons het nie diere in die huis gehad nie. Daar was skaaphonde, maar hulle was werkshonde. Ons was lief vir hulle en het liefde aan hulle betoon, maar ek is nie seker of hulle regtig kwalifiseer as “troeteldiere” nie. Ons het graag in die melkstal gekom en met ons kaal voete in die warm mis getrap, gehelp om te melk, diere aangejaag. Netso was ons saam met my pa in die skaapkraal, tussen die wolbale, ens. Maar dit was nie ons troeteldiere nie.

Plaasmense het ‘n ander verhouding met diere, wat dorpsmense soms nie verstaan nie. Dis vir my ononderhandelbaar dat diere goed versorg word, goeie kos en water en wat nog nodig is het.

Toe my oudste broer weermag toe was, het hy ‘n spaniël gekoop, Dimpels, en hy was ‘n huishond.

Kort na my troue het ek ook ‘n spaniël gekry, maar my man se opdrag was: Die hond bly buite. Toe die tweeling hulle opwagting maak, en ek meer as voltyds besig was met die babas, is hond maar afgeskeep. Hy het verdwyn, en ons vermoed iemand het hom langs die pad opgetel.

Eers toe my jongste al in die laerskool was, het ek weer ‘n behoefte gekry om ‘n hond te hê. Karools, ‘n spierwit labrador het ons honnekind geword. Teen alle opdragte in, het hy ‘n huishond geword.

Ek is nie ‘n “troetel” eienaar nie. Ek gee aandag, gaan stap graag met my hond,  maar is nie heeldag met die hond besig nie. My hond mag in die huis inkom, maar die oomblik as ek “hond” ruik en my neus trek toe, moet hy uit. Diere mag ook nie op my beddens of ander meubels kom nie en dit word van kleins af nie toegelaat nie. As ek aan ‘n dier gevat het, was ek dadelik daarna my hande. Ek gril as mense met die honde so tussen die kos werk, dan vat hulle aan die hond, dan aan die kos…

Net om julle ‘n idee te gee…. Hier is my geselskap as ek wasgoed ophang:

2013-11-06 09.28.00

Het jy regtig meer nodig as dit?

Ek is lief vir diere. Ek is liewer vir mense.

Toorts

13 thoughts on “Troeteldier Uitdaging

  1. Wys jou hoe omstandighede verskil. My skoonouers het ook as plaaskinders grootgeword. Skoonma het ‘n swetterjoel honde en katte gehad. Elke skoon sus het ook
    ‘n troeteldier van die een of ander aard gehad.

    Like

  2. Daai span draadstaanders lyk vir my redelik nuuskierig, sal my niks verbaas as hulle nog luidkeels staan en kommentaar lewer ook nie. Ek sê altoos vir die een wat gehoorsaam moet word dat sy darem snaakse diere aanhou: haar antwoord is altyd….jaaaaa, maar ek is lief vr julle almal. Met ‘n handvol uitsonderings voel ek nogal nie dieselfde oor mense as jy nie

    Like

    1. Maar die diertjie vir wie sy seker die liefste is…. dra ‘n hoed! 🙂
      Genadiglik verskil mense, en ek gun jou om te voel oor diere en mense net soos jy wil. Solank jy net my maatjie sal bly. 🙂

      Like

Gesels saam, asseblief!