Die groen huis tot by die huis oorkant die pad….

Daar was niks aan die groen huis wat ‘n mens laat wonder het wat agter sy mure aangaan nie; nee dit was ‘n doodgewone huis in ‘n doodgewone straat, in ‘n doodgewone buurt.  Sonder om hom ‘n gedagte te gee het ek jaar in en jaar uit by hom verby gery.  Toe op ‘n dag kry ek die begeerte om te stop en aan sy voordeur te gaan klop.  Ek onderdruk die begeerte, en ry verby.  ‘n Paar dae later gebeur dieselfde ding, en ‘n paar dae later weer, en weer, en toe besluit ek om die Stem te gehoorsaam, en gaan klop aan die deur.

‘n Aantreklike man so in sy middel dertigs maak die deur oop.  “Hello,” sê ek, “Is jou vrou hier?”  Hy maak die deur wyer oop, en neem my deur sitkamer toe.  ‘n Ruk later kom sy vrou binne.  Ek stel myself bekend, en vertel haar van die begeerte wat by my opgekom het om by hulle huis te stop.  Patricia – dit is haar naam –  vra my om te sit, wat ek dan ook doen, maar ek doen nog meer, ek gesels soos ‘n ou bekende met die teruggetrokke (later sou ek uitvind verbaasde) vrou.  Die familie; man, verwagtende vrou, en twee jong seuns het onlangs hier ingetrek, en ken niemand in die buurt nie.

Met ‘n belofte dat ek haar die Woensdag vir Vrouebybelstudie sal kom oplaai, klim ek ‘n halfuur later in my kar en ry weg.  Haar man vra wie is die vreemde vrou, en Patricia nogsteeds verdwaas sê sy is nie seker nie, maar die vrou praat van die Here asof Hy haar grootste Vriend is.  Later sou ek uitvind dit is my verhouding met ‘n Lewende God wat Patricia eers in die diepte van haar siel geskok, en toe laat wonder het hoe bring jy ‘n God wat daar bo in die hemel sit af aarde toe, sodat Hy deel uitmaak van jou daaglikse lewe.

In die drie jaar wat volg loop ek ‘n baie nou, en intieme pad saam met haar.  Haar lewe is deurspek met hartseer, en probleme.  Haar man is lief vir ander vroue, drink sy geld uit, en sy sukkel om kos op die tafel te sit.  Na die geboorte van hulle dogtertjie probeer sy ‘n besigheid op die been bring, maar dit is onsuksesvol.  Geestelik groei sy egter pragtig.  Die swak babatjie wat ek leer ken het begin groei, dan kruip, en begin toe op waggelende bene loop.  Tot op daardie stadium het sy my hand styf vasgehou; nog ‘n jaar en sy loop sterk.  Ek jubel in haar vordering, en is bly oor ons vriendskap, en net so skielik soos dit begin het word die band afgesny.  Hulle verhuis so te sê oornag na ‘n ander dorp toe.

In trane sit ek voor die Here en bekla my lot.  “U het vir my hierdie mens gegee om ‘n pad mee te stap.  Ek het gedoen soos U gevra het en lief geraak vir haar, hoekom vat U haar nou uit my lewe uit?”  Daar is opstand binne my, en ek verwag ‘n “Siestog My kind,” in ‘n vertroostende Stem.  Daar is ‘n Stem maar sonder die vertroosting wat ek verwag het.  Die opdrag is duidelik; “Gaan na die derde huis aan jou regterkant toe.”  Soos ‘n halstarrige perd steek ek vas, probeer redeneer, simpatie vir myself kry, maar tevergeefs.

Die volgende oggend stap ek na die derde huis aan ons regterkant toe.  Die gras by die hekkie is kniehoog; daar is nie veel tuin nie, en dit wat daar is spreek van verwaarlosing.  Ek klop aan die deur.  ‘n Vrou in haar laat veertigs maak die deur oop.  Sy moes baie mooi gewees het in haar jongdae.  Sy is eenvoudig maar netjies aangetrek.  Ek stel myself voor, en vra of ek kan inkom.  Sy maak die deur huiwerig oop.  Dit neem nie lank om agter te kom dat hierdie mens bang, en in haarself gekeerd is nie.  Sy het haarself van die buitewêreld onttrek.  Ek gesels my gesels, en toe ek loop kom die onbeplande woorde oor my lippe; “Ek het ‘n leersame bybelstudie oor die vrou wat ek graag met jou sou wou deel.  Ek gaan dit nie op jou afforseer nie; indien jy belangstel kom Woensdagoggende om tienuur na my huis toe, dan studeer ons dit.”

Ek berei die eerste studie voor; Woensdag kom en Joanne daag nie op nie.  Ek het nie my hoop daarop gesit nie – wonder net nuuskierig hoe die Here daardie bang mens uit haar huis gaan kry.  Die volgende Woensdagoggend is daar ‘n sagte klop aan ons voordeur.  Dit is Joanne.  Later sou sy aan my erken dat sy glad nie van plan was om te kom nie, nie net omdat sy bang was vir die lewe buite haar huis nie, maar ook omdat sy so geskok was oor my Godslastering.  Sy het egter al meer begin wonder oor my verhouding met Jesus wat deel uitmaak van die geselskap sonder dat ek oor Geestelike dinge praat.

Joanne se lewe tot op daardie stadium was ‘n nagmerrie.  Ses kinders en ‘n totale alkoholis as man.  Skaamte vir die toestand van haar lewe het haar jare as gevangene in haar huis gehou.  Met haar hand in myne het sy daardie eerste oggend haar hart aan Jesus gegee.  In die jaar en ‘n half wat daarop gevolg het, het ons oor die oop Bybel studeer, gebid, en ‘n pragtige vriendskap het tussen ons gevorm.  Sy het geestelik gegroei, voor my oë begin blom, en haar vrouwees teruggeneem.  Haar man het een oggend die drank by die drein afgegooi en nooit weer sy mond daaraan gesit nie.  Hy het ‘n besigheid begin, ‘n groter huis gekoop en laat restoureer, ‘n swembad laat insit, en deur sy liefde vir grond en plante ‘n paradys as tuin geskep.  Die dag toe ek Joanne pragtig gekleed, gelukkig en vol vertroue, agter die toonbank van haar man se besigheid sien, het ek geweet my pad saam met haar eindig hier.

“En so het U my weereens van ‘n mens wat ek liefhet afgesny,” sê ek die Vrydagoggend vir die Here.  Toe Sy stem die opdrag gee dat ek na die vrou oorkant die pad toe moet gaan, weier ek volstrek.  “Ek gaan nie weer hierdie pad loop, om dan afgesny te word nie.”  Daardie hele dag hou ek my gesig weggedraai van die huis oorkant die pad.  Die naweek druk ek my ore toe, maar Maandagoggend staan ek op my knieë met trane wat oor my wange loop.  My hart is gebreek vir die vrou oorkant die pad, en ek weet nie eers wie sy is nie.  Ek staan van my knieë af op, was my gesig en stap oor die pad.  ‘n Swartkopvrou maak die deur oop.  Ek skat haar naby vyftig.  Voordat ek myself kan voorstel kom die woorde oor my mond; “Die Here sê Hy is baie lief vir jou.”  Voor my oë breek die vrou in stukke, en val my om die lyf.  “Dankie, O dankie huil sy teen my bors.”  Toe sy tot bedaring kom nooi sy my binne, en daar moet ek hoor dat sy die Vrydag (van my ongehoorsaamheid) geskei is, en die vreeslike naweek wat sy agter die rug het.  Skaam oor my ongehoorsaamheid laat sak ek my kop.  Ons het saamgestap, en ‘n jaar later is Petro aan kanker oorlede.

8 thoughts on “Die groen huis tot by die huis oorkant die pad….

  1. Toe ek hierdie vanoggend lees,dink ek so 3 weke terug toe ek die oggend by die werk kom en op my rekenaar ‘n boodskap kry van ‘n skoolmaat van my wat baie siek is aan kanker,Ons het so 3 jaar gelede ‘n 35 jarige reunie gehou,en tydens die reunie het ek lekker gesels met die persoon wat nou siek is.Na ek die boodskap gelees het ,het my gedagtes begin rondmaal of ek die persoon moet gaan besoek of nie,Ek gaan toe maar aan met van my werk,maar ‘n stem binne my hou aan vir my se dat ek die mens wat siek is, moet gaan besoek,en my emosies begin wipplank met my te ry.Ek het ‘n werk,waar ek elke dag plekke moet gaan besoek en inspeksies doen.Ek besluit toe om eers die werk af te handel,en ry toe na die hospital toe.
    By die hospitaal gekom,moes ek eers vra by navrae waar die afdeling is en watter kamer sy is.Toe ek by die kamer kom was die deur toe en ek moes ook eers oorklere aantrek met ‘n gesigmasker sodat die pasient nie enige kieme ontvang nie.Toe oorval,’n vrees my of ek moet ingaan of nie.Net toe ek wou ingaan in die kamer kom,,n middeljarige vrou uit gestap en gee vir my ‘n glimlag en die deur gaan weer toe.Ek maak toe die deur met ‘n bewende hand oop en kry toe my skoolmaat daar op die bed le, en 2 van haar dogters is ook toe daar.Ek groet haar toe maar, sy weet toe nie wie dit is nie.Sy se toe ek moet moet my neus en mond masker ahaal sodat sy kan sien.Sy herken my toe dadelik,maar die gevoel wat deur my skiet kon ek nie op daardie oomblik beskryf nie,Later voor ek loop,hou ek haar hand toe vas en se vir haar twee dogters dat hulle mooi na hulle ma moet kyk.Voor ek loop se my skoolmaat vir my dat my besoek die hoogte punt van haar week was.

    Dit het my net weer laat besef,dat mens die stemmetjie binne jou,nie moet ignorer nie,maar gehoorsaam,Die Heilige Gees het daardie oggend vir my ‘n opdrag gegee om my skoolmaat te gaan gesoek.
    Groetnis.

    Like

    1. Dankie vir die vertelling Werner, ek is bly jy het God se Stem gehoorsaam. Dit is werklik al wat God van ons vra – gehoorsaamheid aan Sy stem sodat Hy deur ons kan werk. Mooi dag vir jou 🙂

      Like

  2. Hierdie skrywe laat my vanoggend dink aan ‘n boodskap wat ek so 3 weke gelede op my rekenaar by die werk gekry het van ‘n skoolmaat van my wat kanker het.Ek gaan toe aan met my werk,en my emosies begin wipplank met my te ry.’n Stem hou aan hier binne my, en se vir my ek moet die persoon nog vanoggend gaan besoek in die Hospitaal.Ek ry toe later Hospitaal toe en moes toe eers vra waar die Afdeling en kamer van my skoolmaat is.Toe ek voor die kamer staan waarvan die deur toe is,oorval ‘n vrees my en ek begin toe twyfel of ek moet ingaan.Ek moes oorklere aantrek en ‘n gesigmasker aansit sodat die pasient nie onnodige kieme kry nie.Ek gaan toe bewend binne en kry haar op die bed le met 2 van haar dogters daar.
    Sy herken my toe ek my neus en mondmasker ahaal.Die gevoel wat deur my skiet kon ek nie beskryf op daardie oomblik nie.Ek hou haar hand toe vas en sy se later vir my dat my besoek die hoogtepunt van haar week is.Toe ek later loop se ek vir haar twee dogters dat hulle mooi na hulle ma moet kyk.Dit laat ‘n mens net weer besef ,dat jy die stem binne in jou nie moet ignorer nie,Die Heilige Gees het met my daardie oggend gepraat en ek het net geweet ek het ‘n afspraak gehad.
    Groetnis.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s