Begroting

Kom jy nie uit met jou geld nie? Dan is dit dalk nodig dat jy ‘n begroting opstel. Ja, vir jou huishoudelike rekening! Met ‘n begroting kan jy jou vinger meer op jou geld hou, en kan jy ook sien waar die onnodige uitgawes lê. Afhangende van hoe erg jy in die knyp is, kan dit selfs nodig wees om, soos die maand vorder, AL jou uitgawes neer te skryf sodat jy PRESIES weet wat in jou geldsake aangaan.

Dis nie moeilik nie! Jy kan dit op papier doen, of sommer in Excel. Vir my werk Excel die maklikste, want hy doen sommer die berekeninge wat ek een keer ingesit het, klaar.

Jy begin bo-aan met jou inkomste. Alle gelde wat jy ontvang. Jou salaris, die bedrag wat jy dalk van jou man kry vir die huishouding, los geldjies vir los werkies gedoen. Wees BAIE eerlik.Kry die totaal.

By die “Aftrekkings” moet jy ekstra eerlik wees. Skryf jou gelde wat jy MOET uitgee neer. Jou 10e. Spaarbedrag. Elke aftrekorder wat jy in die maand mag hê. Sekuriteit. Selfoon. Bankkoste. Polisse. Jou kinders se sakgeld. Geld wat jy vir die huishulp moet betaal. Huislening. ELKE klererekening. Lewis. Fullhouse. Jou kar-paaiement. Die doktersrekening. DIE BEDRAG WAT JY OORTROKKE WAS VERLEDE MAAND!!

Teen hierdie tyd het jy seker alreeds MEER uitgegee as wat jou inkomste is? 😉

Trek die totaal van die aftrekkings by die totale inkomste af. DIS WAT JY OOR HET OM VAN TE LEEF VIR DIE MAAND! Indien moontlik, hou daarvan ‘n bedraggie uit vir die “wis en die onwis”. Deel dit wat oor is in die aantal weke van die maand. Nou weet jy presies hoeveel jy per week het. Indien nodig, trek daardie bedrag in kontant, dan weet jy presies waarmee jy mag werk.

Aanvanklik sal dit dalk nie moontlik wees om die oortrokke bedrag van die vorige maand totaal uit te wis en steeds geld oor te hê nie, maar dis waar die selfdissipline inkom. Begroot dan daarvoor dat jy doelbewus die oortrokke bedrag kleiner sal maak in hierdie maand. Gee doelbewus minder uit, sodat jy oor tyd die oortrokke rekening heeltemal kan uitwis.

Ja, ek weet dis moeilik. Ja, ek weet dis harde werk. Ja, dit vra selfdissipline.  Maar die resultaat is wonderlik. Voor jy jou kom kry, gaan jy dalk minder oor jou geldsake bekommer, omdat jy ‘n klomp onnodige uitgawes uitgesny het, net omdat jy GEWEET het daar is nie geld daarvoor nie.  En kort voor lank is daar dalk weer, danksy jou nuwe geld-dissipline, ‘n geldjie oor vir ‘n bederf.  Ekself het dit jare gelede begin uit nood en het nog nooit teruggekyk nie.

Sterkte

wasaldaartoorts

Toortsie se Faceboekblad

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Geldsake and tagged , , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Begroting

  1. Kameel sê:

    Het hierdie pad eers met Ken (hy was vrot van skuld toe ons bymekaar uitgekom het,) geloop. Toe met ons seun wat soos Ken geld soos bossies uitgee…. en toe weer met die stilkind en haar man toe daar nie eers kos in hulle kaste was nie. ‘n Laaaaaang swaar pad vir my (want ek kry teenstand) en net so moeilik vir die “skuldiges.” Bly om te sê Ken het met tyd mooi geleer. Ons seun se kop kom reg…. maar die stil kind 😦

    Like

  2. Kameel sê:

    Met tye groot baklei. Ek het die bankkaartjies van die stilkind en haar man gevat, en hulle geldsake vir baie, baie lank behartig. Daar was nie internetbetaling nie, dus elke maand in lang bankrye gaan staan, en so stelselmatig skuld betaal. Elke maand het ek hulle kruideniersware gaan koop, en dit al die pad Johannesburg toe karwei. Kon hulle geen kontant gee om dit self te doen nie…. hulle gee dit uit op ander dinge. Naby die einde van die tyd sê ek sy moet nou saam met my begin kom om kruideniersware te koop sodat ek haar kan leer hoe om te koop. Werk etes vir maand uit… huishoudilike benodighede ens. maak lys, en daar gaan ons. Voor die eerste draai in daardie winkel tel sy ‘n pop op om in die waentjie te sit. “Die pop is nie voor begroot nie, en onnodig, Mikaela het klaar te veel speelgoed,” sê ek vir haar. Teen watse “stubborn” muur loop ek my vas!!!!!!!!!!!!! Die volgende maand gebeur presies dieselfde…. inkopietog eindig met haar wat uit Cresta storm. Uiteindelik is alle skuld gedelg, en gee ek geldsake aan hulle oor. Nodeloos om te sê, die jare daarop lewe hulle van pandjieswinkel tot pandjieswinkel.

    Like

  3. Son sê:

    Ai Kameel. Ek het jare terug besef kredietkaarte en ek is nie maats nie. Nou lewe ek op kontant. As ek nie het nie en nie gespaar het nie, dankan ek doodeenvoudig nie kry nie. Dis erg bevrydend, al is dit soms moeilik, want almal wil net hê mens moet skuld maak.

    Like

  4. En jy skryf neer wat ons eintlik almal al moes doen, nê! En dit bly so maklik met die kredietkaartfding…! Ons het nog nie ‘n bankrekening hier in Lagos nie, so dit bly ‘n kontantding! Ek trek N20 000 (joe!!!!!!) op ‘n slag (dis nou 20 000 Naira = R1242) en daarvan hou ek “boek”. En weet jy hoe lekker is dit eintlik? Ons het vir ons ‘n begroting daargestel vir elke maand, en hoe opgewonde is ons as ons onder die begroting is!! Spaar so voort!!

    Like

  5. Terug pieng: So jy het jou eerste salaristjek ontvang? | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s