Besonderse vroue

As ek ‘n lys moet maak met vroue wat vir my besonders is, gewone vroue, maar besonders, sal my lys lewenslank wees. Ek sal met my eie ma moet begin, en my skoonma. Skoonma het dit nie altyd maklik gehad nie, sy moes maar baie hard werk en haar kant bring, maar sy was altyd positief. Dan is daar nog so baie vriendinne, elkeen op haar eie manier spesiaal. Daar is hulle vir wie ek ‘n sms kan stuur en sê “Bid”, en ek weet dit word gedoen.

Vir wie wil ek dan noem?

  1. Debora. Debora van die Bybel. Sy was ‘n merkwaardige vrou. In ‘n tyd toe vroue geen aansien gehad het nie, was sy die leier van die Israeliete (Rigters 4).  Sy was ‘n profetes.  Die Israeliete het na haar gekom om hulle probleme met haar te bespreek.  Barak sou slegs gaan oorlog voer as sy sou saamgaan.
  2. Tannie Mags du Toit van Ouplaas. Sy moes as jongmeisie haar siek ouers kom verpleeg op ‘n plaas, 45 km van die naaste dorp af. Sy is nooit getroud nie en het later ‘n vriendin versorg en nog later, haar swaer. Vir haar was die reguit pad die enigste pad. Geen ompaaie nie. Geen grys gebiede nie. As jy vir haar haar opinie sou vra, sou sy dit eerlik gee. Sy sou nie kompromieë aangaan nie. Sy het nie met haar geloof op haar mou geloop nie, maar dit was daar, in haar daaglikse optrede. Jy het presies geweet waar jy met haar staan. Ons was baie baie lief vir haar.
  3. My ouma Lenie. Sy is dood toe ek 18 was. Ons het baie naweke daar gaan kuier, dan het ek by haar op die dubbelbed geslaap. Ek het haar ervaar as ‘n sagte mens, geen nukkerigheid nie. Liefdevol. Kind van die Here. Sy het met nr 20 gare die een mooi tafeldoek na die ander gehekel. Die goedheid vanself.
  4. My skoondogter. Sy het in ons lewe kom instap, stil, sonder aanstellerigheid, sonder vereistes van wat sy wil hê en hoe sy dink dinge gedoen moet word. Sy was bereid om uiters baie op te offer in moeilike omstandighede. Sy het vir my gewys sy het staal in haar are, dat sy kan vasbyt en deurdruk as dit nodig is.
  5. My eie dogter. Pragtige kind. Sy verbaas my net keer op keer weer, want sy is beskermd groot gemaak. Tog het sy op ‘n jong ouderdom stoksiel-alleen in Australië gaan kuier. Sy is bereid om haar vakansies op te offer om in ‘n Swart Tuisland geboue te gaan verf, dakke vas te slaan, en ander vakansies agtergeblewe kinders besig te hou. Al is sy soms stil, is sy op haar plek, maar gryp ‘n uitdaging wanneer dit oor haar pad kom.
  6. Kameel. Hoe meer ek haar stories lees, hoe meer staan ek in verwondering. ‘n Vrou wie se lewe radikaal verander het van wat dit voorheen was. ‘n Vrou wat baie kante van die lewe ken en ervaar het. ‘n Vrou met ‘n hart vir kinders wat swaar kry. ‘n Gelowige vrou wat luister as sy drome droom…

Wie is vir jou ‘n formidabele vrou?

Toorts

Toortsie se Faceboekblad

(04/02/2016)  Toe ek hierdie geskryf het, het ek nog net een skoondogter gehad. Ek dink steeds sy is ‘n formidabele vrou wat haar man en kinders fantasties versorg. Intussen het my ander seun ook getrou en noem ek ook haar as een van die besonderse vroue. Ek is lief vir beide my skoondogters.

4 thoughts on “Besonderse vroue

  1. Daar’s so baie, Toortsie – formidabele vroue. Uit persoonlike mileu (my ma), die geskiedenis (Joan of Arc) en ook fiktiewe karakters (ou Scarlett, byvoorbeeld). Te veel om op te noem!

    Like

Gesels saam, asseblief!