Senamè se partytjie

Kameel knip haar oë ‘n paar keer ongelowig; sowat van kleur het sy nog nooit gesien nie.  Vir ‘n oomblik wonder sy of sy nie by ‘n woudkind se partytjie is nie.  Behoort hierdie helder kleure dan nie aan die voëls van die woud nie?  Sy kyk na buite; daar is die see, en die strand, en palmbome.  Dit moet dan die regte partytjie wees.  Hier kom prinses Senamè ook aangehardloop; sy is aangetrek in geel sonskyn, die blou van ‘n seesterretjie, en rooi koraal.  Die kleurvolle prentjie laat Kameel glimlag.  “Geluk met jou verjaarsdag prinses Senamè,”

Prinses Senamè gaan sit by die tafel met sy strandemmertjies vol soetgoed.  Haar maatjies, in wit hempies met die prinses se naam op, drom om die tafel saam.  Hulle lag en gesels so dat hulle mondjies eers stilgemaak moet word voordat hulle vir die prinses kan sing.  Met soet stemmetjies sing hulle eers in Engels, en toe in Afrikaans.  So mooi is dit dat Kameel wens hulle wil dit in al die tale van die wêreld sing… maar daarvoor het die kindertjies nie tyd nie.  Hulle prop hulle monde vol soetgoed, en kyk met groot ogies na al die mooi goed op die tafel.  ‘n Verjaarsdagkoek wat soos Senamè eiland lyk, skulpies en seesterre, grafies en ander vormpies waarmee hulle later op die strand kan speel.

Dan gebeur ‘n eienaardige ding; die kindertjies begin hop, en hop, en hop.  Soos hulle hop word hulle stemmetjies harder, en harder.  Kameel se oë rek; as dit so aanhou hop die kinders netnou dwarsdeur die kasteel se dak, of bars die kasteel se mure van al die lawaai.  Iets sal gedoen moet word en gou ook.  “Die seediere het vir ons lekkergoed wat van seesuiker gemaak is, gestuur.  Dit is dit wat die kinders so laat hop,” sê prinses Senamè se mamma.

Die kasteel het te klein geword vir die kinders; hulle hardloop terug strand toe.  Party het GROOT GROOT brille op hulle neuse, ander hou klein kaboutersambreeltjies oor hulle koppe…. maar almal hop.  En toe sien Kameel ‘n wonderlike gesig; die seediere het uitgekom om met die mensekindertjies te speel.  ‘n Vriendelike seesterretjie wink die kinders nader.  Die oranje seekat hou lang arms na hulle toe uit, en ‘n seeleeu soebat dat die kinders op sy rug moet ry.  Vrolike seeperdjies gallop op die maat van die see, en bokant almal se koppe spring ‘n pienk dolfyn rond.

Die kinders jil, en spring in seekat se wagtende arms.  Hy draai hulle ‘n slag in die rondte, en gooi hulle dan hoog deur die lug.  Voordat hulle grondvat keer seesterretjie, en met haar lang asem blaas sy hulle tot bo-op seeperdjie se rug.  Seeleeu hou daarvan om die kinders te terg; sodra hulle op sy rug sit gee hy onder hulle pad, en lag te lekker wanneer hulle oor mekaar tuimel.  Die kinders probeer regop kom, maar hop mekaar weer onderstebo. Partykeer vergeet die seediere dat mensekinders maklik seerkry, en moet hulle ‘n traan of twee van ‘n kinderwang afvee; maar gou-gou lag die kindertjies weer, en hop heerlik voort.

Annemie die wouddogtertjie, het so lank uitgesien na die partytjie, en geniet elke oomblik terdeë.  Met gretige handjies, en ogies wat soos sterretjies skitter help sy prinses Senamè om haar geskenke oop te maak.  Kameel verkyk haar aan die dogtertjie met haar glimlag wat nog breër as seeperdjie s’n is.  Tussen al die pragtige geskenke is daar die mooiste, mooiste pienk prinsesrok, met ‘n pienk kroon waarin groot diamante skitter.  Prinses Senamè trek die pienk rok aan, en stap met pienk hoëhakskoentjies op die strand rond.  So ‘n mooi prentjie maak sy dat die seediere se asems wegslaan, maar die mensekinders nog lank nie uitgespeel nie, soebat hulle om weer saam te speel.

Toe die son lang skadu’s oor Senamè eiland gooi, is seesterretjie die eerste om haar ogies te vryf; “Ek is moeg,” sê sy, “dit was lekker om met die mensekindertjies te speel, maar nou wil ek huistoe gaan.” 

“Miskien moes ons nie vir die mensekinders so baie seesuikerlekkergoed gegee het nie,” lag seeleeu, “maar ai, dit was darem snaaks om hulle so te sien hop.”  Al laggend gaan lê hy op sy, sy.

“More gaan my arms baie seer wees,” sê seekat, “ek het nooit geweet mensekinders kan so aan ‘n seekat hang nie…. maar watwou, ek het lanklaas soveel pret gehad.”  Hy kyk om hom rond; “Wat het van jou geword seeperdjie?”  Maar seeperdjie is nie meer daar nie.  Die pienk dolfyn gee een laaste sprong, en verdwyn dan onder die water in.

Kameel sug tevrede; dit was ‘n heerlike partytjie!!  Sy is baie bly sy het nie van daardie seesuikerlekkergoed geeët nie…. ‘n hoppende Kameel sou almal laat lag het.

 

8 thoughts on “Senamè se partytjie

  1. Praat van kinderstories skryf!! Kameel, jy is UITSTEKEND! Ek het GEWEET dit sal die fantastieste van al die stories wees. Dankie dankie dankie! En ja, toe lag ek tog maar aan die einde. 🙂

    Like

  2. Het julle ‘n nuwe ‘look’? Moet nog gewoond raak, maar great minds think alike….. Wou al ‘n rukkie terug vir Die Blog ‘n nuwe baadjie aantrek, maar is te besig.
    Shame, dalk voel hy nou afgeskeep as ander Blogs nuwe klere dra 😉

    Like

Laat 'n boodskap na brieweuitdievreemde Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s